Skip to main content

Jeremia 25

Die ballingskap sal sewentig jaar duur

Jeremia 25 kan gedateer word in 605 v.C., in die 4de regeringsjaar van Jojakim (609 v.C. – 598 v.C.). ‘n jaar ná Daniël na Babilon weggevoer is. Nebukadnesar het Egipte in daardie jaar oorwin by Karkemis en die Galdeërs as die volgende wêreldmag gevestig. Die boodskap van Jeremia 25 pas in die algemene prentjie van die profeet se boodskap aan die volk oor die ballingskap wat toe al ten dele begin aanbreek het en hoe hulle die aanbreek daarvan moet hanteer.

In hierdie hoofstuk sien ons hoe Jeremia sy oordeel oor die volk verskerp en aankondig dat die Here Nebukadnesar sal gebruik om hulle vir ’n tydperk van sewentig jaar in ballingskap na Babel te neem. Daniël se wegvoering is net die begin van die oordeel (Jer 25:1-12). Daarna vervolg hy met ’n oordeel teen Babel (Jer 25:13-14), en verskillende oordele oor die nasies (Jer 25:15-38). Die oordeelsbeker gevul met die wyn van God se toorn sal ook die ander nasies laat waggel en slinger, as die Here die lot van Juda weer na sewentig jaar verander.

Teks en konteks

Jeremia 25:1-12 – Die ballingskap sal sewentig jaar duur

Jeremia gee ons hier ’n duidelike aanduiding van die lengte van sy bediening. Hy tree sedert die 13de jaar van koning Josia al vir 23 jaar op, d.w.s. sedert 627 v.C. Reg deur dié bediening het hy die woord van die Here aan die volk gebring, maar sonder sukses.

Nou rig hy ’n woord wat in ag neem dat hulle nie geluister en hulle bekeer het nie, selfs al het die Here “vroeg en laat” met hulle gepraat: “Julle het nie eers probeer luister nie.” Hulle het nou ‘n ramp oor hulleself gebring met die dien van ander gode, wie se aanhangers hulle nou sal uitroei en hulle land, dié land wat die Here eintlik vir altyd vir hulle gegee het, ’n puinhoop sal maak.

Dié oordeel, sê die Here, sal al die nasies van die omgewing op soortgelyke wyse tref. Hulle sal almal saam die koning van Babel se onderdane wees vir 70 jaar lank (vgl Jer 29:10; Dan 9:2; vgl ook Sag 1:12 wat waarskynlik na 70 jaar verwys vanaf die tempel se verwoesting in 586 vC tot die herbou daarvan in 516 vC).

Jeremia 25:13-14 – Die oordeel oor Babel

Die ingebore sin vir reg en geregtigheid wat in ons almal is, word bevredig deur God se gelykluidende oordeel teen juis dié nasie wat hulle weggevoer het, Babel, dat hulle op soortgelyke wyse as sy volk verwoes sal word, ook vir dieselfde redes, die dien van afgode en hulle wandade teen ander nasies.

Jeremia 25:15-38 – Die oordeel oor die nasies

Die volgende gedeelte laat die hoop verder opvlam dat die oordeelsbeker – simbolies gevul met die wyn van God se toorn – ná die ballingskap onder die ander nasies, die nasies self sal laat waggel en slinger, as die Here weer die lot van Juda na sewentig jaar verander.

Jeremia sluit ’n hele paar van die omringende nasies, selfs ook nog Juda en Jerusalem ook, in sy simboliese handeling in. Dan gaan hy egter verder en sluit eintlik die hele bekende wêreld van daardie tyd in. Die plekke wat genoem word, is:

  • Juda en Jerusalem,
  • Egipte,
  • Us (Job se land, waarskynlik êrens in Arabië),
  • die Filistynse stede aan die kus van die Middellandse See: Askelon, Gasa, Ekron, en wat van Asdod oorgebly het (2 Kron. 26:6 praat van die afbreek van sy mure,
  • Edom (Esau se nageslag se landgebied oos van Israel),
  • Moab en die Ammoniete (Lot se nageslag ook oos van Israel),
  • Tirus en Sidon (Feniciërs, waar Libanon vandag is, noord van Israel),
  • Dedan (Noord-Arabië), Tema (tussen Damaskus en Mekka), Bus (Arabië),
  • almal wat hulle koppe aan die kante kaal skeer (’n Kanaänitiese gebruik om die hare voor die ore en die wangbaard te knip wat in die wet verbied is – vgl. Lev. 19:27 en Lev. 21:5 wat spesifiek op priesters van toepassing was),
  • al die konings van Arabië, en die Bedoeïene van die woestyn,
  • die konings van Simri (moontlik Suid-Mesopotamië), Elam (in Mesopotamië naby die Tigris) en Medië (wat saam met die Perse die volgende wêreldmag sou word ná die Galdeërs – hedendaagse noord-Iran).

Trouens “al die koninkryke wat oor die hele aarde versprei is”.

Heel laaste sê die Here, moet die koning van Sesak (akroniem vir Babel – vgl. ook Jer. 51:41) die beker drink.

Daarmee bevestig die Here sy heerskappy oor die hele aarde en al die nasies. Niemand is daarby uitgesluit nie. Die boodskap van die simboliese handeling aan die nasies is die volgende:

God laat oorlog teen hulle los, want wat Sý mense oor hulle ongehoorsaamheid tref, sal verseker ook die nasies tref: “Wil julle los uitstap, sonder om gestraf te word? Nee Ek het die oorlog teen al die bewoners van die aarde ingeroep, sê die Here die Almagtige.” Dit is asof oorlog hier gepersonifieer word en in opdrag van God nasies onderling in vyandskap teenoor mekaar laat ontplof. En dit tref almal omdat hulle aan God nie gehoorsaam is nie.

Dít is die hart van Jeremia se boodskap aan die nasies. Met die metafoor van God wat soos ’n leeu brul uit die hoogte, wat juig soos een wat druiwe trap, word ’n klaaglied oor al die bewoners van die aarde uitgeroep, want die Here kla die nasies aan en sal hulle op grusame wyse laat vernietig omdat hulle nie na Hom geluister het nie. Die ramp sal soos ’n storm van nasie tot nasie trek wat onnoembare leed en ongekende smart sal veroorsaak. Die lyke sal soos mis op die grond bly lê – volgelinge en leiers s’n.

Die toorn wat alles platvee, die gloeiende toorn van die Here sal dit alles doen.” In Jeremia 46-51 sal in verskeie oordeelsboodskappe teen die nasies hierop uitgebrei word.

Boodskap en betekenis

Die eskatologiese raakvlakke van hierdie omvattende oordeel van God is duidelik veral as ’n mens dele van die Openbaring aan Johannes in ag neem. ’n Mens dink onmiddellik aan die vuurrooi perd van Openbaring 6 waarvan die ruiter ’n groot swaard dra en die vrede van die aarde wegneem sodat mense mekaar kan doodmaak. Dié perd word met oorlog in Openbaring verbind.

Dieselfde geld die visioen van die Woord van God op sy wit perd wat besig is om sy oordeel op regverdige wyse uitoefen en die magte uitwis, soos ons in Openbarin 19 lees.

Ek hoor iets van hierdie onvermydelike globale en finale konfrontasie waarop die wêreldgeskiedenis afstuur in Jeremia se woorde. En dit kos nie veel verbeelding om rondom ons te kyk en tekens daarvan te herken nie. En ons sal goeddoen om te onthou, God wil as God alleen gedien word, en wanneer Hy praat, soek Hy mense wat na Hom luister. Dit maak die verskil tussen lewe en dood.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.