Skip to main content

1 Konings 1-2

Salomo word koning te midde van groot intriges

Die boeke van 1-2 Konings het oorspronklik ‘n enkele werk gevorm. Dit is waarskynlik verdeel omdat die lengte daarvan twee boekrolle vereis het. Die verdeling tussen 1-2 Konings is nie gebaseer op ‘n natuurlike breuk in die teks nie. Dit verdeel bv die verhaal van Elia tussen die twee boeke.

1 Konings getuig van Jahwe se teenwoordigheid in Israel, maar wys ook hoe ver ‘n nasie kan val wanneer Hy geïgnoreer word. 1 Konings begin met die afsluiting van Dawid se regering (1011-971 vC – Saul het van 1051-1011 vC regeer), en die wedywering tussen sy seuns Adonia en Salomo om koning te word. Salomo word as koning verkies, en sy belangrikste werk is om ‘n tempel vir Jahwe te bou.

Maar ná Salomo verdeel die eens voorspoedige nasie in twee koninkryke. Die meeste van die konings aan beide kante versuim om Jahwe te volg en laat afgodery toe om te floreer. Tussen-in roep die profete, veral Elia en Elisa, die ongehoorsame konings tot verantwoording, maar met min sukses.

1 Konings dek dus ongeveer 120 jaar van hierdie tydperk tot net ná Agab se regering in 853 vC.

2 Konings sit die verhaal voort deur die Assiriese ballingskap in 722 vC tot en met 586 vC, die Babiloniese ballingskap. Die fokus is op die konflik tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan die Here in die twee ryke, veral onder die konings en priesters, maar ook in die navolging van die volk, wat internasionale gevolge het.

Die verhale van die profete is vervleg met die verhale van veral hierdie konings van Israel en Juda wat meesal die Here nie dien nie. Hulle waarsku die konings dat albei koninkryke op pad is na ‘n ramp. Hulle gebruik veral Deuteronomium om hulle en ook die volk te wys daarop dat God sy volk seën wanneer hulle hul verbond met Hom nakom, en dat hulle vervloek sal word wanneer hulle dit verbreek.

In die noordelike koninkryk van Israel ondersteun die konings egter aanhoudend afgodediens met die onvermydelike Assiriese ballingskap wat hulle as volk vernietig.

In die suidelike koninkryk van Juda vaar die konings net effens beter. Twee konings—Hiskia en Josia—probeer ernstig om die volk van Juda van afgodediens te weerhou (2 Kon 18:3–6; 23:1–25), maar ook hulle hervormings is van korte duur (2 Kon 21:2–9; 23:32, 37) met die onvermydelike Babiloniese ballingskap wat ‘n einde aan hulle pogings bring, hoewel die Here uiteindelik ‘n oorblyfsel terugbring na die beloofde land.

Teks en konteks

Adonia

Adonia speel aanvanklik ’n groot rol in dié twee hoofstukke voordat Salomo die troon bestyg.

Let op hoe Adonia se hoogmoed hom lei om op eie stoom die troon te probeer bestyg, sonder sy pa Dawid se seën of inspraak. Hy maak aanspraak op die troon doodgewoon op grond van sy ouderdom. Daarteenoor word Salomo se troonbestyging moontlik gemaak deur mense wat namens hom optree, heel eerste die profeet Natan (wat ook ‘n boek oor Dawid en Salomo geskrywe het – 1 Kronieke 29:29; 2 Kronieke 9:29), en daarna Batseba, Salomo se ma, en hoe hulle hulle optrede baie spesifiek afhanklik maak van Dawid se uitsprake.

Dit is ook interessant dat Adonia nooit deur sy pa berispe is nie, wat op tragiese wyse hier moontlik bydra tot sy arrogansie. Let ook op hoe min insig hy daarom toon as hy Batseba versoek om namens hom te vra vir Abisag as vrou. Dit kon eintlik net vertolk word as ‘n bedekte manier om ‘n aanspraak op die troon te maak (1 Kon 2:17 – ‘n mens sien hier ooreenkomste met Abner se dwase verbintenis met Rispa in ‘n poging om sy posisie in die Saul dinastie te verstewig [2 Sam 3:6 vv]). Salomo het sy eerste poging tot die koningskap verdra, maar nie dié vergryp nie en bring hom om die lewe.

Dit is ook betekenisvol dat Adonia telkens as die seun van Gaggit aangedui word, wat moontlik op ‘n broeiende konflik tussen Gaggit en Batseba dui. Batseba het egter duidelik die koning se steun, terwyl Gaggit dit nie het nie.

Dawid

Interessant dat Salomo een van die kinders was wat vir Dawid in Jerusalem gebore is (2 Samuel 5:14-15) terwyl Adonia as vierde kind van Dawid in Hebron gebore is (2 Samuel 3:2-5 – Amnon, die oudste, is deur Absalom om die lewe gebring, weens die verkragting van sy suster, Tamar; Kilab, seun van Abigajil, die tweede oudste, lees ons nêrens meer van nie – hy het heel moontlik ook die naam Daniël gehad volgens 1 Kronieke 3:1; Absalom, die derde oudste, is natuurlik vroeër in sy opstand teen Dawid, om die lewe gebring).

Dit is dus ‘n kind wat gebore is in die tyd van sy koningskap oor die hele Israel, wat voorkeur geniet, en nie die kinders wat gebore is in die tyd van sy heerskappy net oor Juda nie (vgl 2 Samuel 5:5). Let ook op dat Adonia spesifiek die manne van Juda na sy kroningsplegtigheid uitnooi!

Dit tref my hoe Dawid uiteindelik aan God die lof gee vir die troonbestyging van Salomo, en dat hy dit met sy eie oë kon sien (1 Kon 1:48). Hy was immers ‘n mentor vir sy kind soos ons in 1 Kronieke gelees het om uiteindelik die troon te kon bestyg.

Salomo

Dit tref my ook hoe Salomo aanvanklik met baie grasie optree teenoor Adonia, deur te belowe dat hy hom nie sal doodmaak nie (1 Kon 1:52-53). Adonia se dwase versoek om Abisag as vrou verseël egter Adonia se lot.

Dit is tragies dat ook Simeï aanvanklik aan Salomo se kant is (1 Kon 1:8), maar uiteindelik deur Salomo doodgemaak word, op grond van Dawid se wrok teenoor hom (1 Kon 2:8 – vgl 2 Sam 16:5-14 en 19:15-23). Sy vroeëre keuse vir Absalom in plaas van Dawid, sowel as die feit dat hy ‘n familielid van Saul was, speel heel moontlik hierin ‘n groot rol.

Let ook op hoe die profesie van die Here oor die huis van Eli voltrek word met die uiteindelik dood van Abjatar (1 Kon 2:27 – vgl 1 Sam 2:27-36; 3:11-14; 22:6-23). Abjatar maak die sleutelfout hier om vir Adonia te ondersteun, waardeur die voorkeur van die Sadokiete as priesterlike huis bevestig word. Hulle skaar hulleself agter Salomo (1 Kon 1:8).

Salomo tree dus met groot wysheid op, selfs voor die gesprek tussen hom en die Here daaroor (hfst 3). Deur Dawid se laaste bevele uit te voer, met die hulp van Benaja, bevestig hy sy koningskap deur van Adonia, Abjatar, Joab en Simeï ontslae te raak.

Ander mense en plekke van betekenis

  • Sunem (rusplek) was in die gebied van Issaskar (Jos 19:18), waar Elisa later in die huis van die Sunamitiese vrou tuisgaan (2 Kon 4:8). Dit speel ook ‘n rol as die woonplek van die Sulammitiese vrou, die bruid in Hooglied (6:13).
  • Abisag se naam beteken: “die vader is op reis” wat moontlik betekenisvol verwys na Dawid se naderende dood.
  • Benaja was die leier van Dawid se Filistynse lyfwag en een van die helde (2 Sam 8:18; 23:20 – vgl sy heldedade oa deur ‘n leeu in ‘n put dood te maak). Sy pa, Jojada, was op ‘n tyd hoëpriester (1 Kron 27:5) en ook betrokke by Dawid se aanvanklike troonbestyging in Hebron (1 Kron 12:23). Daar word hy as ‘n Aäronitiese vors met 3700 man onder hom beskrywe!
  • Reï is vir ons onbekend.

 

Boodskap en betekenis

Die politieke drama wat in hierdie twee hoofstukke afspeel, lei ‘n tydperk van onrus na binne en na buite in wat uiteindelik lei tot die verdeling van die nasie in die ryk van Israel in die noorde en die ryk van Juda in die suide.

Dawid se finale opdragte aan Salomo dui op ‘n oordrag van mag en het die weg gebaan vir die vestiging van Salomo se troon. Maar, dat Salomo ‘n aantal mense doodmaak wat ‘n bedreiging vir sy troon ingehou het, was heel anders as sy pa Dawid se houding teenoor sy eie voorganger, Saul.

Dit laat ‘n mens onmiddellik wonder oor watter effek dit uiteindelik op die nageslag sal hê. Geweld lei tot onbedoelde gevolge…

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar