Skip to main content

2 Konings 16; 2 Kronieke 28

Agas gee die verdorwenheid vrye teuels in Juda en is totaal ontrou aan die Here

Agas, Jotam se seun, struikel egter voort van een krisis na die volgende en word nie net verlei deur die Baälgodsdiens nie, verbrand nie net van sy kinders as offers nie (Hiskia, sy seun en die volgende koning, het dit gelukkig vrygespring), maar tree ook dom-astrant op teenoor vier van sy buurvolke – Arameërs, noordryk van Israel, Edomiete en Filistyne – en word op groot skaal deur elkeen van hulle verneder, ook deur die Assiriërs met wie hy oplaas ’n bondgenootskap probeer sluit.

Teks en konteks

Let op die rol wat die Here speel in die ellende wat hulle in dié tyd tref.

Aan die een kant bring die Here die ellende oor hulle in die konflik met die Arameërs (koning Resin – Jes 7:1) wat van Agas se mense as krygsgevangenes na Damaskus wegvoer. Dieselfde gebeur in die oorlog met koning Peka van Israel wat nie net krygsgevangenes neem nie, maar ook groot hoeveelheid buit afvat en na Samaria bring.

Maar aan die ander kant bestuur die Here ook die effek van die ellende, deur ’n profeet te stuur, in dié geval Oded, om die impak op die volk te versag. Oded spreek die noordelike ryk se leiers aan dat hulle oorboord gegaan het en ’n slagting aangerig het, “met ’n woede wat ten hemel skrei.” Hy keer dat hulle slaag met hulle poging om ’n slawevolk van die Jode van Juda en Jerusalem te maak. Hy keer dat die volk van Israel só eintlik teen hulle “broers” van Juda sowel as teen God sondig.

Daarom raai Oded hulle aan om die gevangenes terug te neem, wat die leiers toe inderdaad doen. Almal het afstand gedoen van die buit – nogal onder toesig van die leiers – en die gevangenes onder hulle sorg geneem, klere gegee, voorsien van skoene, kos, water, salf vir die wonde – daar staan letterlik dat hulle persoonlik, “salf aan die wonde gesmeer” het – en dié wat nie kon loop nie op donkies gehelp en hulle persoonlik teruggeneem het na hulle grondgebied.

Watter ongelooflike deernisvolle verhaal uit die skat wat die Here vir ons laat opteken het!

Trouens, as ons nog dieper op dié verhaal ingaan, sien ons dat God die ellende in die eerste plek wou voorkom het! Hulle moes Hom net vertrou en doen wat Hy vra. Dit lees ons in Jesaja 7 (volgende hoofstuk aan die beurt) waar die profeet Jesaja eintlik dié krisis met Resin en Peka probeer voorkom het deur Agas op te roep om die Here te vertrou. Dan sou niks van die ellende hulle tref nie.

Die woord van die Here het egter geen impak gemaak op Agas nie. Jesaja skryf dat Agas en sy volk baie bang was: “Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe van die wind.”

Maar God se boodskap aan Agas: “Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie!” het geen effek gehad nie. Agas slaan selfs die aanbod van die Here om ’n teken in die wind, met die vroom verskoning dat hy niks sal vra nie: “Ek sal die Here nie tart nie!” Waarop die waarskuwing van die Here in werking tree: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie,” en die Jode weggevoer word.

Die teken wat die Here toe wel gee, is een wat weerklink het tot in die Nuwe Testament: “’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”

Die grootste probleem van Agas kom egter wanneer hy ’n ooreenkoms met die Assiriërs wil aangaan om sy bas te red van die onvermydelike volgende konflik teen die Edomiete en Filistyne, gegewe sy dom-astrantheid. Dit boemerang deurdat koning Tiglat-Pileser III van Assirië téén hom optrek – iets wat Jesaja vir hom voorspel het (Jes 7:17-25). Dit plaas sy seun Hiskia, wat hom kort hierna opvolg, en die volk van Juda , onder geweldige druk.

Boodskap en betekenis

Die opsomming van Agas se regering word met die ontstellende woorde weergegee: “Agas het die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee en hy was ontrou aan die Here.” Sy eie ontrouheid ken ook geen perke nie. Hy aanbid die gode van sy vyande met die redenasie dat hulle tog sterker as God moet wees, want hy is deur die Arameërs oorwin! En hy sluit die tempel sodat niemand daar kan ingaan om God te aanbid nie.

Sy oupa Ussia het oortree in die tempel, sy pa Jotam was versigtig om selfs die tempel te betree (’n mens kan oortree ook met betree vertaal in 2 Kron. 27:2) en hulle kleinseun en seun Agas sluit die deure van die tempel dat niemand daar kan inkom nie. Hoe verskriklik dat “God se teenwoordigheid” só geminag word en van die gewone mense verwyder word, ten minste in terme van die plek wat Hy gekies het om Hom mee te assosieer.

Agas is dus ’n tragiese figuur wat vir altyd as simbool staan van hoe dinge nie gedoen moet word nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…