Skip to main content

1 Konings 3-4

Salomo kry ‘n luisterryke hart van die Here

Die verhaal van Salomo word voortgesit met klem op sy wysheid en voorspoed. ’n Tema wat uiteindelik tot sy afvalligheid aanleiding sou gee, word egter ook hier aangeraak; sy huwelik met Farao se dogter. Salomo was lief vir uitlandse vroue en hulle afgode sou hom verlei om hulle te aanbid.

Teks en konteks

Let op dat Salomo steeds op die hoogtes offer, hier by die vernaamste een in Gibeon. Dit was ook die plek waar die tent van ontmoeting nou was (2 Kronieke 1:2-13). Dit is betekenisvol dat dit juis hier is waar die Here in die droom aan Salomo verskyn soos Hy dit vroeër ook aan Samuel gedoen het in Silo waar die ark en die tabernakel aanvanklik geplaas is.

Nadat Saul vroeër die stad Nob en die priesters laat vernietig het (1 Sam 22), is die tabernakel na Gibeon geskuif (1 Kron 16:39-40). Die tabernakel was nog ‘n geruime tyd daar (1 Kron 21:29), maar sonder die ark, want dit is reeds vroeër deur Dawid na Jerusalem toe geneem. Die ark word uiteindelik deur Salomo in die tempel geplaas.

Terloops, na die val van Jerusalem in 586 vC is die ark nooit weer gesien nie. Daar is historiese bronne wat vertel dat ‘n rots die ark se plek in die Allerheiligste ingeneem het. Daar is ook baie wat glo dat die ark beveilig is in ‘n grot wat deur Salomo onder die Tempelberg in Jerusalem gebou is. En daar is ook ‘n tradisie dat die ark na Ethiopië geneem is, en daar bewaar word.

Hoe dit ook al sy, die ark is waarskynlik nie teenwoordig in die tempel in die NT tyd nie.

Terug by die verhaal. Salomo wys sy liefde vir die Here deur gehoorsaam te wees aan die opdragte van sy pa. Let op hoe hy Dawid ook in sy droomgesprek met die Here erken en respekteer.

Hy vra vir gehoorsaamheid aan God dat hy reg sal regeer en in alles insig sal hê. Gehoorsaamheid in die oorspronklike beteken eintlik ’n “luisterryke hart” of soos die NIV vertaal “discerning heart”.

God gee daarmee vir hom die ander goed ook, dié dinge wat hy nie gevra het nie.

Daarna keer Salomo terug na Jerusalem toe en bring sy offers daar.

En die wysheid wat God gee is onmiddellik sigbaar met die uitspraak wat hy gee in die geval van die seuntjie wat doodgelê is.

  • Dit kan wees dat hy die hart van ‘n vrou geken het, en geweet het dat die werklike ma se hart inmekaar sou krimp as sy moes toesien dat haar kind in twee stukke gekap sou word – soos inderdaad gebeur het toe hy die kind wou middeldeur sny.
  • Dit kan wees dat hy die storie van Rispa sou onthou, die vrou wat onverpoosd, dag en nag, van die oestyd af tot die reëntyd oor haar seuns se lyke gewaak het, toe hulle deur die Gibeoniete doodgemaak is, soveel so dat koning Dawid se hart versag het, en hy beveel het dat hulle ordentlik begrawe kon word (2 Sam 21).

Die optrede van Salomo verleen hom hoë agting in die oë van die volk as ’n man wat Goddelike wysheid het. Hy raak bekend vir sy spreuke, liedere en gedigte in die hele Midde-Ooste (1 Kon 4:29-34). Let op hoe die onderwerpe waaroor hy skrywe ook die aarde en die skoonheid van plant en dier insluit.

Twee van die streekbestuurders was getroud met Salomo se dogters wat sy greep op die administrasie verklaar.

Die beloftes aan Abraham word waar: “Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see.” (1 Kon 4:20) Interessant dat van hulle gesê word dat hulle gelukkig was.

Salomo het ’n groot huishouding gehad: 15 ton meel per dag, 30 beeste en 100 skape behalwe die wild en hoenders!

Salomo heers oor die grootste gebied van al die Israeliese konings. Hy verwesenlik die Abrahamitiese droom om die land te besit van Dan tot Berseba. Die ideaal van “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (1 Kon 4:25) word bereik en bly ook die ideaal waaraan die profete die toekoms meet.

Boodskap en betekenis

Wat van Salomo uitstaan, is dat hy dit reggekry het om te luister. Presies wat hy van die Here gevra het. Hy kon aandagtig luister, dit oordink, en met die insig wat die Here hom gee, ‘n uitspraak maak.

En die wysheid wat God hom gee, was inderdaad indrukwekkend.

  • Ons sien dit in die verhaal van die 2 vroue wat stry oor die oorlewende kind, hoe hy met insig luister.
  • Ons sien dit later in die uitstekende plan wat Salomo beraam met die houtkappery vir die tempel. Hy werk met die gedagte van skofte vir sy werkers: 1 maand weg met die kappery in Libanon en 2 maande terug by die huis (1 Kon 5). En laat ons ook onthou dat met die bou van die tempel hy daarin geslaag het om die godsdiensbeoefening van Israel te verenig, iets wat daarvoor nog nie moontlik was nie.
  • Hy is verantwoordelik vir ‘n hele aantal spreuke en psalms waarvan ‘n hele paar in die Bybel opgeneem is (Spreuke, Hooglied, Prediker, Psalm 72 en 127).
  • In plaas van veldslae, gaan hy verdrae aan met die ander volke en raak bekend vir sy oorleg en wysheid. Hy is nie net bekend vir ons deur die Bybel en die Spreuke van Salomo nie. Daar is talle verhale van hom in die Arabiese en Ethiopiese geskiedenis. In talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hulle hom as ‘n wyse, en verheerlik sy intellek en ander vermoëns. In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.

Die feit dat Salomo uiteindelik in sy middel-vyftigs die pad byster geraak het, lief geword het vir perde (simbool van mag) en die afgode van sy baie vroue – ten minste liewer vir hulle geword het as vir die Here – neem nie weg dat hy ‘n ongelooflike gawe gehad het nie, die gawe van wysheid.

Bybelse wysheid draai dus eintlik om een kern vermoë, die vermoë om te luister, na God in die eerste plek en na die mense met wie ons in aanraking kom.

Die wonder is, wysheid is presies wat God vir ons wil gee!

Jakobus 1:5-6

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

Net soos hier vir Salomo – die Here wil vir ons ‘n “luisterende hart” gee. Soos die Kronieke skrywer op ‘n ander plek sê: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…