Skip to main content

1 Timoteus 1

Baseer jou geloofslewe op die gesonde leer

Ons kom by die eerste van die sogenaamde pastorale briewe, die eerste brief aan Timoteus. Die ander pastorale briewe is die tweede brief aan Timoteus en die brief aan Titus.  Sommige voeg die brief aan Filemon ook daarby.

Dit is briewe wat aan hierdie persone as pastors gerig is en handel oor hoe hulle die pastorale bediening van hulle onderskeie gemeentes moet behartig.  Daarom word sterk aandag gegee aan hulle persoonlike roepingsbewussyn, gefokus op hoe om die regte leer en lewe te handhaaf in ‘n situasie waar daar toenemend valse leerstellings die kop uitgesteek het, en hulle aandag moes gee aan die funksionering van hulle gemeente(s) in terme van ouderlinge, diakens en ander geestelike werkers.

Hoewel daar baie verskil van mening is onder geleerdes wanneer die briewe geskrywe is, lyk dit uit die briewe se eie interne gegewens asof die eerste brief aan Timoteus van ‘n tyd net na die gevangenisskap in Rome praat, want Paulus skryf dit waarskynlik uit Masedonië (1 Tim. 1:3) wat dan ongeveer 62-63 n.C. moet wees.  Die brief aan Titus kom waarskynlik ook uit hierdie tyd, en wel nadat Paulus vroeër reeds vir Titus agtergelaat het in Kreta (Tit. 1:5), moontlik ook geskryf in Masedonië. Die tweede brief aan Timoteus word duidelik weer uit die gevangenis in Rome geskryf (2 Tim. 1:8, 17; 2:9) in ongeveer 64-65 n.C.

Ek gee eers ‘n bietjie agtergrond oor hierdie vierde sendingreis van Paulus om die briewe in konteks te plaas.

Paulus se vierde sendingreis

Daar is ‘n hele aantal redes waarom geleerdes van ‘n vierde sendingreis van Paulus praat.

Talle kerkvaders (Klemens van Rome, Hiëronimus, Chrysostomos, Eusebius) bevestig dat Paulus Spanje besoek het, soos hy inderdaad van voorneme was (Rom. 15). Dit kon net plaasgevind het ná sy huisarres in Rome, want Lukas vertel nie vir ons daarvan in Handelinge nie.

Jesus se belofte aan Paulus was immers dat hy die lig van die evangelie sal neem tot aan die “einde van die aarde” (Hand. 13:47). Spanje pas goed in by daardie beskrywing.

Ons lees ook van ‘n tweede besoek aan Kreta saam met Titus waar Paulus nadat hy ‘n paar gemeentes gestig het vir Titus opdrag gee om na sy vertrek te sorg dat daar ouderlinge gekies word om die werk voort te sit (Tit. 1:5). Sy eerste kort besoek aan Kreta was natuurlik by Mooi Hawens op reis na Rome net voordat hulle skipbreuk gelei het (Hand. 27).

Paulus het ook in hierdie tyd in Miletus saam met Trofimus gewerk (2 Tim. 4:20) wat beteken dat Paulus ook weer in Klein-Asië gewerk het.

Hy het waarskynlik ook weer in Efese bedien, want Paulus verwys in sy eerste brief aan Timoteus na die tughandeling wat hy op Himeneus en Aleksander toegepas het (1 Tim. 1:20). Aleksander het hierna vir Paulus baie sterk teengestaan, soos ons in sy tweede brief aan Timoteus lees (2 Tim. 4:14-15).

Paulus het ook weer in Masedonië bedien, want ons lees ook daarvan reg aan die begin van die eerste brief van Timoteus (1 Tim. 1:3). Trouens, hy skryf waarskynlik hierdie brief vanuit Masedonië, soos moontlik ook die brief aan Titus. Op pad daarheen het Paulus ook Troas aangedoen waar hy ‘n reismantel en van sy skryfwerk agtergelaat het. Hy vra juis in sy tweede brief aan Timoteus dat hy hierdie besittings van Paulus sal saambring as hy Paulus in die tronk kom besoek (2 Tim. 4:13).

Presies hoe hierdie vierde sendingreis egter daar uitgesien het, en in watter volgorde dit gebeur het, is natuurlik nie moontlik om presies te bepaal nie. Bogenoemde gegewens is egter genoegsaam en oortuigend genoeg om van ‘n vierde sendingreis van Paulus te praat.

Dit is dan êrens op hierdie reis, moontlik met Paulus se reis na Masedonië, soos ek reeds gesê het, dat hy die eerste brief aan Timoteus sowel as die brief aan Titus skryf.

Hy het immers al vroeër die ouderlinge van Efese gewaarsku dat daar dwaalleraars sal kom wat die gelowiges soos “wrede wolwe” weg van die waarheid af sal verlei om hulle volgelinge te word (Hand. 20:29-30).

Hulle invloed het egter nou só toegeneem dat Paulus besef dat hy ‘n brief moet skryf om hulle invloed teë te staan. Daarom skryf hy waarskynlik hierdie eerste brief aan Timoteus.

Timoteus

Timoteus was afkomstig van Listra en het heel moontlik tot bekering gekom met Paulus se eerste besoek daar tydens sy eerste sendingreis.  Dit is die plek waar Paulus gestenig is en as’t ware uit die dood opgestaan het (Hand. 14:19-20).  Timoteus se pa was ‘n Griek, en sy ma, Eunice, ‘n Joodse Christen – soos trouens sy ouma Loïs ook was (Hand. 16:1; 2 Tim. 1:5).  Met Paulus se tweede besoek aan Listra het Timoteus by Paulus aangesluit, nadat hy eers besny is, waarskynlik omdat sy ma ‘n Jodin was.  In Timoteus het Paulus ‘n jong gelowige gevind wat met oorgawe hom aan die bediening gegee het.

Timoteus is met die skrywe van die brief die pastor van Efese, die plek waar Paulus ook vroeër lank gewerk het (Hand. 18-20) en moontlik op hierdie vierde sendingreis besoek het.

Teks en konteks

Let op hoe doelgerig Paulus hierdie brief skrywe.  In hierdie eerste hoofstuk groet Paulus vir Timoteus (1 Tim. 1:1-3), beweeg onmiddellik na ‘n bespreking van die uitdaging van die mense in Efese wat valse leerstellings versprei (1 Tim. 1:4-7), en gee vir Timoteus twee teologiese argumente as skietgoed (regte gebruik van die wet; regte begrip van die evangelie – 1 Tim. 1:8-17) en eindig met ‘n oproep aan hom om die goeie stryd van die geloof te stry (1 Tim. 1:18-20), d.w.s ‘n lewe in geloof wat pas by die gesonde leer.

Vals leraars se beheptheid met valse leringe – 1 Timoteus 1:4-7

Die sleutel tot ‘n begrip van hierdie valse leraars se beheptheid met mitiese verdigsels, eindelose geslagsregisters en ‘n fokus op die wet, lê waarskynlik in die feit dat hierdie kennis ‘n skyn van diepte en misterie gehad het, iets wat net vir die ingewydes bedoel is, en net deur hulle verstaan kon word.

Die evangelie van Jesus Christus is daarenteen ‘n baie publieke geloof, iets wat aan ‘n kind verduidelik kan word, en wat om ‘n rein hart en goeie gewete, en opregte geloof en liefde gaan.  Kennis is goed, maar net nuttig, as dit die doel dien dat ‘n mens in jou geloof in God gevorm word.

Daarom moet die dwaalleraars teëgegaan word, en gepoog word om hulle selfs met tug handelinge (of in ernstige gevalle met ekskommunikasie) tot insig te bring, soos dit in vers 20 onder andere duidelik gemaak word.

Die regte verstaan van die verband tussen die wet en die evangelie – 1 Timoteus 1:8-17

Paulus fokus dus hier op die regte verstaan en gebruik van die wet.  Dit is uiters belangrik om raak te sien dat hy moeite doen om die wet as in ooreenstemming met die evangelie (vers 11) uit te lê!   Die fokus van die evangelie is om vir dié sonde te kan nee-sê weens insig wat gelowiges in die heerlikheid van die “goeie God” verkry sodat hulle Hom kan dien.

Dit is met hierdie woorde in gedagte – die regte begrip en gebruik van die wet; die regte begrip en verstaan van die evangelie; en daarby ook vir Paulus as voorbeeld van hoe God se genade werk – dat Timoteus die goeie stryd moet stry, aan die geloof moet vashou en ‘n goeie gewete moet behou.

Let ook op dat die morele kant van die wet volgens Paulus geldig bly vir almal wat die Here nie dien nie. Die wet is bedoel vir die “wetteloses en ongehoorsames, vir die goddeloses en sondaars, vir die onheiliges en wêreldlinge, vir diegene wat hulle vaders en moeders doodmaak en mense vermoor, vir hoereerders, vir mans wat met mans intiem verkeer, vir diegene wat mense ontvoer, leuens vertel, meineed pleeg of enigiets anders doen wat, volgens die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige God wat aan my toevertrou is, indruis teen die gesonde leer.” (1 Tim. 1:9-11 – 2020-vertaling)

Let op die sondes wat hy uitlig wat die huwelik bedreig – “hoereerders” (pornois) en “mans wat met mans intiem verkeer” (arsenokoitai). Dit, saam met al die ander sondes wat hy noem, druis in teen die gesonde leer.

Daarteenoor is die fokus van die evangelie om insig in die heerlikheid van die “goeie/lofwaardige God” te verkry en Hom te dien.

Later in die brief sal Paulus verder hieroor skrywe en vir Timoteus waarsku teen mense wat die wet op ‘n beperkende wyse gebruik (in terme van die huwelik en dieet), teenoor die evangelie wat juis vryheid bring (1 Tim. 4:1-5).

Vanuit Paulus se persoonlike Damaskus-ervaring kan hy onomwonde verklaar dat die genade, geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus, betroubaar is en sonder voorbehoud aanvaar kan word.  Trouens, Paulus is by uitstek ‘n voorbeeld van hoe ruimhartig God is, omdat Hy hom aanvaar het ten spyte van sy vervolging van Jesus in die tyd van sy ongeloof.

Die stryd vir die geloof en ‘n goeie gewete – 1 Timoteus 1:18-20

Dit is met hierdie woorde in gedagte – 1) die regte begrip en gebruik van die wet, 2) die regte begrip en verstaan van die evangelie, en 3) Paulus as voorbeeld van hoe God se genade werk – dat Timoteus die goeie stryd moet stry, aan die geloof moet vashou en ‘n goeie gewete moet behou.

Hy moet ook onthou van diegene wat juis nie dít reggekry het nie, sodat sy geloof nie ook soos hulle s’n skipbreuk ly nie. Paulus verwys na Himeneus wat die vals leer verkondig het dat die opstanding reeds plaasgevind het (vlg. 2 Tim. 2:17-18) en Aleksander wat Paulus baie kwaad aangedoen het (vgl. 2 Tim. 4:14) moontlik deur hom by die owerhede aan te kla (Hiëronimus en Ambrosiaster verwys daarna in hulle kommentare op Timoteus in die 4de eeu n.C.).

Die verwysing na “aan die Satan oorgegee” beteken waarskynlik dat hulle onder tug geplaas is, en uiteindelik van deelname aan die gemeenskap van gelowiges uitgesluit is. Let op dat hulle gedissiplineer is, “om te leer”, nie verdoem is nie.

Boodskap en betekenis

Paulus roep Timoteus op om die goeie stryd van die geloof te stry in ’n tyd waar valse leraars die gemeente in Efese beïnvloed het met spekulatiewe mites, geslagsregisters en ’n verkeerde gebruik van die wet. Hy wys daarop dat die wet goed is wanneer dit reg verstaan en toegepas word, maar dat dit in diens van die evangelie moet staan – ’n evangelie wat gebou is op God se genade, liefde en geloof. Paulus gebruik sy eie bekering as voorbeeld dat selfs die grootste sondaar deur Christus gered kan word.

Die kern van ’n gesonde leer en lewe lê daarin om vas te hou aan die waarheid van die evangelie, ’n rein gewete te behou en dwaling aktief te weerstaan. Ware kennis is nie ’n geheime stelsel net vir die ingewydes nie, maar ’n openbare waarheid wat lei tot liefde en gehoorsaamheid aan God. Dwaalleraars wat hierdie beginsels verwerp, soos Himeneus en Aleksander, moet gekonfronteer en indien nodig onder tug geplaas word om die gemeente te beskerm en hulle moontlik tot inkeer te bring. Die oproep geld vir alle gelowiges om getrou te bly en nie geestelik skipbreuk te ly nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…