Skip to main content

Hosea 1:1-12

Hosea trou met die ontroue Gomer

Die profeet Hosea, tydgenoot van Jesaja, Jona, Miga en Amos, tree ook op in die agste eeu vC. Dit was volgens vers 1 die tyd van die Judese konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, sowel as die koning van Israel, Jerobeam II.

Hosea se boodskap is veral gemik teen die Noordryk van laasgenoemde koning, hoewel die Suidryk ook betrek is in die boodskap. Hy was waarskynlik self van die Noordryk afkomstig.

Ons hanteer eers die boodskap van hoofstuk 1:1 tot 5:17 wat op hierdie tyd gerig is. Die res van sy boek is gerig op die tydperk van Agas en sal dus ná ons daardie koning se verhaal hanteer het, gelees word.

Teks en konteks

Hosea teken die verhouding van God en die volk as ‘n huweliksverhouding. Die Here beskou dié verhouding egter as problematies, want dit is vir Hom asof Hy met ‘n prostituut getroud is.

Daarom is dit dan ook sy eerste opgetekende opdrag aan Hosea om met Gomer, ‘n prostituut, te trou en by haar kinders te hê. Hy sal dus self ervaar wat God ervaar, en die volk sal in Hosea se ervaring die wesenlike probleem van God se ervaring met hulle raaksien.

Die hoofstuk word in twee dele geskryf. Hosea 1:1-9 behels die opdrag van die Here en Hosea se uitvoering daarvan. Hosea 1:10-12 is ‘n boodskap van hoop wat daaraan gekoppel word.

Hosea 1:1-9 – Hosea trou met die prostituut Gomer

Let op dat Gomer reeds ander buite-egtelike kinders het, of “hoerkinders” soos die 2020-vertaling dit vertaal, dws kinders wat gebore is uit prostitusie. Die drie kinders wat Hosea en Gomer gesamentlik het, kry name wat ook as boodskappe aan die volk dien:

  1. Jisreël – Die naam van hierdie seun roep die verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van die Here, deur die profesie van Elisa, oorskry het, en meer bloed vergiet het as wat die Here hom beveel het. God se opdrag was om die koningshuis van Agab uit te wis, en vir Isebel, sy vrou, wat in Jisreël gebly het. Jehu het egter soos ‘n mal mens tekere gegaan en nie net op grusame wyse almal uit die nageslag van Agab, die vroeëre koning van Israel, in Jisreël en Samaria, sowel as Isebel uitgewis nie, maar op die koop toe ook vir Ahasia, koning van Juda, sowel as sy broers, sonder enige sodanige opdrag van die Here. Dat van dié broers ook aan die Agabshuis verbind was via sy dogter Atalia, het hom nie in die oë van die Here verskoon nie. Gelukkig is een kind van Ahasia, Joas, vroeër in die tempel weggesteek, en kon later koning word, sodat die nageslag van Juda nie op dié punt heeltemal uitgesterf het nie. God soek gehoorsaamheid, ja, maar niks meer as wat Hyself beveel nie.
  2. Lo-Rugama (Sonder-ontferming) – Die naam van hierdie dogter simboliseer God se versaking van Israel in terme van vergifnis en beskerming. Juda sal wel sy ontferming bly geniet, in kontras met die uitwissing aan die hand van Jehu.
  3. Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) – Die naam van hierdie seun simboliseer dat God die verbondsverhouding met die volk opsê, omdat dit deur hulle deurbreek is. Die sin in die NAV: “Ek is nie julle God nie,” kan letterlik vertaal word met: “Ek is nie EK IS vir julle nie.” Dit is die naam waarmee die Here Homself aan Moses by die braambos bekend gestel het (Eks. 3:14), wat die terugtrekking nie net van sy verbondsverhouding met hulle impliseer nie, maar ook die opsegging van die openbaring van sy teenwoordigheid by hulle. Terloops, dit is natuurlik ook ‘n naam wat deur Jesus in die NT op Homself van toepassing gemaak is, waarmee Jesus verklaar het dat Hy nou God se teenwoordigheid is by elkeen wat in Hom glo.

Hosea 1:10-12 – “Julle is kinders van die lewende God”

Die Here gee egter nógtans ‘n belofte vir die toekoms, ‘n tyd waarin Hy vir die somtotaal van elkeen wat deel van Israel is die lewende teenwoordige Here sal wees – ‘n getal wat soos die sand van die see sal wees en nie getel of gemeet kan word nie en daarom ‘n duidelike herinnering is aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het (Gen. 22:17). “Julle is kinders van die lewende God.” Inderdaad.

Hierdie belofte van die Here kry ‘n nog dieper betekenis in die lig van die “EK IS” verwysing in vers 9. Die Here belowe dus dat sy verhouding met hulle so intiem en werklik sal wees soos wat Hy die pad met Abraham en Moses geloop het. En dié belofte sal geld vir elkeen wat deel van die Godsvolk sal word!

Daarby belowe die Here ‘n eenheid tussen die onderskeie dele van die ryke van Israel en Juda, onder een leier of hoof. Daarom, sê Hosea, kan hulle maar solank vir hulle broers sê: “Ammi (My volk)” en vir hulle susters: “Rugama (Ontferming)”. Die boodskap, wat eers in die toekoms sal waar word, kan solank in die hede omarm word.

Boodskap en betekenis

Die bedoeling van dié vreemde opdrag van die Here aan Hosea om met ‘n prostituut te trou, is bedoel om ons tot stilstand te ruk. Dit plaas ons voor die persoonlike vraag na die gehalte van ons eie verhouding met die Here. Ons moenie net vra, wat beteken God vir ons nie, maar eerder: “Hóé ervaar Hy vir ons?” Wat sou God oor ons sê, as iemand Hom sou vra na wat ons vir Hom beteken?! Sou Hy kon sê, Hy ervaar ons as mense wat getrou aan Hom leef? Óf sou Hy ons ook ervaar as mense wat ontrou is aan Hom?

God soek immers gehoorsaamheid. Want dán kan ‘n mens die intimiteit en werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar soos ‘n Abraham en ‘n Moses.

Die belofte van Hosea 1 is in Christus vervul. In die NT verwys Petrus in 1 Petrus 2:9-10 na die omkeer wat vir die volk van God in Christus gebring is. Hy verwys terug na hierdie beskrywing in Hosea 1:9 van die volk as Lo-Ammi (Nie-my-volk-nie) en in Hosea 1:6 as Lo-Rugama (Sonder-ontferming) om die wonder van die nuwe bedeling te beskryf:

Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het.

Paulus gebruik ook dié twee name in Romeine 9:25-26 (uit Hos 2:22) en noem die geroepenes uit die Jode sowel as die heidene “kinders van die lewende God” soos Hosea hulle hier beskrywe (Hos 1:10; vgl ook Rom 8:14 waar dit die Gees is wat getuig dat ons kinders van God is).

Die boodskap van hoop lê dus in die Here se besluit om nógtans ook vir ons te sê: “Julle is kinders van die lewende God.” HY hou die verhouding met ons in stand, selfs al lewe ons nie altyd in gehoorsaamheid nie. Hy bly die Een wat Hom oor ons ontferm. Daaroor kan ons net dankbaar wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…