Skip to main content

Handelinge 14

Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop

Handelinge 14 vertel van Paulus en Barnabas se moed en deursettingsvermoë op hul verdere sendingreis, wat hulle na Ikonium, Listra en Derbe neem. Die hoofstuk skets die impak van die evangelie as dit verkondig word: sommiges glo met vreugde, terwyl ander hardkoppig weerstand bied. In Listra gebeur daar ’n merkwaardige genesing wat die inwoners misverstaan, en hulle probeer Paulus en Barnabas as gode aanbid. Die apostels wys egter vasberade daarop dat die ware God aanbid moet word. Die verhaal sluit af met Paulus se herstel ná ’n brutale steniging en hul terugkeer om die nuwe gelowiges te versterk. Hierdie hoofstuk herinner ons aan die koste van dissipelskap, maar ook aan die krag van die evangelie om menselewens te verander.

Teks en konteks

Paulus-hulle verkondig die evangelie in Turkye: Ikonium, Listra, en Derbe – Handelinge 14:1-21a

Ikonium

Paulus-hulle reis van Antiogië in Pisidium na Ikonium in Klein-Asië – naby Konya vandag – in die sentrale gebied van Anatolië in Turkye, so ‘n 140 km verder.

Die Jode wat “nie die boodskap wou aanneem nie”, word letterlik deur Lukas as “ongehoorsaam” beskryf, waarmee hy ‘n verband lê met die ongehoorsaamheid ook van hulle voorvaders. Teenstand kom dus nie net van mense af wat nie die evangelie begryp nie, maar juis ook van dié wat maar alte goed begryp wat die implikasies daarvan is, maar nie hulle lewenstyl wil laat vaar nie. En hulle wil ook keer dat ander dit doen, om te keer dat hulle ongehoorsaamheid aan die kaak gestel word.

Let op hoe God weereens die boodskap bevestig deur tekens en wonders. Uiteindelik word die bedreiging van aanranding en steniging te veel en hulle vlug na Listra waar hulle hulle werk voortsit. Let op dat Paulus en Barnabas albei as apostels aangedui word, ’n benaming wat Lukas voor hierdie verwysing net vir die twaalf gebruik het.

Listra

Die teenstand van die ongelowige Jode het hulle egter weggedryf na Listra in Klein-Asië – naby Hatunsaray – so 50 km verder.

In Listra raak Paulus en Barnabas by die genesing van ’n man betrokke wat met gebreklike voete gebore is. Die mense wou hulle gevolglik as gode vereer, moontlik weens ’n bekende legende dat Zeus en Hermes in menslike gedaante die omgewing van Listra vroeër besoek het en net deur een egpaar gasvry ontvang is (Metamorphoses van die Romeinse digter Ovid).

Waarskynlik wou die gemeenskap van Listra nie weer dieselfde fout maak om hulle nie te herken nie!

Hoewel hier nie ’n groot gemeenskap van Jode was nie, het die Jode van Antiogië in Pisidië en Ikonium egter vir hulle moeilikheid kom maak. Hulle het dit reggekry om die mense na hulle kant toe oor te haal, en stenig Paulus – iets wat hulle reeds in Ikonium wou doen, maar nie kon regkry nie – en sleep hom daarna buite die stad uit onder die indruk dat hy dood is (vgl 2 Kor 11:25).

Dit wil voorkom asof Barnabas nie hierdie lot te beurt geval het nie. Dit is onvermydelik dat ’n mens hier ook iets raak lees van die lot wat Jesus te beurt geval het met sy intog in Jerusalem in, die laaste week voor sy kruisiging. Die skare het Hom ook vereer en bewonder (Joh 12:12), om uiteindelik te skreeu: “Kruisig Hom!” (Joh 19:15). Soos hulle met die Here gemaak het, so behandel hulle ook sy boodskappers.

Dit wil lyk asof die gelowiges rondom hom kom staan het om vir hom te bid, soos wat Petrus dit vir Dorkas gedoen het (Hand 9) en Paulus later dit vir Eutigus sou doen (Hand 20). Hier bid die gelowiges vir Paulus en hy beleef ’n wonderwerk aan sy eie lyf (Timoteus was moontlik ‘n ooggetuie – vgl. 2 Tim 3:10-11).

Paulus verwys moontlik na hierdie gebeure in 2 Korintiërs 6:9, soos onder andere Calvyn dit uitgelê het. Hoe dit ook al sy, Paulus staan op en gaan baie moedig weer die stad binne, om die volgende dag saam met Barnabas na Derbe toe te vertrek.

Derbe

Dit moes vir Barnabas en Paulus ’n vreemde ondervinding gewees het in Derbe in Klein-Asië – naby Karaman vandag, ook so 50 km verder – toe hulle die evangelie daar verkondig en geen teenstand ervaar het nie. Baie mense het gelowig geraak, onder andere ook Gaius wat later saam met Paulus sou reis nadat hy in Efese deur Paulus verder onderrig is(Hand 20:4). Dit sou gereeld gebeur dat van die bekeerlinge selfs sendelinge word op reis saam met Paulus.

Die terugreis na Antiogië – Handelinge 14:21b-28

Dit is ook die omdraaipunt vir die apostels op hierdie eerste sendingreis. Hulle keer met dieselfde roete terug om die nuwe gelowiges in Listra, Ikonium, Antiogië, en Perge te versterk.

Hulle keer dus terug min of meer op dieselfde roete as waarmee hulle gekom het. Die doel van hierdie tweede besoeke aan Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië is duidelik ’n gemeenskapskeppende en versterkende een.

Die apostels spoor die gelowiges aan om getrou te bly in die geloof. Dit is ’n patroon wat hierna telkens gevolg sou word (Hand 15:36, 41; 16:1). Die apostels tree dus as die beskermers op van die prosesse wat deur die Gees en hulle bediening begin is. Die gelowiges word nie aan hulle eie genade oorgelaat nie, selfs nie aan ’n “opvolgspan” wat ná hulle sou kom nie (daar was natuurlik nog nie so iets nie!).

Die mense het deur hulle werk tot geloof gekom en bly daarom hulle verantwoordelikheid, ook in terme van hulle opbou in die geloof. En die apostels draai nie doekies om oor wat getrouheid gaan kos nie. Soos die gelowiges dit grafies in Barnabas en Paulus se lewe geïllustreer gesien het – in Paulus se geval selfs deur die gewelddadige steniging – leer die apostels hulle dat ons eers deur baie verdrukking (sal) moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.

Daarom is die fokus in hulle versterking nie net om te preek en die evangelie te verkondig nie, maar om die onderlinge gemeenskap te versterk en spesifiek ouderlinge (“presbuteroi”) te laat kies. Dit was die sisteem wat reeds in Jerusalem se gemeente gevestig was (Hand 11:30; 21:18), en nou in al die gemeentes nagevolg word (Hand 20:17).

Waarskynlik was hierdie ouderlinge ook aanvanklik verantwoordelik vir die Woordverkondiging (soos dit die geval was op Kreta – Tit 1:9), hoewel daar later ’n onderskeiding kom tussen leidende en lerende ouderlinge (1 Tim 5:17). Eersgenoemdes was waarskynlik wat Petrus toesighoudende ouderlinge noem (1 Pet 5:1-4). Hoe belangrik hulle was vir die gemeenskap van gelowiges sien ’n mens in die feit dat selfs van Paulus se briewe aan die ouderlinge van die gemeente gerig is (Fil 1:1).

Hier was nog nie veel sprake van lering oor die gawes van die Heilige Gees nie – wel later in die briewe aan Korinte en Rome (1 Kor 12; Rom 12) – ook nie van lering oor die gawes in terme van bedienaars nie, soos wel later in die brief aan Efese aangeroer word (apostels, profete, evangeliste, herders, en leraars – Ef 4).

Let op hoe die gemeentes betrek word in die proses deur gebed en vas – net soos Barnabas en Paulus met hulle uitsending uit Antiogië in Sirië ervaar het (Hand 13). Die apostels sit die seël op die gemeente se biddende keuse deur die ouderlinge op te dra aan die Here en die plaaslike bediening aan hulle toe te vertrou.

Dit is ’n proses wat hierna in elke gemeente sou gebeur, waardeur die gemeente deur die beweging van die Gees tot ’n gemeenskapslewe saamgebind sou word wat met hulle geloof in Christus Jesus begin het. Aan die een kant is ’n praktiese lewenstyl van saam bid en vas geskep om geloofsonderskeidend te werk te gaan as gemeenskap, en aan die ander kant is ’n leierskapstruktuur gevestig wat eenheid in diversiteit kon bewerk.

Hulle keer uiteindelik na ongeveer twee jaar terug na hulle tuisgemeente vanaf die kusdorp Attalia in Pamfilië – vandag Antalya aan die kus van die Mediterreense See – om verslag te doen van die reaksie op die evangelie. Hulle het die evangelie op hierdie eerste reis oor ‘n groot afstand per land en see verkondig.

By hulle aankoms word die hele gemeente bymekaar geroep en vertel wat op die sendingreis gebeur het. Let op hoe die fokus op God geplaas word – dit is Hy wat alles deur hulle gedoen het. Barnabas en Paulus kies deurlopend ’n nederige lewenstyl, soos ons nou al daaraan gewoond geraak het.

Let ook op hoe die deur van die geloof wat na die heidene oopgemaak is, beklemtoon word. Die idee van ’n oop deur word nog op ’n paar ander plekke in Paulus se briewe aangetref (1 Kor 16:9; 2 Kor 2:12; Kol 4:3), sowel as in Johannes se brief aan Filadelfia (Op 3:7-8). Dit antisipeer die volgende fase in die uitbreiding van die evangelie waar die insluiting van die heidene en die verwagtinge wat die kerk in Jerusalem van hulle sou hê, beslis moes word (Hand 15).

Hier werk hulle in Antiogië vir ‘n geruime tyd voor hulle aan die einde van 49 n.C. na Jerusalem vertrek vir die belangrike beslissing oor die besnydenis. Dit was genoodsaak deur twee gebeure:

  • die besoek van Petrus aan Antiochië waar Paulus hom sterk moes aanvat oor sy skynheiligheid met tafelgemeenskap met die heidene (Gal 2) en
  • die besoek van die Judaïseerders aan van die gemeentes waarby Paulus en Barnabas betrokke was in Galasië om hulle te probeer oortuig om die Joodse wet aan te hang, soos ons uit die brief aan die Galasiërs self aflei asook uit die brief wat deur die gemeente in Jerusalem aan dié gemeentes gerig word ná die vergadering (Hand 15:23 vv.).

Die brief aan die Galasiërs is waarskynlik voor die vergadering in Jerusalem vanuit Antiogië geskryf, omdat daar geen verwysing na die besluit van Handelinge 15 in die brief voorkom nie.

Boodskap en betekenis

Die verkondiging van die evangelie bring vreugde aan diegene wat glo, maar ontlok ook weerstand van die Jode wat Paulus-hulle se boodskap verwerp. In Listra bring ’n genesing groot verwarring, aangesien die inwoners Paulus en Barnabas as gode wil vereer, maar hulle wys die mense terug na die aanbidding van die ware God. Die vervolging loop uit op Paulus se steniging, maar hy staan op en volhard met sy bediening. Die terugreis toon hul toewyding aan die opbou van gemeentes deur bemoediging, gebed, en die aanwys van leiers. Hierdie hoofstuk herinner ons daaraan dat dissipelskap opofferings verg, maar ook groot seëninge bring deur die voortgaande werk van God.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda