Skip to main content

Psalm 119:1-8

ALEF: God begelei en inspireer ons deur sy wet en getuienisse

Psalm 119 – “orphan Psalm” sonder titel, maar daar is goeie redes waarom dit aan Dawid toegeskryf kan word. Onder andere dat beide die Mishna en Talmoed dit aan Dawid toeskryf. ’n Ander moontlikheid is Esra wat dit ná die ballingskap as ’n hulp vir Joodse gelowiges om die betekenis van die Tora te kan omarm, geskryf het.

Psalm 119 is ‘n letterkundige juweel. In ‘n verstommende akrostiese kragtoer begin elke opeenvolgende groep van agt verse elke keer met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse konsonante alfabet. Dit gee 22 kleiner eenhede – hier aangedui met die Hebreeuse konsonante: ALEF, BET, GIMEL ens. – wat elkeen die wonder van God se woord aan sy mense beskrywe en besing. Ons gaan dit daarom ook oor 22 dae lees om reg te laat geskied aan elke eenheid.

Hierdie uitnemende Psalm besing die openbaring van God in sy wet soos vers 1 dit aandui. Daarmee word egter nie net die wet as sodanig verheerlik nie, maar alles wat God van Homself aan die mensdom openbaar het. Hiermee bevestig die Psalmis wat alreeds in Psalm 1 gesê is: God se woord is die sentrum van die lewe, dié ding wat jou nie net soos ‘n boom geplant langs watervore maak en laat gedy nie, maar sorg dat jy die pad (dêrêg – ‘n woord wat ook gereeld in Psalm 119 voorkom!) van die regverdiges kan bewandel.

Teks en konteks

Ses van die woorde wat as sinonieme vir die wet funksioneer, word in hierdie eerste deel van die besondere Psalm 119 aangetref: woord/wet (torâh – 119:1 – “law”), verordeninge/bepalings (‘edût – 119:2 – “rules” of “testimonies”) – ek verkies eintlik die woord getuienisse as vertaling hier, soos dit in die OAV was, bevele/opdragte (piqqûdîm – 119:4 – “precepts”), voorskrifte (huqqîm – 119:5 – “statutes”), gebooie/bevele (mizwôt – 119:6 – “commandments”), bepalings/regverdige beslissings (mishpâtîm – 119:7 – “judgments”).

Die eerste gedeelte plaas dus onomwonde God se hele openbaring op die tafel. God gee nie net sy wet met sy bepalings, bevele, opdragte en voorskrifte nie, die begeleidende kant van sy openbaring nie. Nee, Hy gee ook getuienisse van wat werk vir dié: “wat Hom met hulle hele hart soek.” Hy gee ook regverdige beslissings wat bestudeer kan word, voorbeelde wat inspireer, sodat ‘n mens nie net gemotiveer word om Hom met ‘n opregte hart te loof nie, maar ook geïnspireer word om hulle na te kom … terwyl ‘n mens tog steeds ook bid: “moet my tog nooit in die steek laat nie”!

Watter wonderlike manier om dié Psalm te begin. Dit is inderdaad die onfeilbare roete wat lei na geluk: “Hoe gelukkig is mense wie se lewenspad onberispelik is en wat die wet van die Here volg.” Dit is juis wanneer ‘n mens doen wat God vir ons almal wys deur sy openbaring dat ons gelukkig kan wees.

Soos Jesus veel later sy “wet van die koninkryk” in die Bergrede sou aankondig: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Matt. 5:3). Hy spreek ook die duiwel se versoeking in die eerste plek aan met die stellige vertroue op God se Woord: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matt. 4:4 – aangehaal uit Deut. 8:3).

Dit beteken egter nie dat alles daarmee sonder enige probleme in die lewe gebeur nie. Die Psalmis is in die res van die Psalm maar net te bewus van die teenstand en teëspoed wat ‘n mens op dié pad kan tref:

doodsgevaar – 119:25; kommer – 119:28; teleurstelling – 1119:31; nutteloosheid – 119:37; venyn – 119:39; vals beskuldigings – 119:42,78; onwaarhede – 119:43; ellende – 119:50,92,153; felle spot – 119:51; ontsteltenis – 119:53; strikke – 119:61,110; swaarkry – 119:67,71,75,107 – trouens, dit is ‘n “teken van u trou” – vernedering bring verandering, al is dit ook hoe moeilik om te aanvaar!; beswaddering – 119:69; oudword – 119:83; listige vervolging ook deur maghebbers – 119:84,86,150,157,161; vernietiging – 119:95; vyande – 119:98; gevaar – 119:109; huigelary – 119:113; ongenadigheid – 119:121; wetsoortreders – 119:126; kwaad wat dreig om die oorhand te kry – 119:133; trane en ontsteltenis oor wetsoortreders – 119:136,139; angs en benoudheid – 119:143; regsake teen hom – 119:154; teëstanders – 119:157; verraad van ontroues – 119:158; leuens – 119:163. Dit is nogal ‘n mondvol!

Maar, waar ‘n mens die Here met jou hele hart soek (119:2), nie onreg doen nie (119:3), sy opdragte noukeurig nakom (119:4), dán is dit wat jou lewenspaaie standvastig raak, iets waarna die Psalmis verlang (119:5). Uiteindelik sal Hy aan die einde van die Psalm bely dat sy hele lewe oop lê voor God (119:168) en dat Hy afhanklik is van die insig wat God bring om inderdaad te kan lewe op só ‘n manier dat sy lewe die Here kan loof (119:175). Daarin sal God se openbaring sy grootste en belangrikste ondersteuning wees.

En selfs as hy sou wegdwaal, vra hy van die Here aan die einde van die Psalm: “As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.” (119:176). Laat ‘n mens dink aan Jesus wat dié behoefte van die Psalmis in sy gelykenisse oor die verlore penning, skaap en seun ingewerk het in Lukas 15, nie waar nie!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.