Skip to main content

2 Konings 4

God doen wonders vir gewone mense deur die diens van Elisa

Die fokus skuif weg van die konings van Israel en Juda na die profeet Elisa. Die goue draad wat die vier verhale in 2 Konings 4 tematies aan mekaar verbind, is Elisa se vermoë om vanuit sy afhanklikheid van God wonderwerke te verrig. Hy help ‘n profeet se weduwee in nood, beloon die gasvryheid van die Sunemitiese vrou met die opstanding van haar seun, neutraliseer die gif in die water vir die profetegroep, en voed hulle met ‘n broodvermeerdering soos Jesus.

Teks en konteks

Dit tref my hoe gewone mense, veral vroue, in hierdie verhale aangeraak en gehelp word, die vrou van ’n profeet uit die profetegroep (waarskynlik die 100 profete wat Obadja weggesteek het), die Sunemitiese vrou, die profetegroep self, sowel as vernames soos Naäman in die volgende hoofstuk.

Dit tref my verder dat Elisa nie met die skuldeiser gaan gesels om die skuld van die vrou van die profeet af te skryf nie, maar dat hy haar in staat stel om haar skuld af te betaal met die wonder vermeerdering van die olie in die erdekannetjie.

Dit is ook gewone goed wat gebruik word in die wonders: olie by die weduwee, brood by die ete vir 100 mense, water by die genesing van Naäman.

Dit is ook goed om te sien hoe die Here ook vir Elisa in die bediening wat hy gehad het, ondersteun met die huisvesting wat die Sunemitiese vrou en haar man vir Elisa verskaf. Die kamer laat ‘n mens dink aan ‘n retraite wat baie vir Elisa beteken het!

Geen wonder dat hy so betrokke by die vrou en haar man se wel en weë betrokke raak nie. Eers om te bid vir ‘n seun, en later om te bid dat hy uit die dood uit teruggegee word vir hulle. Let op dat Gehasi nie die vermoë het om te doen wat God net deur sy profeet wil doen nie.

Die opwekking van die seun van die Sunemitiese vrou laat mens ook dink aan die soortgelyke verhale van Elia, Jesus, Petrus en Paulus wat ook by die opwekking van mense betrokke was.

Die broodvermeerdering laat ’n mens onmiddellik ook dink aan Jesus in die Nuwe Testament wat twee keer ’n soortgelyke wonder doen, met duisende mense wat daarby baat vind. Let ook op dat Elisa se slaaf beswaar maak teen die opdrag om die brood met so baie mense te deel, net soos die dissipels later in die evangelies en dat hy net soos hulle verras word deur die vermoë en vrygewigheid van God.

Boodskap en betekenis

Die vier verhale is net voorbeelde van die wonders wat God doen deur en vir sy mense. Dit is hoe Hy Homself aan ons bekend gemaak het. Laat jou oordenking hiervan jou lei om die Here al hoe meer ook in jou eie betrokkenheid by mense vir wonderwerke te vertrou.

John Barry van Faithlife Study Bible het ‘n lys van die wonderwerke wat die profete en ander leiers verrig het in hulle afhanklikheid van God (daar is natuurlik talle meer wat God self gedoen het).

Ek het dit ‘n bietjie verwerk en lys dit sodat jy in ontsag vir hierdie God kan groei:

Moses/Aäron doen altesame ten minste twintig wonderwerke (Aäron se staf word ‘n slang – Eks 7:10–12; Tien Plae – Eks 7:20–12:30; Rooi See verdeel – Eks 14:21–31; waters van Mara drinkbaar – Eks 15:23–25; Manna – Eks 16:14–35; water uit die rots – Eks 17:5–7 [ook Num 20:7–11]; Aäron se kierie het bloeisels – Num 17:5–7; bid dat vuur by Tabera geblus word – Num 11:1–3; die grond gaan oop onder Korag en sy volgelinge – Num 16:30–33; mense word genees deur die brons slang – Num 21:8–9).

Josua doen drie wonderwerke (Jordaan verdeel – Jos 3:14–17; die mure van Jerigo val – Jos 6:6–20; son en maan staan stil – Jos 10:12–14).

Die Here doen verskillende wonderwerke deur Simson se krag en een vir hom met water uit die holte by Legi – Rigters 15:19.

Samuel – die Here vernietig die Filistyne met donderweer (1 Sam 7:10–12) en hy roep self die Here om reën en donderweer te stuur om die Israeliete tot ontsag vir die Here te beweeg met hulle aandrang op ‘n koning – 1 Sam 12:18.

‘n Naamlose profeet laat Jerobeam se hand verdroog en herstel – 1 Kon 13:4–6.

Elia word deur die Here gevoed deur kraaie (1 Kon 17:4-6) en in ‘n stormwind hemel toe geneem (2 Kon 2:11), doen self agt wonderwerke (hy bid vir droogte – 1 Kon 17:1; die weduwee van Sarfat word van voedsel voorsien – 1 Kon 17:10–16; die weduwee van Sarfat se seun herleef – 1 Kon 17:17–24; vuur daal neer op die berg Karmel om die offer te verteer en die profete van Baäl te troef – 1 Kon 18:30–38; hy bid vir reën – 1 Kon 18:41-45; hy hardloop voor die perdekar van Agab uit – 1 Kon 18:46; hy bid twee keer vir vuur om Agab se kaptein en vyftig man te verteer – 2 Kon 1:10–12; Jordaan verdeel – 2 Kon 2:8)

Elisa doen dubbeld soveel wonderwerke as Elia, sestien in getal (Jordaan verdeel – 2 Kon 2:14; die water van Jerigo word drinkbaar gemaak – 2 Kon 2:19–22; spottende kinders word deur bere vermink – 2 Kon 2:23–24; water word vir Josafat se leër verskaf en die vyand daardeur mislei – 2 Kon 3:16–20; die weduwee se olie word vermeerder – 2 Kon 4:2–7 – die Sunamitiese vrou kry ‘n seun – 2 Kon 4:1–17; die Sunamitiese vrou se seun herleef – 2 Kon 4:18–37; bredie word ontgiftig – 2 Kon 4:38–41; honderd mans word gevoed met 20 brode – 2 Kon 4:42–44; Naäman genees van melaatsheid – 2 Kon 5:1–19a; Gehasi word getref met Naäman se melaatsheid – 2 Kon 5:19b–27; die ysterbylkop dryf op die water – 2 Kon 6:1–7; Elisa omring deur perde en strydwaens van vuur – 2 Kon 6:17; die Siriese weermag word blind – 2 Kon 6:18–20; Elisa se beendere laat ‘n dooie man lewe – 2 Kon 13:21).

Jona word gered uit die maag van die vis (Jona 1:17–2:10).

Jesaja doen twee wonderwerke (Hiskia is genees – 2 Kon 20:7; Die son trek terug – 2 Kon 20:9–11).

Sadrag, Mesag, Abednego word uit die oond gered (Dan 3:1–30).

Daniël word uit die leeukuil gered (Dan 6:10–23).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar