Skip to main content

Titus 1

Gesonde geloof is die basis vir ‘n gesonde gemeente

Paulus skryf waarskynlik hierdie brief aan Titus op dieselfde tydstip as die eerste brief aan Timoteus vanuit Masedonië (Tit. 3:12) in 62-63 nC op sy “vierde sendingreis”.  Daarom hanteer ons hierdie brief voor Paulus se laaste (behoue) brief, die 2de brief aan Timoteus.

Titus se Griekse afkoms het hom besonder geskik gemaak om die evangelie aan Grieke te verkondig (Gal. 2:3).  Hy het onder Paulus se bediening tot bekering gekom, waarskynlik in Antiogië, omdat hy Paulus-hulle na Jerusalem vergesel met die vergadering se besinning oor die besnydenis (Gal. 2:3; Hand.. 15).  Hy werk in Korinte, Dalmasië en op die eiland Kreta.  In Korinte was hy ‘n soort “trouble-shooter” om die tweespalt in die gemeente te ontlont.

Hierdie brief is ‘n uiteensetting van die dinge waarop hy moet fokus in sy bediening in Kreta, toegespits op ‘n gesonde geloofslewe (Tit. 1:13), weereens meer as ‘n “trouble-shooter”, totdat Artemas en Tigikus daar sou aankom (Tit. 3:12).  Soos dit die geval was met die briewe aan Kolosse en Efese, is dit nou ook die geval met die brief aan Titus en die 1ste brief aan Timoteus. Die temas wat aangeraak word, kom baie ooreen.  Sommige beskou die brief aan Titus daarom as ‘n kleiner weergawe van 1 Timoteus.

Weereens word die valse leringe van dwaalleraars – dit kon selfs van die plaaslike huiskerk ouderlinge in die verskillende dorpe (Tit. 1:5) gewees het – aangevat, en die gesonde leer daarteenoor beklemtoon.

Let egter op:

  • dat die kwalifikasie vir ouderlinge in Titus eerste aangeraak word (Tit. 1:5-9), voor daar oor die dwaalleraars gepraat word (Tit. 1:10-16; 3:9-11). In Timoteus was dit juis andersom.  Die rede is waarskynlik dat Timoteus in Efese gewerk het met ‘n gemeente wat al 12 jaar aan die gang was, en die gemeentes in die dorpe van Kreta so pas maar begin het.
  • dat die gedeelte wat handel oor jongmans en -vroue, sowel as oor slawe (Tit. 2:1-10), ‘n langer uitbreiding van die basiese gegewens van 1 Timoteus 5:1-2 en 6:1-2 is.

Paulus het ‘n geweldige  vertroue in Titus gehad: “handel hy en ek nie in dieselfde gees nie, en loop ons nie in dieselfde spore nie!” (2 Kor. 12:18).  Voorwaar ‘n jongman wat ‘n groot bate vir die vroeë kerk was.

Teks en konteks

Twee perspektiewe sal jou help om dié brief se boodskap beter te verstaan.

Aan die een kant skryf Paulus hierdie brief om vir Titus en die onderskeie dorpsgemeentes te help met die ontwikkeling van hulle bediening. Daarom spandeer hy tyd aan die wyse waarop die leierskap moet werk (hoofstuk 1), hoe ‘n mens kan sorg dat die gesonde leer gehandhaaf word (hoofstuk 2), en hoe die Christelike lewe optimaal gelewe kan word, veral ook met die oog op die gemeenskap waarbinne hulle lewe (hoofstuk 3).  Vir die jong gemeentes, waarskynlik veral huiskerke, was dié toerusting van groot belang om te kan koers hou op die pad van die evangelie.

Aan die ander kant fokus Paulus besonder baie op wat hy noem: goeie werke (Tit. 1:16; 2:7,14; 3:1,8,14 – hy noem dit ook in 1 Tim. 2:10 en 5:10).  Maar, belangrik, dit is nie vir hom in spanning met die genade wat God aan ons gee nie.  Trouens dit is die manier waarop God se genade ruimte kry in ons lewe.  Kyk spesifiek na Titus 2:14 waar die twee konsepte aan mekaar verbind word, genade en goeie werke (in die volgende bydrae meer daaroor).  Goeie werke is dus nie in konflik met genade nie.  ‘n Rigiede gebruik van die Joodse wet is wel in konflik met die genade, waarmee gedink word dat jy deur die nakom van sekere rituele gebruike (Sabbat, dieet) in God se guns kan kom.

Die belofte van die ewige lewe – Titus 1:1-4

Let hier op hoe geloof en kennis van die waarheid eintlik as sinonieme gebruik word.  Geloof is nie ‘n sprong in die donker nie.  Dit is om die waarheid te erken van wat God oor Jesus as Verlosser bekend gemaak het, sowel as die belofte van die ewige lewe wat daaraan verbind is, en daarop te vertrou.  Geen wonder dat die Heidelbergse Kategismus (vr & antw 21) eeue later geloof as volg gedefinieer het:

“’n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.”

Ouderlinge as die rentmeesters van God – Titus 1:5-9

Paulus gebruik die Griekse woord oikonomos in vers 7 om die werk van die ouderlinge te beskryf.  Letterlik staan daar “’n Ouderling (episkopos) moet as rentmeester van God  onberispelik wees …”  Dit beteken dat ‘n ouderling in diens van God binne die gemeente optree.  Hy is dus nie regtig ‘n “bestuurder” soos die Afrikaanse vertaling dit het nie, eerder ‘n rentmeester of dienaar van God.  Hy is nie aangestel oor  die gemeente namens God nie, maar aangestel deur God vir die gemeente.

Let op hoe daar weereens baie meer klem gelê word op sy persoonlike geloofslewe en karakter as op die pligte wat hy in die gemeente moet verrig, hoewel daar wel twee uitgelig word, dit is om aan “die woord waarin hy onderrig is”  vas te hou, en om ander met die gesonde leer aan te moedig, woorde wat herinner aan die soortgelyke opdrag in 1 Timoteus.

Gesonde geloof – Titus 1:10-16

Na Paulus nou uitgewei het oor die vereistes vir die ouderlinge, fokus hy op dié Joodse dwaalleraars wie se monde gesnoer moet word (Tit. 1:11).  Dit beteken dan waarskynlik dat hulle lede van die gemeentes was, omdat só ‘n opdrag beswaarlik toegepas kon word op mense wat buite die gemeentes se invloed gestaan het.  Nie net het hulle onsin gepraat nie vanuit hulle beheptheid met Joodse voorskrifte nie, maar het hulle ook nog probeer geld maak daaruit.

Hulle monde moet ook nie net gesnoer word nie, maar hulle moet gehelp word om gesond in geloof te word, deur die gesonde leer aan te hang, iets waaroor Paulus in hoofstuk 2 verder gaan uitbrei.  Anders sal die gemeenskap nie getransformeer word nie, want hierdie Joodse dwaalleraars versterk eintlik ‘n persepsie van die Kretensers dat hulle leuenaars, ongediertes en lui vrate is (die aanhaling berus op iets wat Epimenides, een van hulle profete, al in die 6de eeu v.C. gesê het; vgl. Paulus se Areopagus toespraak waar hy hom ook aanhaal in Hand. 17:28).  Só kan jy nie ‘n gemeenskap verander nie!

Boodskap en betekenis

Paulus skryf aan Titus met die doel om die jong gemeentes op Kreta te help vestig op ’n pad van gesonde geloof. Hy wys uit dat die fondament vir gesonde gemeentes lê in gesonde leierskap van die ouderlinge gebaseer op ‘n gesonde geloof.

Teenoor dit staan die dwaalleraars, waarskynlik uit van die huiskerke, wat mense verwar met Joodse voorskrifte en selfs probeer geld maak daaruit. Só ’n lering bring nie genesing of verandering nie, maar versterk eerder die negatiewe stereotipes van die Kretensers as leuenaars en lui mense.

Die pad na vernuwing lê nie in wettiese voorskrifte nie, maar in ’n geloof wat kennis van die waarheid bring en uitloop op ’n nuwe manier van leef. Só ’n gesonde geloof laat die genade van God sigbaar word in die gemeente en in die gemeenskap.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda