Jesaja 56-57
Almal is welkom by God
In die volgende ses hoofstukke, Jesaja 56-61, word ons aandag weer gefokus op temas wat reeds in Jesaja 1-2 aan die orde gestel is: God wat verlossing bring vir ‘n volk al het hulle die verbond verbreek. En weereens word die goeie nuus vir die nasies beklemtoon. Daar is ook ‘n pragtige gedeelte in Jesaja 57:14-21 wat teruggryp op die tema van voorbereiding vir God se uitkoms waarvan ons reeds in Jesaja 40 kennis geneem het. Ons lees ook Jesaja 61 wat ‘n ongelooflike belangrike rol gespeel het in Jesus se roepingsverstaan (vgl Luk 4).
Jesaja borduur in Jesaja 56-57 voort op die tema van die nasies en:
- wys hoe ander mense ingesluit word in die gemeenskap van die gelowiges – Jesaja 56:1-8 en
- spreek ‘n skerp oordeel oor lui leiers uit – Jesaja 56:9-12. Dit volg hy op met
- ‘n ongelooflike diepsinnige bespreking van die voorkoms van boosheid in die wêreld, wat manifesteer in die wellustige dien van afgode – Jesaja 57:1-13 en
- ‘n oproep op die regverdiges om gereed te maak vir die uitkoms wat God gaan bring – Jesaja 57:14-21.
Teks en konteks
Jesaja 56:1-8
Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter, soos ons dit reeds in Jesaja 40 aangetref het. Omdat God se verlossing aan die kom is, roep die profeet die volk op om reg te laat geskied in die gemeenskap en self reg te doen.
Regdoen word hier uitgespel as die onderhouding van die sabbat (Jes 56:2 [vir almal], 4 [vir die ontmandes], 6 [selfs vir die nie-Israeliete]), die eerste keer dat ons dit in Jesaja aantref. Dit speel ook ‘n belangrike rol in Jesaja 58:13 as deel van die proses om vreugde in die Here te vind en die land weer in besit te neem.
In Jesaja 66:23 word dit (saam met die nuwemaansfees) as ‘n simbool van die gefokusde aanbidding van God in die bedeling van die nuwe hemel en aarde gebruik. Ek gee ‘n bietjie meer inligting oor die Sabbat in die boodskap en betekenis gedeelte.
Let ook op die verstommende hoopvolle belofte wat oor die nie-Israeliete sowel as die ontmandes (eunugs) uitgespreek word. Nie-Israeliete is baie keer uitgesluit van die volk en die tempel gemeenskap weens die gevaar van afgodsdiens (Esra 9:1; Neh 9:2), hoewel mense soos Rut en Ragab wel weens hulle verbintenis aan God toegelaat is in die volk. Van hier af word almal wat die Here dien volledig toegelaat.
Dieselfde het ontmandes (eunugs) vroeër gegeld (Deut 23:1; Lev 21:20). Ook hulle word egter nou ingesluit in die verbond in taal wat herinner aan wat Johannes veel later in Openbaring sou skryf. Vergelyk bv Openb 2:17: “Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.” (vgl ook Openb 3:5, 12; 20:15; 22:4)
Dit tref my hoe die tempel – met al die nie-Israeliete en al die ontmandes daar – tot ‘n huis van gebed vir al die volke uitgeroep word, wat vreugde aan hulle sal verskaf (Jes 56:7). Dit herinner ‘n mens aan Salomo wat in sy gebed by die inwyding van die tempel gebed as die primêre funksie van die tempel uitgespel het.
Jesaja 56:9-12
Laat alle leiers kennis neem van dié gedeelte! Let op dat Jesaja leiers (herders) oproep om
- te waak oor volgelinge,
- insig te bekom oor die beste pad vorentoe, en
- nie op eie voordeel ingestel te wees nie.
Jesaja 57:1-13
Ek kan nie onthou wanneer ek laas so ‘n helder uitspraak gelees het oor hoekom sleg goed met goeie mense gebeur nie. Kort en kragtig sê Jesaja dat dit “deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf.” (Jes 57:1). Dit is nie hulle eie skuld nie, en dit is ook nie vanweë die Here nie.
Die hoop waarmee hulle sterf word net so kort en kragtig uitgespel: “dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf” (Jes 57:2). God bewaar hulle nie noodwendig van die gevolge van die boosheid nie, maar in die ongeluk wat hulle tref.
Laat my dink aan Jesus se saligspreking: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Na die diep hoopvolle uitspraak word die probleme van goddelose rebelle en wellustige afgodsdienaars uitgespel (wat selfs nie terugdeins van kinderoffers vir Molek [’n oud-Semitiese en ook Feniciese god] nie). Niemand kan hulle van hul eie boosheid red nie, omdat hulle God versaak het.
Let op dat hulle soektog na sin en betekenis vrugteloos is, maar dat die feit steeds nie genoeg is vir hulle om daarvan afstand te doen nie. Die rede? Die gratifikasie van wellus (vers 10) en vrees (vir die afgode se wraak) wat hulle vals gemaak het (11).
Jesaja 57:14-21
Maar vir dié wat in nederigheid hulle aan God onderwerp, is daar uitkoms. Let op dat hulle gereed moet maak vir die uitkoms deur struikelblokke te verwyder.
God word hier geteken as die vergewensgesinde en genesende God, wat sondes nie vir altyd toereken nie, en nie vir altyd toornig bly nie. Anders sou mense dit nie gemaak het nie! Sy krag verander hulle lot, en gee aan hulle vrede, terwyl die goddelose verder sal krepeer in onvrede.
Boodskap en betekenis
Dit is darem ongelooflik dat die Here soveel moeite moet doen om mense te oortuig om die regte ding te doen! ‘n Mens sou dink dat dit ‘n natuurlike keuse moes wees, om die regte ding eerder as die verkeerde te doen! Maar, helaas, dit is nie so nie, wat aandui dat daar so iets soos die sondeval moes wees wat dié geneigdheid van mense om die verkeerde doelbewus te kies, kan verklaar.
Dat die Here ook sy net só wyd gooi dat Hy selfs dié insluit wat vroeër moeilik in die geloofsgemeenskap tereg gekom het, val op. Ons sien een aspek daarvan vervul in die Nuwe Testament waar die eunug Etiopiese finansiële amptenaar sonder enige probleem ingesluit word in die gemeenskap van die gelowiges (Hand 8).
Dit tref my ook hoe belangrik gebed is, en verklaar vir ons Jesus se woede met die tempelreiniging waar hy die handelaars verkwalik het dat hulle dié droom van God in gevaar gestel het (Matt 21:13; Mark 11:17)
Ekskursie oor die sabbat
Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1). Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5). Dit was dus die teken van die verbond (Eks 20:22). Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).
Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie. Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie. Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.
Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom eie wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.
In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27; Joh 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]). Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word en verwerp die eie wette van die Jode.
Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand 15), omdat dit sou beteken dat heidense gelowiges eers Jode moes word, voordat hulle Christene sou raak. Die evangelie sou daardeur ingeperk en eksklusief gemaak word.
Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak nie (Kol 2:19), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei.
Ons vier daarom nie meer Saterdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.
Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Openb 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine.
Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffer in te samel (1 Kor 16:2). Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.