Skip to main content

Josua 5:13-6:27

Die Here self voer die oorlog teen Jerigo

Teks en konteks

Die ontblote swaard van die vors van die weermag van die Here – Jos 5:13-15

Die laaste versterking vir die stryd in Kanaän is dan ook die belangrikste. Die Here self verskyn aan Josua met ‘n ontblote swaard om hom te versterk vir die stryd wat voorlê. Die Here word hier as die “vors van die weermag (leëraanvoerder) van die Here” – śǎr-ṣeḇāʾ-yehwāh – geteken. Dit was ‘n voorreg wat Bileam (Num 22:22-23) vroeër en ook Dawid (1 Kron 21:16) later gehad het, om die Here só te sien.

Hierdie “vors” is waarskynlik dieselfde as die “vors van die vorste” (śǎr-śārîm) wat ons in Daniël aantref en in die konteks met die Here geïdentifiseer word (Dan 8:25). Daniël onderskei hierdie “vors” van die drie ander vorste wat hy noem (Dan 10:20; 12:1), dié van Persië, Griekeland en Israel (Migael). Dit is waarskynlik hierdie vors, of beter gestel Vors, wat met hierdie man in Josua verbind moet word.

Let veral op dat Josua vir dié man vra aan wie se kant hy is, en dié man “Nee” antwoord. Hy is nie daar om kant te kies nie, maar om die Here se wil uit te voer.  Daarom is hy daar, as die een wat die oorlog gaan voer op grond van God se eie besluit.

Dit is ‘n perspektief op God wat reeds ‘n hele paar keer in die Pentateug voorgekom het.  Die Here word reeds in Miriam se loflied ná die tog deur die Rietsee as ‘n “man van oorlog, Jahwe is sy Naam” geteken (vgl Eks 15:3).

Dit is ook waar van die engel wat God voor die volk uitstuur om hulle na die plek toe te bring wat Hy vir hulle reg gemaak het, Kanaän. Dié engel is niemand minder as God self nie, want hulle kry die opdrag om na dié engel te luister, hulle nie teen hom te  verset nie, want Hy sal hulle nie vergewe as hulle teen hom in opstand kom nie, want God het aan hom sy volmag gegee.

As Israel dus goed ag gee op hom en alles doen wat Hy, dws God, sê, sal die Here die vyand van Israel se vyande wees en die teëstander van hulle teëstanders. Sy engel sal voor hulle uitgaan en hulle bring in Kanaän waar al die volke deur die Here self uitgewis sal word (Eks 23:20-23).

Hierdie ontmoeting met die vors van die weermag van die Here is dus ‘n baie belangrike openbaring aan Josua.  Dit verklaar hierdie oorlog as ‘n “Heilige Oorlog”. Dit is nie maar net een volk wat ‘n ander se grondgebied afvat nie. Dit is die Here self wat dit doen.

Daarom is die grond waar hierdie ontmoeting plaasvind heilig en moet Josua – soos Moses vroeër by die brandende doringbos – sy skoene uittrek (Eks 3). Josua word ook nie gekeer om dié vors te aanbid nie, wat die man se goddelikheid onderstreep.

Terloops, dieselfde perspektief geld die Here Jesus, die Ruiter op die wit perd, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy voer oorlog met die swaard van sy mond en trap self die parskuip van die wyn van die toorn van die oordeel van God (Openb 19:11-21). Uiteraard verskil die styl van oorlogvoering, en moet ‘n mens dit metafories verstaan. Maar dit bepaal wel deeglik die toekoms van werklike mense in terme van dié wat ingesluit word in die hemelse Jerusalem en dié wat daarbuite sal bly en vernietig sal word.

Die oorlog teen Jerigo is die Here s’n – Jos 6:1-27

Die mense van Jerigo was voorbereid op die Israeliete.  Hulle het die stad gesluit en verskans. Hulle het alle verkeer in en uit die stad gestop.  Waarmee hulle nie rekening gehou het nie is dat die oorlog nie deur vlees en bloed gevoer sou word nie, maar deur die Here. Die oorlog teen Jerigo was die Here s’n.

Die priesters moes met die verbondsark stap om die stad met die gewapende manskappe voor hulle uit. Dit moes ses dae lank gebeur en die sewende dag, waarskynlik ‘n Sabbatdag, moes hulle daarby ‘n aanvalskreet hard uitskree waarop die mure van Jerigo inmekaar sou stort en die stad en sy mense oorwin kon word.

Israel moes dus wel veg, maar die slag sou reeds gelewer wees met die bonatuurlike ingryping met die ineenstorting van die mure.

‘n Mens tel ‘n ywerigheid by die priesters op wat begin loop nog voor Josua klaar was. Dieselfde geld die manskappe wat sommer met die eerste loop al begin skreeu het, sodat Josua hulle moes keer. Hulle moes nie ‘n geluid te laat hoor voor die laaste dag nie.

Die skrywer van Hebreërs verbind hierdie ywer met hulle vertroue op God: “Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het” (Hebr 11:30).

Met rooidag die sewende dag het die mure geval met die kreet: “Die Here gee die stad aan julle oor!” Die opdrag was dat die stad heeltemal uitgedelg word as ‘n banoffer vir die Here, behalwe vir die prostituut Ragab haar mense. Hulle het verblyf gekry by Israel en sy trou mettertyd met Salmon, en word só in die geslagsregister van Jesus ingesluit. Die mededeling dat Ragab se nageslag nou nog hier bly, dui op ‘n inskrywing nie baie lank ná hierdie gebeure nie.

Josua het ‘n verklaring uitgereik dat Jerigo nie herbou mag word nie met ‘n waarskuwing dat die Here só ‘n man sal straf met die dood van sy oudste en jongste seun. Dit het ses eeue later gebeur (1 Kon 16:34). Daarna word Jerigo weer genoem. Trouens van hulle mense bou later in die tyd van Nehemia aan die mure van Jerusalem (Es 2:34; Neh 3:2). Jerigo is ook in die NT van belang (Mark 10:46; Matt 20:29; Luk 10:30; 18:35; 19:1).

Die verhaal van Jerigo sluit af met die mededeling dat die Here by Josua was en dat dit hom oor die hele land bekend laat word het.

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat die motivering vir die “heilige oorlog” teen die nasies van Kanaän nie in die een of ander besondere kwaliteit van die volk Israel self lê nie. Dit moet ons goed verstaan. Die motivering vir die gawe van die land Kanaän aan Israel lê in die eerste plek in God se belofte aan die vaders.

Dit is duidelik uit die verhale van die aartsvaders in Genesis (Abram – Gen 12:7; Isak – Gen 26:3; Jakob – Gen 28:13). Dit is duidelik in die verhale van die Uittog uit Egipte in Eksodus en Levitikus (Eks. 6:3; Lev 14:34). Dit is duidelik in die verhale van die omswerwinge in die woestyn in Numeri (Num 10:29) sowel as in die afskeidspreke van Moses in Deuteronomium (Deut 1:8). Moses het dit daar op die Moabvlakte, reg oorkant Jerigo, duidelik gestel dat die Here Israel uitverkies het in sy liefde en dat God se primêre rede daarvoor was om só die belofte aan die vaders na te kom (Deut 7:7-8).

Dieselfde boodskap dra die boek van Josua ook. God is nie net die Belofte-gewer nie. Hy is ook die Belofte-houer. Hy kom sy beloftes na. Daarom kan en moet die Israeliete sterk en vasberade wees om die land in besit te neem, want dit is die land: “wat Ek met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het.” (Jos 1:6). Die doel met die Intog en Vestiging in Kanaän is dat hulle die vervulling van die belofte van God kan beleef.

Die “heilige oorlog” lê in die tweede plek in God se besluit om teen die nasies in Kanaän (almal nasate van Gam, Noag se seun) op te tree, soos Moses gesê het: “omdat hulle so goddeloos is. Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf.” (Deut 9:5-6).

God veg daarom aanvanklik alleen (Jerigo), voordat Hy Israel daarna insluit in die volgende veldtogte (Ai en verder). Maar, dit bly altyd onder God se leiding, ook soms teregwysing en veral voorsiening, omdat Hy nie net sy beloftes wil vervul nie, maar ook die afgode en hulle aanbidders wil verwyder uit die land, sodat Hy by sy volk kan bly. Die tema van rus is daarom belangrik. Vergelyk Josua 1:13 met Psalm 95:11 en Hebreërs 4:1-11.

God wil hulle in die land laat rus van die pelgrimsreis deur die woestyn, sodat hulle die kans sou hê om vrugbare arbeid te kan doen in die uitvoering van sy opdrag in Genesis 1-2 om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. Hulle moes die rus in die land ook kon geniet sonder die bedreiging van die ander nasies. Vgl 2 Kronieke 14:6 waar Asa die geleentheid gebruik om vestingstede te bou in die tyd van rus wat die Here gee.

Kanaän se afgodediens en onsedelikheid het hulle dus die land gekos (Gen 15:16; Lev 18:24-30: “Hulle het die land verontreinig en Ek het die land daarvoor gestraf sodat hy sy bewoners uitgespoeg het.”). Reeds met die verhale van die aartsvaders is huwelike met Kanaäniete immers al verbied om die suiwerheid van hulle godsdiens en gedrag te beskerm (Isak bv in Gen 24).

Maar dié rede is sekondêr aan die belofte, want die Here het reeds in die woestyn gesien hoe hardkoppig die Israeliete was. Hulle lojaliteit aan God was telkemale onder skoot.

Daarom beklemtoon die Here reg aan die begin van die veldtog van Josua om die land in te neem dat hulle nougeset aan Hom gehoorsaam moet wees. Dit is slegs as hulle doelgerig God se wet nakom dat hulle nie in die strikke van die afgodery en onsedelikheid van die nasies van Kanaän verstrik sal word nie.

Aan die einde van die veldtog, as almal hulle plek in die land gekry het, herhaal Josua hierdie eise van die Here en lei die volk in die hernuwing van die verbond met die Here by Sigem. Hulle: “moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie, dat julle nie by hierdie nasies kom wat nog tussen julle woon, en die naam van hulle gode aanroep en in hulle naam ’n eed aflê en hulle dien en voor hulle buig nie.” (Jos 23:6-7).

Hulle moes waak teen enigiets wat die suiwer liefde vir die Here, en vir Hom alleen, sou bedreig. Dit het beteken dat hulle op geen manier met die nasies wat nog onder hulle gewoon het moes ondertrou het nie, want dan sal hulle: “vir julle strikke en wippe word, swepe op julle rûe en skerp dorings in julle oë, en uiteindelik sal julle verdwyn uit hierdie goeie land wat die Here julle God aan julle gegee het.” (Jos 23:6-13).

Die mure van Jerigo

Deur die loop van die twintigste eeu is daar uitvoerig opgrawings gemaak om die verhaal van Jerigo histories te probeer verifieer. Julle sou waarskynlik kennis geneem het van die kontroversie wat daaroor bestaan, en moontlik ook verwarrende menings daaroor gelees of gesien het.

Daar is weliswaar min data uit die opgrawings van Jerigo beskikbaar oor hierdie spesifieke tyd, maar tog heeltemal genoeg om te kan bewys dat Jerigo in die 14de eeu vC bewoon was met die Intog en Vestiging van Israel, en dat die Bybelse verhaal daarom nie argeologies of histories gesproke ‘n legende is nie (Negev: The Archaeological encyclopedia of the Holy Land).

Argeoloë erken dat die min data oor die 14de eeu vC onder andere is weens die talle opgrawings daar. Jerigo bestaan immers meer as 10 000 jaar en daar is baie opgrawings al daar gedoen. Daar is ook ‘n pad wat gebou is oor ‘n deel van die ruïnes van Jerigo. Dit het bygedra tot die vernietiging van data uit daardie tyd.

Dat daar dus min getuienis gevind kon word vir die bestaan van stadsmure uit die tyd van Josua is begryplik, gegewe die effek van erosie, sowel as die verbod van Josua op enige nuwe bouwerk op die ruïnes van Jerigo (Jos 6:26). Dit het gegeld tot in die tyd van Elia in die agtste eeu vC (1 Kon 16:34; 2 Kon 2:4 – vgl Achtemeier), hoewel die bouwerk uit hierdie tyd ook nie in die opgrawings opgetel word nie.

Ten spyte van die geweldige erosie wat daardie tyd in die opgrawings kenmerk – wat natuurlik die interpretasie bemoeilik – is daar heeltemal genoeg gegewens om Jerigo as bewoonde stad in die tyd van die Intog te kan plaas. Daar is bv getuienis van bouwerk wat aan ‘n nedersetting uit daardie tyd moes behoort, sowel as potskerwe, en reste van geraamtes.

Die argeoloog Garstang het daarom reeds vroeg in die twintigste eeu uit sy navorsing die datum van die oorwinning oor Jerigo op nie later as 1385 vC gestel nie, ‘n datum wat perfek by die Bybelse datering inpas. Dit is deur die moderne argeoloog Bryant Wood ‘n dekade gelede bevestig wat die vorige kritiek daarop van bv Kenyon in die vyftigerjare as ongeldig bevind het (Mitchell en Karen in hulle artikel “Jericho” van 2003 in die Holman Illustrated Bible Dictionary).

Wat dus seker is, is dat die storie van ‘n Intog deur die volk Israel ‘n historiese basis het. Argeologiese gegewens te same met ander buite-Bybelse historiese gegewens bevestig dit.

Ek het vroeër geskryf oor die voorkoms van die naam Israel op die Merneptah stele van ongeveer 1220 vC sowel as die onlangse fonds van ‘n standbeeld waarop die naam van Israel ook voorkom en wat uit die laat 15de eeu vC dateer. Ook hierdie gegewens gee historiese ondersteuning aan die verhale wat die Bybel oor die tyd van Moses en Josua vertel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…