Skip to main content

Jesaja 8:1-22

Leef met ontsag en oortuiging

Die perikope van Jesaja 8 wissel tussen wanhoop en hoop, wat alreeds iets sê van die verwarring wat in dié tyd geheers het.

Teks en konteks

Jesaja 8:1-4

Dit wil voorkom of die stuk leer waarop Jesaja hier skryf ‘n soort plakkaat is waarop die boodskap van oordeel oor die konings van Aram en Israel verkondig word. Dit is ook die naam van Jesaja se volgende kind: Plunder-en-roof-is-naby.

Jesaja 8:5-8

Dan vervolg Jesaja met ‘n woord van oordeel oor Juda omdat hulle nie hulle vrees met vertroue wil vervang nie. Siloag is die oorspronklike naam van die Siloam-tonnel, wat die water van die Gihonfontein na die stad gelei het. Dit is ook die plek waarheen Jesus die blinde man gestuur het om sy oë te gaan was (Joh 9). Die kalmte van die fonteinwater – God se sorg – word op treffende wyse gekontrasteer met die vloedgolf van Assirië – God se oordeel – wat die volk gaan verwoes.

Immanuel word hier gebruik om God se teenwoordigheid by Juda uit te druk, maar dit het natuurlik ‘n intertekstuele verwysing terug na die belofte van ‘n Persoon, Immanuel, wat God sal stuur (Jes 7:14), en wat ons uit die NT weet in Jesus voluit vervul is (Matt 1:23).

Jesaja 8:9-10

Die oordeel- word met ‘n heilsprofesie opgevolg. In taal wat nogal herinner aan Psalm 2, word die omgekeerde ook verkondig: God se sorg vir dié wat op Hom vertrou teenoor sy oordeel op dié wat Hom teenstaan.

Jesaja 8:11-16

Die uitdaging vir gelowiges en veral profete sal altyd bly, om te volhard in die vertroue op God wanneer ander dit verlaat en verraai. Interessant genoeg is een van die motiverings om te bly vertrou ook vrees, maar hier nie die vrees vir mense nie, maar die vrees of ontsag vir God (vgl Mat 10:28). Dan, sê Jesaja, sal God soos ‘n veilige vesting vir hulle wees, hoewel Hy steeds vir dié wat Hom nie vrees, en nie op Hom vertrou nie, ‘n verskrikking sal wees, ‘n oordeel voltrekker. Die opdrag om dié boodskap stil te hou, herinner aan Jesus wat ook sy dissipels by tye tot stilswye gemaan het.

Jesaja 8:17-22

Dit wil egter lyk asof Jesaja moeilik sy boodskap vir homself kan hou. Let op hoe hy 1) ‘n persoonlike geloofsbelydenis van vertroue en hoop op God doen, waarna hy 2) die gelowige groep waarvan hy deel is, se publieke getuienis aanprys – lewende getuies (tekens en wonders in vers 18 in die oorspronklike)! – wat hom vervolgens 3) tot ‘n appèl beweeg aan die volk om God te raadpleeg, eerder as die mediums en spiritiste.

Boodskap en betekenis

Ek leer uit hierdie gedeelte dat die weg uit verwarring altyd in twee goed lê, 1) ‘n ontsag vir die Here se hantering van enige situasie, en 2) ‘n vaste vertroue in Hom wat ek met my lewe moet demonstreer – soms in ‘n oortuiging wat stil geleef word, en soms in dieselfde oortuiging wat duidelik uitgespel word, selfs vir my teenstanders.

Let ook op hoe Jesaja die geskrewe Woord van God – die wet – kontrasteer met die gesproke woord van die ander godsdienste. Dit is ‘n beweging in Israel wat reeds in die tyd van Moses en Josua gebeur het, dat God gekies het om langs dié kanaal met sy volk te kommunikeer.

Maar, belangrik, sien ook raak hoe hy daarmee saam die impak van die lewende getuies – wat vir almal ‘n wegwyser na God is – uitspel. Die volle prentjie van God se boodskap word aan mense gebring deur Sy geskrewe Woord en Sy mense – die wet en die getuienis.

En dié wat nie daardeur aangespreek word nie, en nie daarvolgens lewe nie, het geen toekoms meer nie. Bedruktheid en benoudheid is sy padkos … maar, sê Jesaja 8:23 en verder, daar is lig aan die einde van die tonnel …

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…