Skip to main content

Psalm 88

Die swaarkry het vir my te veel geword

Psalm 88 word soms met Eksodus 2 geassosieer, maar ek plaas dit eerder later in Dawid se tyd weens die verwysing na Heman (1 Kon 4:31) en die Koragiete. Dit pas goed by 1 Kronieke 26. En dit is die afsluiting van die 2de versameling van die Psalms van die Koragiete – Psalm 84-88 – met Psalm 86 ‘n Psalm van Dawid.

Teks en konteks

Hierdie Psalm kom van Heman, die Esragiet.  Hy was een van vier bekende wyses in Israel (waaronder ook Etan van die volgende Psalm), wie se wysheid egter deur Salomo oortref is (1 Kon. 4:31). Hulle was nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag).  Hy moet onderskei word van die ander Heman, ook uit die stam van Levi, maar ‘n kleinseun van Samuel wat ‘n tempelsanger en simbaalspeler was, saam met Asaf en Jedutan (wat ook Etan genoem word, maar onderskei moet word van die Esragiet in die volgende Psalm!) in die tyd van Dawid (1 Kron 6:33).

Midde in sy nood klou die Psalmis aan God vas – vers 2-3

Die Psalm eindig nie verniet in die Hebreeuse teks met die woord duisternis nie: “my vertroueling is die duisternis” (2014 vertaling).  Dit is ’n donker worsteling met die onverklaarbaarhede van die lewe, die naaste wat ’n mens in die Psalms aan die smart van Job kom.  Waar Job egter op ’n hoopvolle noot eindig, bly dié Psalm in die donker al wagtende op die lig om deur te breek.

Die enigste positiewe punt in die Psalm is die hoopvolle belydenis waarmee hy begin: “Here, my God wat my altyd help …” (vers 2).  Dit is die motivering vir sy gebed en die roerende pleidooi wat hy rig tot God om sy geroep te hoor, sodat sy gebed nie tevergeefs sal wees nie (vers 3).

Die swaarkry het egter vir hom te veel geword – vers 4-10

Die Psalmis het net mooi genoeg gehad van teenspoed, die swaarkry het vir hom te veel geword.  Hy beskryf sy nood met beelde wat op roerende wyse uitdruk dat hy amper dood is – “ek vat al aan die doderyk”, “ek staan al met die een voet in die graf (wat ’n Afrikaanse idioom geword het)” en “Dit is asof ek al tussen die dooies is”.

En hy verbind dié ervaring van hom aan God se werk: “U gramskap rus swaar op my” en “U laat bekendes ver van my afstaan” (vers 8-9).  Dit is hoe hy dit ervaar, omdat die werklikheid vir die Jode een was en God alleen vir alles verantwoordelik gehou is.

Kan die dooies U loof en van U getuig? – vers 11-13

Die Psalmis is bang sy stem sal stil raak in die graf en keer dat hy God loof en van Hom getuig.  Tate praat van “The Land of Forgetfulness” waarin die Psalmis ervaar dat hy verkeer.  Daarom bring hy sy lot met drie dubbele retoriese vrae onomwonde voor die Here en maak ’n sterk argument daarmee daarvoor uit dat God hom moet help, terwille van die lofprysing en getuienis wat Hom toekom.

Ek is magteloos en verslae – vers 14-19

In taal wat herinner aan Job, keer die Psalmis terug na meer spesifieke klagtes:

  • onbeantwoorde gebed en ’n onbereikbare God (vers 14-15);
  • magteloosheid, verslae en radeloos in doodsgevaar (vers 16);
  • vernietigende ervaring van God wat soos water is wat op hom toesak en hom afsluit van alles en almal (vers 17-18);
  • vervreemding van geliefdes en vriende (bure) met net die duisternis as geselskap (vertroueling) (vers 19).

Dit is ervarings waarmee baie van ons op een of ander tyd in ons lewe geworstel het.  En die realiteit daarvan is dat dit baie keer ’n amper onmenslike lang tyd só aanhou, sonder dat daar antwoorde of oplossings is.

Boodskap en betekenis

Gelukkig is daar darem ná dié Psalm ook ‘n Psalm 89.  Psalm 88 spreek nie die laaste woord oor God nie!  Dit is egter ’n eerlike en egte worsteling met die onverklaarbaarhede van die lewe.  Daar is nie maklike antwoorde en vinnige oplossings nie.  Dit is ’n Psalm vir die winternag van ons menslike ervarings.

Die hoop is dat die Psalm ons ook leer om vanuit die belydenis van God se hulp en bystand na Hom te roep wanneer dié hulp en bystand nêrens meer te sien of te ervaar is nie.  Dit is omdat daar ook ’n ander ervaring van God is, dat Hy saam met ons in die dal van doodskaduwee is, dat ons in dié tye waar ons sy hand nie ervaar by ons nie, tog op Hom kan vertrou.

Soos Tate sê (Word kommentaar), dié Psalm herinner ons dat die lewe nie net uit gelukkige eindes bestaan nie, soos in die sprokies van die lewe nie.  Al raad in sulke tye is om die saak voortdurend met God op te neem, vanuit die vertroue dat Hy daar is en ’n beloner van dié wat Hom soek (Hebr. 11:6), totdat Hy antwoord.

My gebed vandag is vir diegene vir wie die duisternis ’n vertroueling geword het, wat voel asof die water hulle heeltemal omsluit, wat voel asof hulle besig is om heeltemal onder te gaan.  Vir dié vir wie die swaarkry te veel geword het, vir julle bid ek dié Psalm in die vertroue dat die God “wat my altyd help” sal opdaag en inderdaad help.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda