Skip to main content

Josua 24

Die leiers en die volk word aan God self verbind in ‘n verbondshernuwing

Teks en konteks

Dit is duidelik dat dieselfde leiers as in Josua 23 in hierdie laaste toespraak van Josua teenwoordig is. Die hele volk word egter saam met hulle in ‘n verbondshernuwing seremonie ingetrek by Sigem, die grondgebied wat Josua in besit geneem het, en waar Jakob aanvanklik ‘n stuk grond gekoop het.

  1. Aan die een kant is hierdie toespraak ‘n terugblik op die Israeliete se vorming as volk in vervulling van die beloftes van die Here. Daarom gaan haal Josua die verhaal by Tera, vader van Abraham, anderkant die Eufraat. Die Here se keuse van Abraham was nie net om vir hom ‘n land en ‘n nageslag te gee nie, maar hom ook uit afgodediens aan die enigste ware God te verbind.

Elke deel van dié pad word as stasies op die roete na Kanaän uitgelê: Abraham se blootstelling aan die land Kanaän; Isak as die kind van die belofte; Jakob en Esau wat begin beslag lê het op hulle onderskeie grondgebiede; die verlossing uit Egipte deur Moses en Aäron en God se bewaring deur die Rietsee en die woestyn. God is die Een wat help en verlos, soos ten minste Josua en Kaleb nog eerstehands ervaar het.

Die Uittog het uitgemond in die Intog en Vestiging in die land waarin selfs die land oos van die Jordaan in hulle besit gekom het. God se hand in dit alles word onomwonde erken en geëer. Hy het hulle geseën ten spyte van die pogings van Bileam en hulle kon die land inneem.

Die gawe van die land is weens God se werk, nie deur hulle swaarde, pyle en boë nie. Hulle sou gevolglik ook nooit die land kon beskerm net met hulle swaarde, pyle en boë nie. Die land sou altyd belofteland bly, en net in hulle besit wees solank as hulle die Here aanbid en gehoorsaam het.

  1. Aan die ander kant is Josua se toespraak ‘n toekomsblik van hulle lewe in die teenwoordigheid van die Verbondsgod aan wie hulle hulle opnuut verbind. En dit is die dieptepunt van sy appèl aan hulle om aan dié God eerbied te betoon en Hom met opregtheid en trou te dien.

Dit sal moet insluit dat hulle hulle afgodery vaarwel moet roep, die gode van anderkant die Eufraat, die gode van Egipte, en dié wat hulle in die land Kanaän mee in aanraking gekom het. En onthou, Sigem is die plek waar Jakob die afgode van sy vroue begrawe het (Gen 36)!

‘n Mens kan jou beswaarlik indink hoe ‘n groot uitdaging die afgode was in ‘n omgewing waarin niemand net een god aanbid het nie. Die druk was daar om aan te pas by die omgewing, veral die druk weens die ondertrouery met die ander nasies in die land wat onder die radar toegeneem het en mettertyd drastiese stappe geverg het van die leiers.

Hierdie klem op die aanbidding van nét een God, die God wat Hom aan hulle as Jahwe openbaar het, was só belangrik dat Josua hulle in ‘n seremonie begelei om eens en vir altyd te kies wie hulle wil dien: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.

Op die volk se eendragtige antwoord dat hulle glad nie daaraan dink om die Here te verlaat en ander gode te dien nie, waarsku Josua hulle dat dié God onverdeelde trou eis en hulle nie hulle opstandigheid en sonde hierin sal vergewe nie: “As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en ’n end aan julle maak.

Josua het geweet hoe wispelturig die volk se lojaliteit was, en hoe groot die uitdaging by hulle huise gaan wees, want die ander nasies is nie uitgewis nie. Die versoeking sou dus blywend wees en baie sou daarvoor swig.

Daarom waarsku hy hulle en moedig hulle aan om die vreemde gode tussen hulle uit te wis en hulle heeltemal aan Jahwe te verbind.

Op die volk se eendragtige ja hernuwe Josua uiteindelik die verbond op grond van die voorskrifte en bepalings wat nie net Moses neergepen het nie, maar waartoe hy nou bygevoeg het. Sy woorde, die sogenaamde Josua-woorde, vul nou die Moses-woorde aan, en word saam in die wetboek van God opgeskryf.

As herinnering aan dié gewigtige oomblik word ‘n klip as getuienis gekies. En daarmee gee Josua ook die leierskap oor aan die leiers van die stamme wat van nou af in gehoorsaamheid aan die Here hulle mense moes begelei en dien. Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy eie grond toe.

Die boek sluit af met die beskrywing van die dood van Josua op die rype ouderdom van 110 jaar. Hy word begrawe op sy grondgebied. Ook Josef se wens om in Sigem begrawe te word, word nagekom.

Die hoëpriester Eleasar is ook oorlede en begrawe op die grond wat aan sy seun Pinehas in die Efraimsberge toegeken is.

Die skakel na die volgende boek in die reeks van die Vroeë Profete, Rigters, word gegee met die opmerking: “Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

Dat dit nie só goed gegaan het met die leiers daarna nie, en wat die Here gedoen het om hulle ook deur daardie drif te trek, is die onderwerp van ons volgende studie in die boek Rigters.

Boodskap en betekenis

Josua in die OT

Na Josua as persoon word net drie keer in die res van die OT terugverwys.

  1. Die eerste is in Rigters 1-2 (x7) waar telkens terugverwys word na die Intog en Vestiging in Kanaän onder sy leiding. Dit skakel die twee boeke Josua en Rigters daarmee ook aan mekaar.

  2. Die tweede keer is in 1 Koning 16:34 waar van die vervulling van sy vloek in Jos 6:26 vertel word. Josua het plegtig verklaar dat die Here die man sal straf wat dié stad, Jerigo, probeer herbou: “Dit sal hom sy oudste seun kos as hy die fondament lê en sy jongste as hy die poortdeure hang.

Dit het ses eeue later gebeur toe Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou het. “Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.

Interessant genoeg is daar later ná die ballingskap mense van Jerigo wat teruggekom het en bv Nehemia gehelp het met die herbou van die mure van Jerusalem (Esra 2:24; Neh. 3:2; 7:36). Die feit dat Jerigo herbou is, het dus nie net negatiewe gevolge gehad nie. Daar was ook Jode van Ai wat ná die ballingskap weer teruggekeer het na die land van belofte (Esra 2:28; Neh 7:32).

  1. Die derde keer is in ‘n geslagregister in 1 Kronieke 7:27 waar sy naam gelys word.

Josua in die NT

Josua word net 2 keer in die NT genoem. Stefanus herroep Josua se leiding met die Intog in sy toespraak voor die Joodse Raad (Hand. 7:45) en die Hebreërskrywer gebruik die Intog onder leiding van Josua as ‘n aanduiding van die onvolledige rus wat dit vir die volk van God gegee het. Die volle rus het eers in Jesus aangebreek.

Daar is egter meer verbande met die boodskap van die NT as ‘n mens in gedagte hou dat Jesus eintlik ‘n Verlosser is soos Josua. Dit sien ‘n mens op die volgende plekke in die NT:

  1. Deurdat Maria die opdrag kry om haar seun Jesus te noem (Matt 1:21), trek die NT alreeds ‘n sterk verband met Josua van die OT. Jesus is die Griekse vorm van die Hebreeuse naam Josua. Soos Josua die volk die beloofde land moes binnelei, só kan dieselfde van Jesus gesê word. Die beloofde land waarheen Jesus egter gelowiges lei, is die koninkryk van God wat uiteindelik ‘n nuwe hemel en aarde insluit.
  2. Jesus eindig sy aardse lewe op ‘n berg (Matt 28), soos Moses dit ook gedoen het (Deut 34). Soos Moses vir Josua in opdrag van die Here gestuur het om die beloofde land binne te trek (Deut 31:32), só stuur Jesus die dissipels die wye wêreld in om die boodskap van die koninkryk aan al die nasies te gaan verkondig (Matt. 28:18-20). Soos Moses beklemtoon het dat Josua en die volk alles moet doen wat die Here hulle deur sy bediening beveel het (Deut 31:12), só doen Jesus dit ook (Matt. 28:20).
  3. Soos Josua rus vir die volk gebring het in die beloofde land (Jos 11:23; 21:44), só doen Jesus dit ook (Hebr. 4:1-11; 12:1-2).

Die boek Josua (en die persoon van Josua) vorm dus ‘n integrale deel van die verhale wat deur die NT as aansporing (en soms ook as waarskuwing) vir gelowiges aangehaal word. Ons moet dit dus só lees, as voorbeeld verhale in ons verhouding met die Here Jesus en mekaar op ons reis na die ewige bestemming wat God vir ons belowe het (1 Kor. 10; Rom 15; Hebr 4).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar