Skip to main content

Spreuke 6:1-19

Leef met oorleg

Spreuke 6:1-5

Die pa moedig sy seun in die tweede plek aan om nie borg te staan vir vreemdes nie, dws mense wat jy nie ken nie (vgl Spr 11:15; 20:16). Trouens, dit geld borgskap vir enige skuld, veral waar jy nie het om te betaal nie (vgl Spr 22:26-27).

Dit gaan hier oor die mag wat ander dan oor jou kan uitoefen. Met vreemdes is dit boonop mense waarvan jy geen benul het van hulle karakter en motiewe nie. Die pa wil hê dat sy seun vry moet wees van verpligtinge wat moontlik vanweë ander se dwaasheid op hom gelê kan word.

En as dit wel gebeur het dat jy vir vreemdes borg gestaan het? Wel, doen alles in jou vermoë om daaruit los te kom! Soebat, pleit, selfs al kos dit jou ’n nag se slaaploosheid. Sorteer dit uit! Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens iemand anders iets kwytskeld of help met ’n geskenk nie. Maar, daarvoor geld ander reëls (vgl Spr 3:27-28).

Spreuke 6:6-11

Die pa waarsku in die derde plek teen luiheid, ’n deurlopende tema in Spreuke (vgl Spr 10:4; 19:24; 20:4; 21:25; 26:16; 30:25; vgl ook Pred 4:25). Die pa gebruik hier die voorbeeld van die miere wat die enigste tyd benut wat daar vir hulle is om hulle kosvoorraad reg maak. Dit is tydens die oestyd van die boere in die somer, wanneer daar kos op die dorsvloere beskikbaar is vir die miere. Dit is al tyd wat die miere het om dit te doen, sodat hulle kos het wanneer daar niks meer op die lande is nie. En hulle doen dit sonder iemand wat hulle voorsê.

Daar is dus maar net een manier om gebrek in ’n mens se lewe te voorkom. Dit is deur harde en eerlike werk. Dit leer die miere ons.

Dit is een van die beginsels wat Stephen Covey gebruik het in sy bekende Law of the Farm. Jy kan nie ’n oes verwag as jy nie deeglik beplan nie, en dan die harde werk insit van voorbereiding, bemesting, plant, besproeiing, voeding, onkruidbestryding, beskerming teen peste ensomeer. Geen oes is moontlik sonder die harde werk wat dit voorafgaan nie.

Die pa waarsku sy seun dus teen luiheid. En hy moenie wag dat sy pa vir hom opdragte gee om te werk nie. Hy moet sy werk vanuit innerlike oortuiging doen. Fluksheid sal hom vrywaar van gebrek. Luiheid is dwaasheid. Daardeur bewerk jy jou eie ondergang.

Soos Peterson vers 10-11 vertaal: “A nap here, a nap there, a day off here, a day off there, sit back, take it easy—do you know what comes next? Just this: You can look forward to a dirt-poor life, poverty your permanent houseguest!” (The Message).

Spreuke 6:12-15

Die pa waarsku hom in die vierde plek teen onreg, om byvoorbeeld nie uit twee monde te praat nie. Om nie een ding te sê, maar dan ’n heel ander ding te bedoel nie. Sulke misleiers is deugniete en kwaaddoeners. Hulle bewerk onheil en onreg. Hulle saai twis en tweedrag. Hulle valse woorde kom duidelik uit valse harte.

Daar is egter meer. Deur sulke mense as deugniete – bĕliyyaʿal in Hebreeus – te beskrywe, verbind die Bybel hulle onreg nie net met ’n inherente boosheid (vgl Spr 16:27) of bose gedrag nie (Eli se twee seuns word in 1 Sam 2:12 so beskrywe), maar met die Bose self.

Dit sien ons ook in die NT waar die Satan as Belial (Griekse vertaling van bĕliyyaʿal) beskryf word. Deugniete word dus dienaars van die Duiwel. Dit is waarom gelowiges nie in geloofsgemeenskap met sulke ongelowiges mag verkeer nie (2 Kor 6:15). Daar is geen gemeenskap (fellowship) tussen Christus en Belial nie. Ons durf daarom nie self deelgenote van ’n gemeenskap van deugniete wees nie. Dit kompromitteer ons gemeenskap met Christus.

Spreuke 6:16-19

Die pa waarsku hom in die vyfde plek teen die gevaar dat hy kan vasval in eiegeregtigheid. Dit is een van die talle numeriese spreuke in die boek, waar ‘n lysie gemaak word van dinge wat gedoen moet word of in hierdie geval juis vermy moet word.

Let op hoe daar weereens op liggaamsdele gefokus word om die verkeerde gedrag te illustreer: oë, tong, hande, hart, en voete.

Let ook op hoe hierdie dinge verband hou met die wet van God, die Tien Gebooie, en hoe hier uiterlike en innerlike dinge genoem word, houdings sowel as gedrag: trotse hovaardige oë (5de gebod), ’n leuenagtige bedrieglike tong en hande wat onskuldige bloed vergiet (6de gebod), ’n hart wat onheilsplanne beraam (7de gebod), voete wat haastig na die kwaad toe loop (8ste gebod), een wat as valse getuie leuens uitryg (9de gebod) en tussen broers tweedrag saai (10de gebod).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…