Skip to main content

Esegiël 13

‘n Woord teen die profete

Esegiël spreek in dié hoofstuk twee groepe profete aan: “Mense wat as profete optree uit hulle eie verbeelding” (13:2), en “die vroue van jou volk, dié wat as profete optree uit hulle eie verbeelding” (13:17). Die vroue wat hier genoem word, was boonop moontlik eerder towenaresse, omdat hulle met toorbande en sluiers teen betaling geprofeteer het (13:18-19).

Hierdie valse profete was waarskynlik profete onder die ballinge waar Esegiël homself bevind het, sowel as dieselfde profete waarteen Jeremia homself en sy boodskap ook moes verdedig (Jer 23; 28; 29).

Die Here roep Esegiël op om aan hulle die ellende te verkondig wat Hy oor sulke mense sal gebied. Die ellende sluit in dat hulle hulle vertroulike posisie sal verloor by die volk, sowel as om lid te wees van die Godsvolk (“nie opgeskryf word in die boek van Israel nie”), en op die koop toe ook nie die terugkeer en herstel van Israel sal meemaak nie (13:9).

Die Here maak hier ‘n baie belangrike punt. Hy praat nie maar net deur mense se eie gedagtes en verbeelding nie, maar deur die gesigte en woorde wat Hy gee sowel as die simboliese aksies waartoe Hy opdrag gee. Van die maatstawwe wat ‘n mens kan aanlê om agter te kom of profesieë werklik van God kom, óf net uit die verbeelding van mense, is of dit:

  • in lyn is met vorige bevestigde boodskappe van die Here (bv. die straf en seën van Deut., sowel as die profesieë oor die ballingskap wat op hierdie stadium deel van ‘n hele korpus van profetiese boeke uitgemaak het – die hele geopenbaarde Woord van die Here vervul uiteindelik daardie funksie),
  • bewaarheid word in die geskiedenis en omstandighede soos dit ontvou,
  • slegs uiterlike vertoon gebruik (toorbande, sluiers – vgl. Eseg 13:18),
  • ter wille van eie gewin gedoen word (vgl. Eseg 13:19 – “’n paar handevol gars en ‘n paar stukkies brood”),
  • mense wat God se wil wil doen, moed laat verloor, óf die teenoorgestelde bewerk, dat mense wat goddeloos lewe aangemoedig word om met só ‘n lewe aan te hou en nie aan te dring daarop dat hulle tot bekering kom nie (Eseg 13:22). Hoe verskriklik!

Die Here se probleem met die valse profete is drieërlei:

  • Die profete is soos jakkalse wat aas wat daar te aas is tussen die puinhope van wat van die volk en hulle lewe oor is (13:4). Hulle probeer munt slaan uit dít wat op tragiese wyse met die volk gebeur.
  • Hulle het aan die een kant nie die werk gedoen wat God van hulle eintlik verwag het nie, en dit is om ‘n muur om hulle te bou sodat Israel staande kan bly in die oordeelsdag wat kom nie (13:5).
  • Maar, belangrik, hulle het aan die ander kant die muur afgewit wat besig was om om te val (13:11). D.w.s., toe die skrif aan die muur was, het hulle, by wyse van spreke, die skrif toegewit en die volk gepaai met die boodskap van vrede … terwyl die stortreëns, haelstene en stormwinde aan die losbreek was teen die volk.

Daarom bring die Here ellende oor die profete, sodat nie net hulleself nie, maar ook die volk sal kan agterkom dat die Here Here is, dat sy woord geldig is, en dat sy woord sal uitrig waartoe Hy dit uitstuur. Die valse profete sal in die skande kom oor hulle gesigte: “oor hoe goed dit sou gaan terwyl dit nie goed sou gaan nie.” (13:16).

Die Here sal die volk uit die profete se mag verlos: “Hulle sal nie meer ‘n magtelose prooi in julle hande wees nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (13:21).

Boodskap en betekenis

Om te profeteer, is nie iets wat uit ‘n mens se eie gedagtes of verbeelding voortspruit nie. Profesie is volgens Esegiël 13 die woorde en insigte wat God gee aan die een kant met die doel om mense moed te gee om sy wil te doen. Aan die ander kant het dit ten doel om goddelose mense van hulle verkeerde lewe te bekeer sodat hulle hul lewens kan behou.

Dié woorde móét dus in lyn wees met die vorige openbarings van God – vir ons geld die hele Bybel as dié openbaring – en móét op ‘n manier, al is dit gedeeltelik, of al is dit selfs na ‘n lang tyd, bewaarheid of bevestig word in die konkrete geskiedenis.

Geen wonder dat Paulus profesie so hoog aanskryf in die gemeente – die uitleg van God se woord vir die lewe van die gemeente wat: “geestelik opbou en bemoedig en vertroos” (1 Kor. 14:3). Maar dat Petrus ook waarsku dat geen profesie in die Skrif op grond van “eie insig reg uitgelê (kan) word nie.” (2 Pet. 1:20). En dít kan slegs onder die leiding van die Heilige Gees gedoen word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar