Skip to main content

2 Johannes

Die waarheid bly in ons en sal vir ewig met ons wees

Johannes noem homself in dié brief net die “Oudste” of “Ouderling”, soos die woord presbuteros  vertaal kan word.  Die brief word gerig aan “die uitverkore vrou en haar kinders” wat op ’n verskuilde manier verwys na ’n plaaslike gemeente met haar lidmate, soos dit ook die geval is in vers 13 waar waarskynlik na die gemeente Efese verwys word as dié gemeente se “uitverkore suster”.

Die brief is op papirus geskryf, soos Johannes dit aandui in vers 12.  Die kort brief is in vier dele opgedeel.

Teks en konteks

Die aanhef – vers 1-3

Let op hoe Johannes oor die waarheid skryf.  Hy beskryf sy liefde vir die gemeente as ’n liefde “in die waarheid”, verbind dit aan die liefde van die ander by hom wat die “waarheid leer ken het”, sy gemeentelede en begrond dit laastens op “die waarheid wat in ons bly en vir ewig met ons sal wees,” God self.  Die waarheid is dus vir hom ’n persoon, nie ’n lering nie, hoewel hy later wel oor die waarheid gaan praat as die inhoud van wat oor dié persoon, Jesus, geglo word.

Jesus word natuurlik baie keer die Waarheid genoem in die evangelie van Johannes, soos Jesus inderdaad ook van Homself praat (Joh. 1:14,17; 4:23-24; 8:32; 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”.)  Jesus noem die Gees ook die Waarheid, die Een wat ons in die waarheid sal lei (Joh. 14:17; 15:26; 16:13).  God se woord word ook deur Jesus die waarheid genoem (Joh. 17:17).

Die aanmoediging om in die waarheid en die liefde te leef – vers 4-6

Dit stem Johannes tot dankbaarheid en vreugde dat hy kan agterkom dat die gemeentelede waar hy hulle ook al aantref die “pad van die waarheid loop”.  Sy opdrag aan die gemeente is dat hulle hierin moet volhard en hy koppel die waarheid aan die liefde, soos dit inderdaad hoort.  Die liefde het as inhoud die waarheid – om volgens God se gebooie te leef, waarskynlik die liefdesgebod wat op sy beurt in die Tien Gebooie begrond is.  Die waarheid het op sy beurt as inhoud die liefde – dat ons mekaar moet liefhê.  Dit is soos twee kante van dieselfde munt.

Die opdrag om te onderskei wie van die reisende leraars by die leer van Christus bly  – vers 7-11

Dié opdrag om in die waarheid en die liefde te bly, om daarin te leef, is vir hom wesenlik belangrik weens die verleiding van mense wat van die waarheid afgedwaal het.  Dié dwaling word spesifiek uitgespel as mense wat “nie bely dat Jesus Christus as mens gekom het nie”. Sulke mense is vir hom “die verleier en die antichris” – die verpersoonliking van die Bose.

Hy wil hê dat sulke mense wat nie bly by die leer van Christus nie, nie deur die gemeente ontvang moet word nie sodat hulle geen aandeel aan hulle verkeerde leringe moet hê nie.  Daar moet geen gemeenskap met hulle wees nie, selfs nie om hulle met gasvryheid in hulle huise te ontvang nie. Hulle moet bly by die leer van Christus soos die apostels en natuurlik Johannes self aanvanklik dit aan hulle oorgedra het.

Anders loop die gemeente die gevaar om hulle voortbestaan in die gedrang te bring.  Johannes wil eerder hê dat hulle sal behou wat hulle deur harde werk verkry het en dat hulle hul “volle loon” ontvang. Dit is immers net dié wat by die gesonde leer oor Jesus Christus se Goddelik-menslike natuur bly, wat “die Vader en die Seun” het, d.w.s. ’n aandeel aan die ware Goddelike openbaring het.

Die slot – vers 12-13

Johannes sluit die brief met die belofte dat hy hulle binnekort sal besoek en dra groete oor van hulle suster-gemeente, waarskynlik Efese.

Boodskap en betekenis

Die waarheid is nie net ’n lering nie, maar ’n Persoon – Jesus Christus – wat in ons bly en vir ewig met ons is. Daarom moet ons volhard om in waarheid en liefde te leef, want dié twee hoort onafskeidbaar saam. Ons word gemaan om vas te hou aan die ware leer oor Jesus se Goddelik-menslike natuur en nie misleiers te ontvang nie, sodat ons voluit kan deel in God se belofte en beloning.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!