Skip to main content

2 Korintiërs 2:12-3:18

Ons raak God se woorde aan die wêreld

Paulus vertel in 2 Korintiërs 2:12-13 van sy reis van Efese na Troas en daarna na Masedonië op soek na Titus. Hy onderbreek dan dié berig van sy reis om oor die triomftog van die evangelie uit te brei van 2 Korintiërs 2:14 af tot by 2 Korintiërs 7:1 waarin veral op die werk van die Gees gefokus word wat ons gehoorsaam maak aan die bediening van die versoening in Christus.

Paulus sal sy reisverhaal in 2 Korintiërs 7:2 hervat met sy blydskap om Titus daar te kry wat ook nuus van die Korintiërs gebring het dat hulle hom graag weer sou wou sien, waarna hy onder andere verder oor Christelike vrygewigheid, Titus se werk, hulpverlening aan gelowiges en die noodsaak van onderskeiding rondom apostels sal skryf.

Ons lees vandag van Paulus se reis (2 Kor. 2:12-13), die triomftog van die evangelie (2 Kor. 2:14-17), met ons as die bedienaars van die nuwe verbond (2 Kor. 3:1-18).

Teks en konteks

Paulus se besorgdheid oor Titus laat hom na Macedonië vertrek – 2 Korintiërs 2:12-13

Dit is heel waarskynlik dat hierdie reis na Masedonië dieselfde een is waarvan Lukas ons vertel in Handelinge 20, hoewel Lukas daar niks van Paulus se wroeginge rondom Titus vertel nie. Die min detail is waarskynlik te wyte daaraan dat Lukas in Filippi agtergebly het (Hand. 16) met Paulus se tweede sendingreis en eers weer ‘n paar jaar later (ook in Troas) by hulle aangesluit het tydens Paulus se derde sendingreis op die finale tog na Jerusalem.

Paulus gee ons hier dus meer inligting en wei uit oor Titus se sending na Korinte om nuus van die gemeente te bekom. Toe dít nie gou genoeg kom nie, het Paulus hom gaan soek. In 2 Korintiërs 7:5-7 sal Paulus ‘n nog meer persoonlike perspektief daarop gee deur uit te brei oor hulle eie ervaringe in dié tyd – dat hulle geen rus of duurte gehad het nie, dat daar van alle kante druk was op hulle, van buite onenigheid en van binne sorge, kortom dat hulleself bemoediging nodig gehad het (vgl ook 2 Kor. 1:8-9 wat na die soortgelyke situasie in Efese verwys).

Dit tref my hoe dit presies in sulke omstandighede is wat hulle die ervaring van God se sorg ondervind: “Maar God wat die neerslagtiges opbeur” – soos ons later sal lees – het “ons ook opgebeur deur die koms van Titus” (2 Kor. 7:6). God werk dus deur die gemeenskap van gelowiges, wat vir ‘n mens verklaar hoekom Paulus nie gemoedsrus kon kry in Troas nie, selfs al was daar ‘n oop deur vir die evangelie. Dit het hom laat deurdruk na Masedonië, en hy het eers tot rus gekom toe hulle met Titus verenig is.

Hierdie intens persoonlike ervaringe van Paulus laat my die loflied wat hy in vers 14 aanhef oor die triomftog van die evangelie anders lees. God soek nie in die eerste plek “lone rangers” wat lyk asof geen ontbering hulle van stryk bring nie. Nee, hy soek mense wat, in afhanklikheid van Hom, bewus van hulle broosheid, in noue gemeenskap met mekaar die geur van Christus versprei in die wêreld.

Die triomftog van die evangelie – 2 Korintiërs 2:14-17

Paulus dank God dat Hy ons altyd deur Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. Ons is ‘n aangename geur van Christus aan God met ‘n dubbele uitwerking op mense. Vir dié wat verlore gaan, is dit ‘n reuk van die dood. Vir dié wat verlos word, is dit ‘n reuk van die lewe.

Daarom hou Paulus hom aan vier beginsels om reg daaraan te laat geskied. Hy doen dit:

  1. in opregtheid,
  2. “asof vanuit God” – met ‘n duidelike opdrag van en verantwoordelikheid aan God,
  3. “voor God” – in die teenwoordigheid van God, en
  4. “in Christus” – en verbonde aan Christus,

Ons is bedienaars van die nuwe verbond – 2 Korintiërs 3:1-18

Paulus hoef dus nie homself weer by die Korintiërs aan te beveel nie, want hulle lewer self getuienis lewer van die werk wat in hulle gedoen is. Die Korintiërs is Paulus-hulle se aanbevelingsbriewe. Alle mense kan sien dat hulle as gemeenskap ‘n brief van Christus is wat deur Paulus-hulle se diens geskryf is.

Hy gaan verder om dié diens op ‘n beeldende manier te beskrywe. Let op hoe al die metafore vir sy bediening – wierook, briewe, spieëls – in hoofstuk 2 en 3 met ‘n publieke sigbaarheid van die evangelie te make het.

  • Hulle is soos wierook wat ‘n geur versprei aan die hele wêreld. Paulus werk hier met ’n beeld van die wierook wat in ’n tempel gebrand word. Soos die geur van die tempel af versprei, het dit ’n effek op die mense wat dit ruik.
  • Hulle is ook soos ‘n oop brief wat deur die wêreld gelees kan word.
  • Hulle weerspieël die heerlikheid van die Here aan die wêreld soos in ‘n spieël.

Telkens gaan dit oor die boodskap van Christus wat deur hulle versprei word.

Interessant genoeg word die effek van hierdie boodskap ook op drie verskillende maniere uitgespel.

  • Die beeld van die wierook word gebruik om om die verkiesing van God te illustreer: dit bring ‘n lewensgeur vir dié wat gered word, en ‘n doodsreuk vir dié wat verlore gaan.
  • Die beeld van die briewe word gebruik om aan die een kant die apostels se werk aan te beveel, maar ook die nuwe verbond te illustreer wat God tot stand gebring het met mense.
  • En die beeld van Christene as spieëls van God se heerlikheid het die ongelooflike betekenis dat die spieëls SELF verander word om soos Christus te word. Die spieëls reflekteer dus nie net die heerlikheid van God nie, hulle word letterlik verander om soos Christus te begin lyk.

In die proses kontrasteer Paulus die ou verbond met sy basis in die wet, met die nuwe verbond met sy basis in die Gees. Ons het nie net God se woorde in ons hande nie, ons het dit in ons harte.

Die bediening van Moses in die ou verbond was heerlik, maar word heeltemal oorskadu deur die heerlikheid van die bediening van die Gees. Onder andere omdat Moses se bediening gelei het tot veroordeling weens die sonde, en die bediening van die Gees gelei het tot regverdiging weens Christus.

Dit is waarom Paulus-hulle met soveel vrymoedigheid kan optree. Die verharde denke wat die boodskap van die Woord versluier, word in Christus verwyder. Die Gees van God bring daardeur vryheid sodat ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here kan aanskou, en na sy beeld verander kan word.

Boodskap en betekenis

Wat my bybly van dié gedeelte is die vier beginsels waaraan ek my eie bediening ook moet meet – in opregtheid, besig met my opdrag en verantwoordelik aan God, en verbonde aan Christus.

Maar die belangrikste is dat mense God deur ons lewens hoor. Ons raak fisies God se woorde aan mense. Dit is revolusionêr! My kinders lees my, my vrou lees my, my kollegas lees my, my naaste voor my deur lees my. Dit is ‘n ongelooflike voorreg… en ‘n ontsaglike verantwoordelikheid.

Gelukkig staan daar darem ook regdeur dat dit aan God se werk aan ons te wyte is: “aan God die dank! Hy voer ons altyd saam…” (2 Kor. 2:14). En: “geskrywe… met die Gees van die lewende God” (2. Kor. 3:3). Ook: “Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18). Anders sou dit net ‘n onhaalbare droom gewees het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda