Skip to main content

2 Samuel 7

God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag

Dit is so twintig jaar vandat Dawid koning geword het. Hy het van ‘n skaapwagter gevorder tot koning. Van ‘n herder van skape na ‘n herder van mense. Hy het ongelooflik baie vermag. Hy het Goliat verslaan. Hy het die verraderlike Saul uitoorlê. Hy het die twee dele van Israel verenig. Die noorde en die suide. Hy het die meeste vyande van Israel verslaan. Sy eie paleis was klaar gebou. Hy het die ark gaan haal by die Filistyne en in sy nuwe hoofstad Jerusalem die ereplek in die tabernakel gegee. Hy het begin dink wat nog. Wat kan ek nog doen?

Dan lees ons in 2 Samuel 7 dat die Here weer ‘n keer die inisiatief neem, en ‘n langtermyn verhouding, ‘n verbond, met Dawid sluit, verseël met tien groot beloftes (2 Sam 7:1-17).  Dit roer Dawid om te gaan sit voor die Here, waarskynlik in die tent wat Dawid vir die Tabernakel opgerig het (2 Sam 6:17) en sy hart in ‘n diepgaande gebed aan die Here verbind waarin hy vra dat die Here dié beloftes in hulle volheid sal vervul (2 Sam 7:18-29).

Teks en konteks

Dit tref my dat Natan Dawid se versoek om vir die Here ‘n huis te bou aanvanklik positief antwoord, en nogal daarby voeg: “Die Here is met u.” En dan korrigeer die Here sy profeet, en keer Dawid om ‘n tempel te bou, omdat God eerder die Dawidshuis gaan bou en bestendig vir altyd. Daarmee wys God twee goed:

  • dat dit Hy is wat die inisiatief neem en nie afhanklik is van enigiets wat sy volk vir Hom doen nie, en
  • dat Hy nie ‘n korttermyn God is nie, maar een wat op die langtermyn met Dawid se nageslag en die volk Israel ‘n verhouding het.

Daar is dus ‘n fundamentele verskil in hoe God oor Dawid se nageslag en dié van Saul praat. God het sy seën van Saul en sy nageslag onttrek, maar belowe aan Dawid, dat selfs as sy nageslag ontrou is aan God, sal Hy nie sy trou aan hulle onttrek nie. Daar is wel die verwagting dat Dawid en sy nageslag aan God sal behoort en aan Hom getrou sal bly, maar dit word nie as voorwaarde vir God se verbintenis aan hulle gestel nie.

Die toesegging word in ‘n werklik grootse reeks van beloftes aan Dawid gegee. Dit is van dieselfde omvang as die beloftes in die verbond aan Abraham, maar hierdie keer beloftes wat selfs rekening hou met die moontlike sonde en afdwaling van die nageslag wat God belowe.

Geen wonder dat dit in die omgangstaal as ‘n Dawidsverbond bekend geword het nie. Jeremia sou dié belofte uitbrei na die hele volk (Jer 31) en Jesus, die seun van Dawid, na die hele mensdom (Joh 3). Dit vorm ook die agtergrond vir Paulus se beskrywing van gelowiges se verhouding met God in 2 Kor 6:16-18.

Die beloftes in vers 9b-16 kan in die volgende tien punte opgesom word:

  1. Ek sal vir jou ‘n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is.
  2. Ek sal vir my volk, vir Israel, ‘n plek aanwys. Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie.
  3. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Ek sal jou rus gee van al jou vyande.
  4. Die Here maak aan jou bekend dat Hy, die Here, ‘n huis vir jou sal oprig.
  5. Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree.
  6. Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir my Naam ‘n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan.
  7. Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.
  8. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met ‘n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien.
  9. Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het.
  10. Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.

Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra.

Dit roer Dawid om te gaan sit voor die Here, waarskynlik in die tent wat Dawid vir die Tabernakel opgerig het (2 Sam 6:17) om te vra dat God hierdie toesegging sal waar maak, vir hom en sy nageslag EN vir sy volk.

En let op dat Dawid as dienskneg bid, nie as koning nie. ‘n Uitvoerige gebed waarin hy dankie sê. Waarin hy bid dat wat God sê waar sal word. Waarin hy bid dat God sy woord gestand sal hou. Waarin hy bid dat God se Naam vir ewig groot sal wees.

Boodskap en betekenis

God wil dus met hierdie beloftes vir Dawid herinner aan wie Hy werklik is. Al lyk die tent van God vir Dawid minderwaardig, is God groter as die grootste en duursaamste gebou. God wil vir Dawid ook herinner aan wie Dawid is. Al is Dawid die koning, is hy in vergelyking met God, net ‘n dienskneg. Dawid moet doen wat God beplan. Nie wat hyself dink goed is nie.

Maar, die Here is nie kwaad vir Dawid nie. Hy het net ‘n ander plan met hom. Dawid wou vir die Here ‘n huis bou. Maar, dit sou inmeng met wat God besig was om vir Dawid te doen. Die Here was besig met ‘n langtermyn plan, trouens, ‘n ewige plan. En Dawid se goedbedoelde planne was ‘n hindernis vir God se planne.

God praat dus met Dawid oor wat Hyself gedoen het, steeds doen, en in die toekoms gaan doen. God is die aktiewe een. En selfs met die idee van Dawid rondom die tempel sal God die aktiewe Een bly. Dit is net, Dawid gaan dit nie doen nie. Die bouwerk is God se plan vir Salomo. Salomo sal die tempel bou.

Maar, selfs Salomo se bouwerk is ook nog net die begin van wat God gaan doen. Die eintlike bouplan van God is ‘n ewige koninkryk. ‘n Koninkryk wat met die Seun van God moontlik sal word, die Een wat in die volheid van die tyd gebore sal word.

Dit beteken ons hoef nie vir God ‘n helpende hand te gee nie. Hy is God en niks of niemand kan Hom in ‘n gebou vasvang, of in ‘n gedagte nie. Hy is groter as wat ons ooit kan dink of droom. Hy is die Een wat ons help. Hy is die Een wat ons huis bou. Hy is die Een wat vir ons sorg.

Dit beteken ook dat ons God moet raadpleeg oor alles. Ons kan so maklik besluit om dinge te doen omdat dit vir ons lofwaardig en selfs God vererend lyk en klink, sonder om God te raadpleeg. Natan keur Dawid se planne goed sonder om God te raadpleeg. Gebed bly die voorloper van elke plan wat die mens (en veral die kerk) bedink.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…