Skip to main content

Hosea 1:1-12

Hosea trou met die ontroue Gomer

Die profeet Hosea, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Amos, tree ook op in die agste eeu vC. Dit was volgens vers 1 die tyd van die Judese konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, sowel as die koning van Israel, Jerobeam II.

Hosea se boodskap is veral gemik teen die Noordryk van laasgenoemde koning, hoewel die Suidryk ook betrek is in die boodskap. Hy was waarskynlik self van die Noordryk afkomstig.

Ons hanteer eers die boodskap van hoofstuk 1:1 tot 5:17 wat op hierdie tyd gerig is. Die res van sy boek is gerig op die tydperk van Agas en sal dus ná ons daardie koning se verhaal hanteer het, gelees word.

Teks en konteks

Hosea teken die verhouding van God en die volk as ‘n huweliksverhouding. Die Here beskou dié verhouding egter as problematies, want dit is vir Hom asof Hy met ‘n prostituut getroud is.

Daarom is dit dan ook sy eerste opgetekende opdrag aan Hosea om met Gomer, ‘n prostituut, te trou en by haar kinders te hê. Hy sal dus self ervaar wat God ervaar, en die volk sal in Hosea se ervaring die wesenlike probleem van God se ervaring met hulle raaksien.

Die hoofstuk word in twee dele geskryf. Hosea 1:1-9 behels die opdrag van die Here en Hosea se uitvoering daarvan. Hosea 1:10-12 is ‘n boodskap van hoop wat daaraan gekoppel word.

Hosea 1:1-9 – Hosea trou met die prostituut Gomer

Let op dat Gomer reeds ander buite-egtelike kinders het, of “hoerkinders” soos die 2020-vertaling dit vertaal, dws kinders wat gebore is uit prostitusie. Die drie kinders wat Hosea en Gomer gesamentlik het, kry name wat ook as boodskappe aan die volk dien:

  1. Jisreël – Die naam van hierdie seun roep die verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here, deur die profesie van Elisa, oorskry het, en meer bloed vergiet het as wat die Here hom beveel het. God se opdrag was om die koningshuis van Agab uit te wis, en vir Isebel, sy vrou, wat in Jisreël gebly het. Jehu het egter soos ‘n mal mens tekere gegaan en nie net op grusame wyse almal uit die nageslag van Agab, die vroeëre koning van Israel, in Jisreël en Samaria, sowel as Isebel uitgewis nie, maar op die koop toe ook vir Ahasia, koning van Juda, sowel as sy broers, sonder enige sodanige opdrag van die Here. Dat van dié broers ook aan die Agabshuis verbind was via sy dogter Atalia, het hom nie in die oë van die Here verskoon nie. Gelukkig is een kind van Ahasia, Joas, vroeër in die tempel weggesteek, en kon later koning word, sodat die nageslag van Juda nie op dié punt heeltemal uitgesterf het nie. God soek gehoorsaamheid, ja, maar niks meer as wat Hyself beveel nie.
  2. Lo-Rugama (Sonder-ontferming) – Die naam van hierdie dogter simboliseer God se versaking van Israel in terme van vergifnis en beskerming. Juda sal wel sy ontferming bly geniet, in kontras met die uitwissing aan die hand van Jehu.
  3. Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) – Die naam van hierdie seun simboliseer dat God die verbondsverhouding met die volk opsê, omdat dit deur hulle deurbreek is. Die sin in die NAV: “Ek is nie julle God nie,” kan letterlik vertaal word met: “Ek is nie EK IS vir julle nie.” Dit is die naam waarmee die Here Homself aan Moses by die braambos bekend gestel het (Eks. 3:14), wat die terugtrekking nie net van sy verbondsverhouding met hulle impliseer nie, maar ook die opsegging van die openbaring van sy teenwoordigheid by hulle. Terloops, dit is natuurlik ook ‘n naam wat deur Jesus in die NT op Homself van toepassing gemaak is, waarmee Jesus verklaar het dat Hy nou God se teenwoordigheid is by elkeen wat in Hom glo.

Hosea 1:10-12 – “Julle is kinders van die lewende God”

Die Here gee egter nógtans ‘n belofte vir die toekoms, ‘n tyd waarin Hy vir die somtotaal van elkeen wat deel van Israel is die lewende teenwoordige Here sal wees – ‘n getal wat soos die sand van die see sal wees en nie getel of gemeet kan word nie en daarom ‘n duidelike herinnering is aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het (Gen. 22:17). “Julle is kinders van die lewende God.” Inderdaad.

Hierdie belofte van die Here kry ‘n nog dieper betekenis in die lig van die “EK IS” verwysing in vers 9. Die Here belowe dus dat sy verhouding met hulle so intiem en werklik sal wees soos wat Hy die pad met Abraham en Moses geloop het. En dié belofte sal geld vir elkeen wat deel van die Godsvolk sal word!

Daarby belowe die Here ‘n eenheid tussen die onderskeie dele van die ryke van Israel en Juda, onder een leier of hoof. Daarom, sê Hosea, kan hulle maar solank vir hulle broers sê: “Ammi (My volk)” en vir hulle susters: “Rugama (Ontferming)”. Die boodskap, wat eers in die toekoms sal waar word, kan solank in die hede omarm word.

Boodskap en betekenis

Die bedoeling van dié vreemde opdrag van die Here aan Hosea om met ‘n prostituut te trou, is bedoel om ons tot stilstand te ruk. Dit plaas ons voor die persoonlike vraag na die gehalte van ons eie verhouding met die Here. Ons moenie net vra, wat beteken God vir ons nie, maar eerder: “Hóé ervaar Hy vir ons?” Wat sou God oor ons sê, as iemand Hom sou vra na wat ons vir Hom beteken?! Sou Hy kon sê, Hy ervaar ons as mense wat getrou aan Hom leef? Óf sou Hy ons ook ervaar as mense wat ontrou is aan Hom?

God soek immers gehoorsaamheid. Want dán kan ‘n mens die intimiteit en werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar soos ‘n Abraham en ‘n Moses.

Die belofte van Hosea 1 is in Christus vervul. In die NT verwys Petrus in 1 Petrus 2:9-10 na die omkeer wat vir die volk van God in Christus gebring is. Hy verwys terug na hierdie beskrywing in Hosea 1:9 van die volk as Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) en in Hosea 1:6 as Lo-Rugama (Sonder-ontferming) om die wonder van die nuwe bedeling te beskryf:

Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het.

Paulus gebruik ook dié twee name in Romeine 9:25-26 (uit Hos 2:22) en noem die geroepenes uit die Jode sowel as die heidene “kinders van die lewende God” soos Hosea hulle hier beskrywe (Hos 1:10; vgl ook Rom 8:14 waar dit die Gees is wat getuig dat ons kinders van God is).

Die boodskap van hoop lê dus in die Here se besluit om nógtans ook vir ons te sê: “Julle is kinders van die lewende God.” HY hou die verhouding met ons in stand, selfs al lewe ons nie altyd in gehoorsaamheid nie. Hy bly die Een wat Hom oor ons ontferm. Daaroor kan ons net dankbaar wees.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar