Skip to main content

Romeine 4

Die genade van geloof

Paulus verwys in Romeine 4 na die aartsvader Abraham as bevestiging van sy standpunt in hoofdeel twee dat God se genade deur geloof ontvang word en nie deur eie prestasie nie.

In die eerste perikoop (4:1-12) fokus hy op Abraham se geloofsverhouding met God en bevestig dit met Dawid se kommentaar op só ‘n verhouding in Psalm 32. In die tweede perikoop fokus Paulus op Abraham se geestelike vaderskap van almal wat glo, nie net dié wat deur die besnydenis deel van die Godsvolk geword het nie (4:13-25).

Teks en konteks

Abraham is die geestelike vader van besnedenes en onbesnedenes wat glo (4:1-12)

Met die dubbele aanhaling in vers 3 en 9 uit Genesis 15:6 bevestig Paulus dat Abraham – die vader van die Jode na die vlees – God se regverdiging gekry het deur die geloof. Abraham het nie daarvoor gewerk nie, en kon ook nie staatmaak op sy wetsonderhouding nie. Die wet is immers eers in die woestyntyd aan die volk gegee.

God het Abraham egter in die regte verhouding met Hom gebring deur sy geloof, nie op grond van sy werke nie. Anders sou Abraham op sy werke kon roem. Hy kon hom dus net op God se genade beroem.

In aansluiting hierby haal Paulus vir Dawid in Psalm 32:1-2 as ‘n verdere outoriteit aan wat ook ‘n regte verhouding met God bevestig op grond van vergifnis, sonder enige eie verdienste:

“So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” (Rom 4:6-8; vgl Ps 32:1-2)

Omdat Abraham in ‘n regte verhouding met God gebring is voor die besnydenis ingestel is, kan Paulus bevestig dat hierdie seën vir die besnedenes sowel as die onbesnedenes bedoel is.

Die besnydenis was ’n teken op grond van die regte verhouding deur die geloof. Só het Abraham die vader geword van alle mense wat op dieselfde wyse as hy – sonder die wet – in God geglo het sowel as vir mense wat as besnedenes gebore is – onder die wet – en in God geglo het.

Abraham het God se beloftes deur die geloof toegeëien (4:13-25)

Paulus praat hier oor twee beloftes wat God aan Abraham gegee het: dat hy die wêreld as besitting sal ontvang, en dat hy die vader van baie nasies sal wees.

Abraham en sy nageslag het die belofte ontvang dat hulle die wêreld as besitting (“erfgenaam van die kosmos”) sou ontvang. Dit is ’n droom-belofte, dié visie waaraan gelowiges, veral in swaar tye, vasgehou het, ’n visie op ’n nuwe volmaakte werklikheid waar die regte verhouding met God in sy volle konsekwensies geniet kan word, en waar die sonde en die gevolge van die sonde geen invloed meer sal hê nie.

Paulus wys egter weereens onomwonde enige verdienste vir hierdie beloftes op grond van wetsonderhouding af, en daarmee ’n lewe gebaseer op die nalatenskap van die wet van Moses. Die regte verhouding met God sowel as sy beloftes word uit genade gegee, deur die geloof.

Geloof is ’n leë hand wat na God uitgesteek word, waarmee die genade van ‘n regte verhouding uit God se hand ontvang word. Anders sou geloof sy betekenis verloor en die beloftes hulle krag.

Deur geloof kon Abraham ook die tweede belofte ontvang, en dit is om die vader van baie nasies te word (Gen 17:5) met die geweldige voordeel vir die nasies dat hulle daardeur ook kon deel in die beloftes van God deur geloof.

Dit gaan egter nog dieper: Abraham se geloof kom ooreen met die ander beskrywings van God in die OT. God maak dooies lewend; Hy bring dinge uit niks uit (ex nihilo) tot stand. Net so het Abraham aan die belofte van God dat hy ’n kind sou hê, vasgehou, al was sy liggaam gedaan en Sara al te oud (vgl Hebr. 11:11-12). Dit is asof hy ’n kind uit die niks uit in aanskyn geglo het, omdat hy aan die God vasgehou het wat juis sulke dinge kan doen!

Let op hoe Paulus in vers 25 die ontvangs van hierdie beloftes aan Jesus se opstanding verbind. Dit is dus nie net die offerdood van Jesus wat die regte verhouding met God bewerk nie (Rom. 3:25-26), maar ook sy opstandingslewe (Rom. 4:24-25).

Dit is betekenisvol, omdat dit die opgestane Here is wat ’n teenswoordige krag in ons word om in die regte verhouding met God te kan lewe (vgl. Rom. 8:10-11 – “Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak … die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is”).

Daarbenewens word dieselfde “oorgee”-taal (in Grieks paradidōmi) as in Romeine 1 gebruik. God het Jesus “oorgegee” (paradidōmi) aan die kruisdood en opgewek ter wille van ons regverdigmaking. Ons word in Christus dus vrygemaak van die seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes, korrupte en verwerplike denke wat die mensdom gevange in hulle sonde hou.

Dieselfde gedagte sal ook in Romeine 8:32 gebruik om die sekerheid van ons verlossing aan die “oorgee” van Christus ter wille van ons vryspraak en oorwinning uit te spel.

Boodskap en betekenis

Romeine 4 beklemtoon dat Abraham as geestelike vader dien van almal wat in God glo, beide Jode en nie-Jode. Paulus bevestig dat Abraham se regverdiging nie deur werke of wetsonderhouding verkry is nie, maar deur geloof alleen. Hierdie geloof, ‘n leë hand wat na God uitgestrek is, het hom in ‘n regte verhouding met God gebring, gebaseer op God se genade.

Paulus wys verder dat die beloftes aan Abraham – om die wêreld as erfdeel te ontvang en om die vader van baie nasies te wees – slegs deur geloof vervul kon word. Abraham se geloof in God, wat uit niks skep en lewe uit die dood bring, is ‘n inspirasie vir alle gelowiges. Dieselfde geloof verbind ons met Jesus se opstanding, wat nie net versoening van ons sonde bring nie, maar ook die krag gee om in ‘n regte verhouding met God te leef. Paulus koppel hierdie geloof en genade aan God se oorweldigende daad van oorgawe in Christus, wat verlossing en regverdigmaking bewerk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda