Skip to main content

Hosea 11:1-11

My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My

Dis interessant dat die verhouding van God en Israel as ‘n huweliksverhouding – soos vroeër in die boek – hier as ‘n verhouding tussen ‘n pa en sy seun geteken word. Daarmee word die moontlike seksuele konnotasies van die vrugbaarheidsgodsdienste vermy deur dit duidelik te maak dat dit ‘n metafoor is. Net soseer soos die huwelik as metafoor gebruik kan word vir die Godsverhouding, só ook die verhouding tussen pa en seun. Dit is dus in kontras met die Baälgodsdiens wat van Baäl en Asjera in ‘n huweliksverhouding gepraat het, en daarmee ‘n menslike godsbeeld geskep het in stryd met die God van Israel wat Homself as “Ek is wat Ek is” openbaar het wat ‘n ander wese of essensie as mense het: “Hy is God en nie ‘n mens nie.”

Teks en konteks

In Eksodus 4:22 was die boodskap aan farao: “Israel is my oudste seun.” Dit was die aanleidende oorsaak vir die Uittog uit Egipte, soos Hosea hier verklaar: “Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” (BDV).

In die NT word dié vers met die kort verblyf van Jesus saam met sy ouers in Egipte verbind, toe die Here hulle opdrag gegee het om die toorn van Herodes te vermy deur ‘n tyd daar te gaan bly voordat hulle in Nasaret hulle gaan vestig het (Matt. 2:15). Jesus word daarmee eintlik in kontras met die volk in die 8ste eeu geteken, want anders as hulle, het Jesus gedy in die verhouding met God en aan Hom gehoorsaam gebly tot die einde toe.

Hosea draai egter nie doekies om in sy beskrywing van die frustrasie wat die Here beleef het in sy verhouding met Israel nádat Hy alles in sy vermoë gedoen het om hulle status van ‘n slawevolk in Egipte na dié van ‘n vry en selfstandige volk in hulle eie land verander het. Hulle wou egter nie erken dat God hulle versorg het nie, en het hulle lojaliteit verskuif na die Baälgodsdiens toe.

God se straf is die ballingskap weens hulle keuse om onderdanig aan Assirië te word. Dié juk waaronder hulle hulleself geplaas het met die alliansie met die Assiriërs sal nie net hulle selfstandigheid wegneem nie, maar hulle weer die status van ‘n slawevolk laat inneem.

Die Here se band met Israel word egter nie só maklik verbreek nie. Sy worsteling met die gevolge vir sy volk van die selfopgelegde Assiriese juk waaronder hulle ingeskuif het, openbaar sy diep liefde vir hulle: “Hoe kan Ek jou prysgee … My hart is diep ontroer in My, die deernis brand in My.” (BDV).

Die Here kry dit nie oor sy hart om hulle te oordeel soos Hy met die mense van Adma en Sebojim gedoen het in die tyd van Abraham nie, waar hulle saam met Sodom en Gomorra omgekom het weens die selfdegeslag gewelddadigheid van hulle gemeenskapslewe (Gen 19; Deut 29:23).

Daarom verkondig Hosea dat die Here nie uiteindelik heeltemal vernietigend wil optree teen sy volk nie. Hy is immers nie so gewelddadig soos die volk self in hulle onderlinge gemeenskapslewe nie: “Ek is God, nie ‘n mens nie – die Heilige in jou midde; Ek sal nie in woede kom nie.” (BDV) Daar sal ‘n oorblyfsel bly wat die Here sal volg en sal terugkom wanneer die Here soos ‘n leeu vir hulle brul (vers 10).

En ons weet dat dít wel gebeur het. Aanvanklik het Assirië mense van ander nasies gebring om hulle in die plek van die Israeliete te vestig in Samaria en die res van die noordryk, soos ons later gaan lees (2 Kon 17). Toe dinge nie goed gaan nie: “omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie,” het die koning ‘n aantal weggevoerde priesters laat terugkom om die mense te leer.

Dit het egter nie regtig die gewenste uitwerking gehad nie, en die gemengde bevolking het ‘n gemengde godsdiens gehandhaaf vir die volgende paar eeue. Daarom dat Jesus vir die Samaritaanse vrou, een van die afstammelinge van dié mensegroep, sê: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh 4:22).

‘n Deel van die noordryk het egter op verskillende stadiums hierna by die suidryk aangesluit:

  1. Sommige het alreeds in die tyd van Asa uit Efraim, Manasse en Simeon na die suidryk oorgekom toe hulle sien dat die Here met hom was, vyftien jaar na sy regeringstyd ‘n aanvang geneem het, dws in 895 vC (2 Kron 15:9). Ons sien weer ‘n verwysing na hulle in die tyd van Hiskia (2 Kron 30:25) en in die tyd van die terugkoms uit ballingskap in 539 vC (1 Kron 9:3).
  2. Sommige van die agtergeblewe noordryk mense is deur die Judese koning Hiskia uitgenooi om die Paasfees te kom vier so ‘n twee dekades ná die wegvoering in ballingskap in 722/1 vC. Dié mense uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het juis nie mooi geweet hoe hulle hulself moes reinig vir die Paasfees nie, maar hulleself geskaar by die mense van die suidryk!
  3. Direk ná die wegvoering in ballingskap van die suidryk in 586 vC het daar ook ‘n aantal mense van die noordryk wat verstrooi is met die eerste ballingskap in 722 vC by die oorblyfsel in Jerusalem in die tyd van Jeremia kom aansluit (Jer 40:12), hoewel dit ‘n tyd van chaos was en baie van hulle toe doodgemaak is en ‘n verdere uittog na Egipte plaasgevind het.
  4. Die edik van Kores van Persië in 539 vC dat die Jode kan terugkeer het ook geïmpliseer dat enigiemand in sy breë wêreldryk wat met die Joodse volk geassosieer was, kon terugkeer: “Enigeen… wat aan sy volk behoort… enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef…” (Esra 1:3-4).

Boodskap en betekenis

Ons sien hier die verdere ontwikkeling van die idee van die oorblyfsel. Dit verkondig dat God se liefde en sy genade groter is as sy oordeel. Hy is nie soos die mense wat voor die voet vernietig nie. Daarvoor is Hy te anders, te heilig, te vol van liefde en deernis. Dit is ‘n idee wat deur Jesaja, sy tydgenoot, en deur Jeremia en Esegiël verder ontwikkel sal word en in die NT as deel van die Godsbewussyn hanteer sou word, soos Paulus bv in Romeine 9-11 sou argumenteer.

Daarin lê ook die hoop van die evangelie opgesluit soos Jesus dit in die evangelie van Johannes uitgedruk het: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (Joh 3:16). Dít is ‘n belofte wat uiteindelik dus nie net vir die Jode van belang was nie, maar vir elke mens regoor die wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar