Skip to main content

Psalm 142

Lei my uit gevangenskap dat ek u Naam kan loof

Psalm 142 word – soos met Psalm 57 – verbind aan ‘n noodsituasie uit Dawid se lewe, albei kere met verwysing na die tyd toe hy vir sy vyande in ‘n grot skuiling gesoek het.

Ons lees in 1 Samuel van twee sulke geleenthede. Psalm 142 verwys waarskynlik na die eerste geleentheid by die Adullamgrot waarvan ons lees in die vorige hoofstuk, 1 Samuel 22. Psalm 57 verwys waarskynlik na die tweede gebeure in die skuilplekke by En-Gedi waar Dawid in die omgewing van die Klipbokrotse in ‘n grot by ‘n skaapkraal geskuil het, waarvan ons in 1 Samuel 24 lees. Dit is die geleentheid waar Dawid ’n stukkie van Saul se mantel afgesny het, en dit Saul tot trane beweeg het.

Ter wille van agtergrond: net na Dawid van die Filistynse koning Agis van Gat ontsnap het, is Dawid na die Adullamgrot toe, alles in ‘n poging om beide die Filistynse gevaar as dié van Saul te vermy. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe. In hierdie tyd het ‘n klomp mense wat in die moeilikheid was, byvoorbeeld mense wat baie skuld gehad het, en ander wat doodgewoon verbitterd was oor een of ander saak, hulle by hom aangesluit. En Dawid het hulle leier geword. Hulle was ongeveer vier honderd man sterk.

Dit is ook in dié tyd dat Dawid sy ouers in die sorg van koning Moab in Mispe gelaat het, terwyl hy in die bergskuiling, die grot, gebly het. Op aandrang van die profeet Gad het Dawid egter uiteindelik sy selfopgelegde ballingskap opgesê en weer terug getrek na Juda.

Iets van die verandering in sy gesindheid sien ‘n mens ook in die wyse waarop die Psalm van vrees na versekering skuif.

Teks en konteks

Dawid is in hierdie Psalm baie bewus van die feit dat sy hulp net van die Here af kom. Daarom roep hy na die Here en pleit om genade. Roerend stort hy sy klag voor die Here uit en maak sy nood aan God bekend.

Let op hoe hy staatmaak op die feit dat wanneer sy gees hom begewe en hy dreig om alle moed te verloor, dit juis sy wete is, dat God sy pad ken, en weet wat hy moet deurmaak, wat hom staande hou. Dit is iets wat jy vandag ter harte kan neem. God weet presies waardeur jy gaan in jou lewe, selfs al swik jou knieë op die pad wat jy op die oomblik moet loop.

Dus, al is daar op dié pad ‘n strik vir Dawid gespan – hy skuil alreeds vir Agis en Saul in die grot – en al sien Dawid geen uitkoms nie, want niemand by óf Agis óf by Saul is hom goedgesind nie, weet hy dat hy die Here om hulp kan vra, want die Here is sy skuilplek.

Dit is dus wat ons by Dawid leer.

Die grot is uiteindelik van nul en gener waarde as beskerming nie. Dit is net die Here wat sy ware skuilplek is en hom kan beskerm.

Let op hoe Dawid verby die aardse stutpale vasgryp aan die ewige grond van God self: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.” Soos Allen hieroor skrywe van mense wat dit ter harte begin neem: “The land became transparent, and through it they could see with the eyes of faith the divine ground on which they stood and thrived.

Dawid se opmerking: “As ek na regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie.” ( vers 5 in die 2020-vertaling – “Ek soek hulp, maar niemand wil help nie,” in die NAV), verwys waarskynlik na die situasie in ‘n regsgeding waar die getuies regs van die aangeklaagde of verweerders gestaan het. Dawid gebruik dit nou as metafoor om te wys hoe benard sy situasie is. Daar is niemand wat vir hom intree nie, niemand wat vir sy saak opkom, niemand wat hom (en die manne by hom in die grot) bystaan en sy saak saam met hom beveg nie.

Let op hoe hy sy eie onbenulligheid voor die Here bely, maar tog staatmaak daarop dat die Here groot dinge kan doen as Hy hom uit sy gevangenskap sal lei. Dan sal hy nie net die Here se Naam kan loof nie, maar ‘n begeleidende rol kan speel daarin in die geloofsgemeenskap: “Regverdiges sal om my saamkom as U aan my goed doen.” (vers 8 in 2020-vertaling). ‘n Hoop wat in die lig van 1 Samuel 22 selfs verstote mense insluit.

Dawid hoop dus daarop dat God hom sal red ter wille van die getuienis wat dit in die geloofsgemeenskap van God se goedheid sal kan oordra.

Boodskap en betekenis

Ons leer uit hierdie Psalm dat die verlossing wat God uit die “grotte” van die wêreld gee, altyd moet uitmond in lof aan God sowel as in die bevestiging van sy ingrype in die lewe van die geloofsgemeenskap. Dit is ten diepste die doel van die getuienisse wat God lewer in ons lewe, maak nie saak hoe klein of groot die grot is waaruit Hy ook vir ons lei nie. Hy maak Homself groot en gee die geloofsgemeenskap moed daardeur.

Daarom kan en mag ons ook saam met Dawid dié gebed bid, in watter situasie ons ook al is, en wag dat God antwoord, soos en wanneer Hy wil. En soos Dawid, kan en moet ons ook daarvan getuig in die vergadering van die gelowiges, wanneer Hy ons uitlei uit dié dinge wat ons aan bande lê. Sulke getuienisse sal altyd tot God se eer en tot die versterking van die geloofgemeenskap wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar