Skip to main content

Rigters 8

Gideon verhinder die Here se invloed deur politiekery, gierigheid en afgodery

Teks en konteks

Gideon kry dit nie reg om te volhard tot die einde van sy lewe nie. Van die redes wat daarvoor uitstaan uit sy verhaal is die volgende:

  1. Gideon wil telkens fisiese tekens hê wat God se woorde moet staaf. Soos die vuur wat uit die rots kom om die offer wat Gideon voorberei het, verteer. Selfs as die Gees van die Here van Gideon besit neem (Rigt 6:34), dan vra Gideon die Here moet nog twee tekens vir hom gee. Die vag wol moet nat wees en die grond rondom droog. En net daarna moet dieselfde vag wol droog wees en die grond rondom nat (Rigt 6:36-40).

In dit alles wys die Here sy geduld en genade vir Gideon. Hy laat Gideon nie aan sy eie genade oor nie. Hy sorg dat Gideon die roeping wat Hy vir hom het, kan deurvoer. Hy sorg dat Gideon die Midianiete verslaan. En Hy doen dit op ‘n wonderbaarlike manier, net met 300 man. Dit is eintlik die swaard van die Here wat die oorwinning bring, nie die swaard van Gideon nie.

Dit is egter nie vir Gideon genoeg nie. Hy kry dit net nie reg om volledig op God te vertrou nie.

  1. Wanneer die Midianiete op die vlug slaan, nie soseer omdat Gideon-hulle ‘n geraas gemaak het die nag nie, maar omdat die Here dit bewerk het dat hulle mekaar net daar in die kamp begin doodmaak, maak Gideon verder die fout om die oorwinning in ‘n bloot menslike een te begin verander. Hy volstaan nie met die soldate wat die Here hom gegee het nie. Nee, hy stuur boodskappers na die manne van Efraim en roep hulle ook op om saam te veg (Rigt 7:24-25). En hulle gehoorsaam, maar val dan uiteindelik vir Gideon aan, want hulle verkwalik hom dat hy aanvanklik net met die 300 soldate geveg het. Hulle is vies vir hom dat hy hulle uitgelaat het (Rigt 8:1).

  2. Gideon probeer hulle daarom heel diplomaties die heuning om die mond smeer met die metafoor van die na-oes van Efraim se druiwe wat dan kwansuis beter sou wees as die volle oes van sy familie in Manasse (Rigt 8:2). Al probeer hy tog ook wys daarop dat dit God is wat die oorwinning gee, loop hy deurentyd die gevaar dat hy met sy poging om hulle te paai die oorwinning na ‘n bloot menslike een toe degradeer. Hy begin dus doodgewone diplomatiese politiek bedryf, want hy probeer mense tevrede stel (Rigt 8:3).

Gideon slaag wel daarin om die manne van Efraim se bui te laat sak en vrede met hulle te maak, maar die skade is reeds gedoen. Want as jy eers begin om na ander se pype te dans, dan sal jy dit uiteindelik vir almal moet doen.

Dit sien ‘n mens direk hierna by die mense van Sukkot (in die stamgebied van Gad) wat hulle nie wil help in die agtervolging van twee ander Midianitiese konings, Sebag en Salmunna, nie (Rigt 8:4-7). Dit laat Gideon sy humeur verloor en hy sweer wraak teen hulle, ook teen die mense van Pniël wat hom en sy manne op dieselfde laakbare manier hanteer (Rigt 8:8-9).

Uiteindelik moet Gideon dus optree teen dié mense wat hy probeer paai het. Ná die uitmergelende oorlog teen die Midianiete het hy hulle wreed gemartel met doringstruike en haakdorings. Pniël se toring het hy platgeslaan en die mense van die stad doodgemaak.

  1. Die gevolg is dat God uit die prentjie verdwyn. Dit sien ons in die tragiese wending wat sy verhaal inneem as Gideon sy oudste seun, Jeter, nog ‘n blote kind, probeer oorreed om die twee gevange konings, Sebag en Salmunna, om die lewe te bring. Einde ten laaste maak hy hulle self dood en neem die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom self. Dié versierings was moontlik ‘n aanduiding van hulle koninklike status.

Geen wonder dat die Israeliete nou vir Gideon koning wil maak nie. Want, as jy eers jou voet op ‘n pad gesit het waarin jy jouself op ‘n kragdadige wyse moet handhaaf, dan is daar nie meer keer nie. Die Israeliete wou dus hê dat Gideon ‘n dinastie van konings moet stig sodat hy en sy nageslag hulle met mag en mening kon verdedig.

Die gevolg is, die Here en sy verlossing word op die agtergrond geskuif, ook in die gedagtes van die mense.

  1. Gideon val uiteindelik vir die versoeking van gierigheid. Tot sy krediet weier Gideon dié aanbod, want die Here moes die enigste koning bly, het hy gesê. Maar, die versoeking was net te groot vir hom. Gideon se gierigheid kry die oorhand oor hom. Hy maak ‘n efod-beeld. Die verhaal van Aäron en die goue kalf speel hom dus nou weer in ‘n ander gedaante af en verlei die volk tot afgodery. Die efodbeeld is uiteindelik aanbid as ‘n afgodsbeeld. Die beeld het dus vir Gideon self en vir sy mens ‘n valstrik geraak en hulle ontrou aan die Here gemaak.

So, al het Gideon sy mense van die juk van die Midianiete verlos, het hy dit nie reggekry om die mense aan God en aan God alleen te verbind nie. Dit is wat altyd gebeur as ‘n mens enige ander oorweging in die plek van God plaas. Hetsy om mense op ‘n diplomatiese wyse aan jou kant te kry of om mense hulle sin te gee deur te doen wat hulle goedvind, eerder as dit wat die Here goedvind.

  1. Afvalligheid wreek hom uiteindelik ook op jouself. Trouens, dit baat jouself uiteindelik ook nie! As jy vir mense gee wat hulle wil hê, is die uiteinde nie net dat hulle die Here verlaat nie. Die uiteinde is dat hulle jou ook verwerp. Die volgende hoofstuk sal selfs wys hoe sy eie kind, Abimelek, teen hom in opstand kom, en vir groot hartseer in Israel verantwoordelik was (Rigt 9).

Tog, ten spyte van die verspilde kanse om die volk te leer dat die oorwinning werklik aan God self behoort en dat niemand sy eer moet probeer steel nie, het hierdie oorwinning 40 jaar se vrede gebring van die Midianiete.

Boodskap en betekenis

So, wat maak ‘n mens van die verhaal van Gideon?

Die oordeel van die NT oor die Rigterstyd is nie so negatief as wat ons miskien sou verwag nie.

Dit is veral die Hebreërskrywer wat vol lof is vir die rigters. As hy terugdink aan die Rigterstyd dan sluit hy vyf van die rigters in as geloofshelde:

32En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – (Hebr 11:32)

Hulle word in dieselfde asem as koning Dawid en die profete genoem. Trouens, nie een van die profete se name word genoem nie, net dié van die rigters.

Die skrywer lys van die dinge wat hierdie rigters onder andere gedoen het wat hulle laat kwalifiseer vir die galery van geloofshelde – en ‘n mens kan Gideon se naam by ‘n hele paar van dié gebeure plaas, miskien veral die wat “krag ontvang het in hulle swakheid” (Hebr 11:33-38).

Die beste perspektief hou die Hebreërskrywer egter vir laaste, en dit is dat baie van dié geloofshelde nie gekry het wat beloof is nie, al het hulle met hulle hele wese uitgesien daarna, omdat God nie wou hê dat hulle die voleinding bereik sonder ons nie:

39En hoewel daar oor al hierdie mense vanweë hulle geloof met lof getuig is, het hulle nie die belofte ontvang nie, 40aangesien God iets beters vir ons voorsien het, sodat hulle nie sonder ons volmaak gemaak sou word nie. (Hebr 11:39-40)

Voordat ons dus ‘n te onbarmhartige oordeel oor die rigters fel en oor die tyd waarin hulle opgetree het, dink daaraan dat dit deel van God se beplanning was ter wille van ons. As hulle die voleinding sou bereik het in hulle eie tyd, sou ons miskien nooit die lig gesien het nie.

Maar, dan gaan die Hebreërskrywer verder en roep ons op in Hebreërs 12:1:

1Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

Ons moet luister na die groot wolk van getuies – ook na Gideon – en leer uit sy verhaal. Ons moet hoor dat ons die laste moet afgooi en die sonde wat ons so maklik verstrik. In Gideon se geval dat hy op mense begin staatmaak het. Dat sy gierigheid die oorhand gekry het. Dat hy uiteindelik gedoen het wat die mense gevra het, en hulle so in afgodsdiens laat beland het met die efodbeeld.

Ons moet ons oog rig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (Hebr 12:2-3).

Gideon is ‘n onvolmaakte voorbeeld van geloof en gehoorsaamheid. Ons kan en moet baie by hom leer. Maar, die eintlike een wat ons moet begelei is die Here Jesus self. Hy is nie net die begeleier van ons geloof nie – die Leidsman. Hy is ook die Voleinder van dié geloof, ook jou geloof.

Hy het nie teruggedeins toe Hy vir sy geloof moet ly nie. Hy het die kruis verduur – al was Hy onskuldig – en die beloning vir sy volharding gekry. Die ereplek aan die regterkant van die troon van God.

Al het almal teen Hom opgestaan – soos Gideon dit ook ervaar het van die Eframiete, en van die stede van Sukkot en Pniël – al het die Jode hulle vyandskap op die ergste moontlike manier op Jesus laat neerkom, het Hy nie geestelik moeg geraak en uitgesak nie. Nee, Hy het volhard tot die einde toe.

En daarom sê Hebreërs 12:4 vir ons:

4Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Dit is immers waar ons grootste stryd vandag nog lê. Om nee te sê vir die sonde. Om ons nie oor te gee aan die suigkrag van die sonde wat ons slawe maak van ons eie en die wêreld se begeertes, maar toe te laat dat die Here ons reinig van alle ongeregtigheid.

Ek sluit met die wyse waarop die apostel Petrus hierby aansluit. Hy sê in 2 Petrus 3:15

15En beskou die lankmoedigheid (geduld) van ons Here as ‘n geleentheid tot verlossing.

God se geduld met Gideon moet ons aanmoedig en bemoediging in ons eie geloof. Want, ons kan in die pad wat God met hulle geloop het, God se geduld en genade aan die werk sien.

Beskou God se geduld met jou as ‘n geleentheid om Hom nie net te vra vir verlossing nie, maar te leef in die verlossing wat Hy gee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.