Skip to main content

Spreuke 22:1-16

Die invloed van rykdom en armoede op verhoudings

Ons kom by die laaste 16 verse van Salomo se eerste bundel spreuke. Interessant genoeg is die aantal spreuke in hierdie versameling van hom gelyk aan die numeriese waarde van Salomo se naam: 375.

Waar Salomo nou al oor God se sorg vir die opregtes (hfst 10) geskryf het, en dat Hy ‘n toevlug is vir ons (hfst 14), uitgebrei het op die invloed van wyse woorde op welvaart (hfst 13), en die veilige ruimte wat ons integriteit vir ander gee (hfst 14), tesame met ‘n hele spektrum van ander sake, skryf hy in hierdie paar verse veral oor rykdom en armoede en die invloed wat dit op verhoudings het. Hy lê ook klem op die gevolge wat volg op ‘n mens se gedrag – luiheid stomp jou waagmoed af; mededeelsaamheid is tot jou eie voordeel.

Spreuke 22:1

Vers 1. ’n Goeie naam of reputasie is meer werd as groot rykdom. Ander se goedgesindheid is meer werd as silwer en goud.

Spreuke 22:2-4

Vers 2. Hierdie vers stel die fundamentele beginsel van die gelykheid voor God van alle mense, ryk en arm. Almal het dié status in gemeen. Dat God hulle gemaak het. Interessant is dat Spreuke in die eerste frase sê: “rykes en armes ontmoet mekaar” wat beide beteken “rykes en armes het dít in gemeen” (dat die Here hulle gemaak het), en dat hulle gelykheid voor God die basis is waarop hulle in gemeenskap met mekaar kan tree. ‘n Mens kan nie die betekenis van hierdie beginsel oorskat nie!

Hierdie beginsel van gelykheid voor God word regdeur die Bybel gehandhaaf. Job verklaar sy status voor God as gelyk met sy slaaf – God het hulle albei gemaak – wat beteken dat Job sy slaaf – en trouens, armes, weduwees, wese, en alle behoeftiges, soos hy dit uitspel – met dieselfde respek hanteer as wat hyself op geregtig is (Job 31:13-22). Job verklaar dit ook in terme van politieke en sosiale status dat God nie vorste of vernames voortrek bó armes nie, want Hy het almal gemaak (Job 34:19).

Spreuke verklaar ook dat hy wat hom oor die behoeftige ontferm, God eer (Spr 14:31). Jesus kan daarom verklaar dat God vir almal sorg, die goeies en die slegtes (Matt 5:45). Dit is waarom Spreuke ook kan sê dat ons niemand mag beledig nie (Spr 17:5), en Jakobus dit kan eggo in die NT dat ons almal gelyk moet hanteer (Jak 2:2-4). Maar, dié gelykheid voor God beteken nie dat Spreuke nie ook bewus is van die harde werklikheid van die relatiewe ongelykheid in die samelewing nie (Spr 22:7).

Vers 3. Een van die redes vir die ongelykheid in die samelewing is dat verstandiges onheil kan vermy, omdat hulle dit beter raaksien as onervarenes. Vers 4. Die belangrikste rede is egter dat rykdom ‘n geskenk is van God aan die nederiges wat in ontsag vir Hom lewe. Hy deel rykdom, eer en lewe uit. Ons sal goed doen om in alles vir Hom te eer en ons naaste soos onsself.

Spreuke 22:5-6

Vers 5. ’n Vals persoon – pervers, moreel krom en skeef, oneerlik, onopreg, skynheilig – se pad is besaai met uitdagings. Dit is vol dorings en wippe (vangnette). As jy jou lewe wil beskerm, moet jy wegbly van valsheid. Vers 6. Rig ’n jongmens af in die weë van die Here – “die pad wat hy moet loop” beteken die pad van die regverdige – en dit sal gewoontes skep wat tot in sy oudag sal hou.

Spreuke 22:7

Die harde ekonomiese werklikheid is dat rykdom mag gee oor armes. Dieselfde geld ‘n lening. Die lener is die slaaf van die een van wie hy leen. Dit is aan die een kant ’n waarskuwing. Moenie lui wees nie. Moenie leen nie. Dit is aan die ander kant ’n aanmoediging. Verlig armoede. Red mense wat vasgevang is in ’n situasie van uitbuiting. Ons almal is immers gelyk voor die Here (Spr 22:2).

Spreuke 22:8-9

Vers 8. Die woord koning kom nie in die Hebreeuse teks voor nie. Ek sal dus eerder nie die 1983-vertaling hier gebruik nie. Hier is ’n meer letterlike vertaling na aanleiding van die 1933/53-vertaling: “Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy woede sal misluk.” Die “stok van sy woede” dui op die straf wat hy uitdeel. Dit sal tot niks kom nie. Vers 9. Wie arm mense met ’n “goeie oog” bejeën – dws mededeelsaam is deur hulle kos te gee – word geseën.

Spreuke 22:10-12

Vers 10. Harmonie word herstel wanneer respekloses – ligsinnige spotters – in die pad gesteek word. Dit bring die getwis en beledigings tot ’n end. Vers 11. Hy wat reinheid van hart liefhet en sorg dat sy woorde vriendelik is – die koning is sy vriend. Die punt is, selfs konings hou van opregte aangename mense. Skynheiligheid is vir hulle ’n bedreiging. Vers 12. Die Here hou sy oë oor die behoud van kennis, en dwarsboom die woorde van verraaiers. Dit wil sê, God sorg self vir die behoud van die wysheid, wanneer onbetroubare mense dit bedreig. Dit is ‘n groot belofte om aan vas te klou!

Spreuke 22:13

Lui mense waag nie en gebruik absurde verskonings om hulleself te verskoon – daar is ’n leeu daarbuite; hy sal my in die middel van die straat doodmaak (vgl Spr 26:13-16).

Spreuke 22:14

Owerspel is ‘n straf van die Here vir diegene wat Hom nie dien nie. Dit klink nogal vreemd, en veral die gebruik van die woord vervloek, val vreemd op. Maar, dit is presies wat Paulus in Romeine 1:18-32 skryf dat God mense, wat Hom nie eer nie, oorgee aan seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes en korrupte gedagtes en gedrag. Soos Tom Wright sê, wanneer jy die Here nie die sentrum van jou lewe maak nie, is dit die tipe dinge wat met jou sal gebeur.

Spreuke 22:15

Dwase giere kom diep uit die hart van ’n kind. Dit is waarom die dissipline van die roede – ’n stok wat gebruik is as wandelstaf (bevestiging), herderstaf (begeleiding) sowel as om mee te straf (tugtiging) – so noodsaaklik is vir jongmense. “Knocking the nonsense out!” (Kidner). Anders neem dwaasheid só ’n kind se lewe oor en kan jy dit later op geen manier bedwing nie (Spr 26:1-12).

Spreuke 22:16

Selfverryking ten koste van armes, en selfverarming ten bate van rykes, is ewe dwaas.

Daarmee kom ons aan die einde van die eerste bundel van Salomo se eerste 375 gesegdes.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…