Skip to main content

Jeremia 23

Ellende wag vir julle leiers

Hoofstuk 23 sluit aan die eenkant die profesieë teen die konings af met die belofte van ’n regverdige koning wat die Here sal voorsien (23:1-8). Aan die ander kant sit dit die oordeel teen die leiers voort met ’n fokus op die werk van die profete en priesters wat die volk mislei en op die verkeerde koers laat beland het (23:9-40).

Ons sal in hoofstuk 24 sien hoe Jeremia ’n egte visioen van die Here beskryf wat in skerp kontras staan met hoofstuk 23 se beskrywing van die wyse waarop die ander profete hulle eie drome as God s’n probeer verkoop aan die volk.

Teks en konteks

Jeremia 23:1-8 – Ek sal ’n regverdige koning voorsien

Hierdie profesie bestaan uit drie dele:

23:1-4 – ’n oordeelsprofesie oor die herders (konings) wat die kudde (volk) verwaarloos en verstrooi het en die Here wat self gaan optree, die verstrooiing gaan ophef en hulle onder sy sorg in hulle land sal terugbring met nuwe herders wat die Here sal aanstel. Dit is vervul met die terugkoms na die land in die tyd van die Persiese koning Darius.

23:5-6 – ’n belofte van ’n verstandige en regverdige koning, ’n “spruit van Dawid”, wat die soortgelyke belofte in Jes. 11:1-9 eggo (vgl. ook Jer. 33:15). Sy naam sal letterlik wees: “Jahwe ons geregtigheid.” Hierdie belofte het duidelik Messiaanse trekke wat vervul is met die koms van die Messias, Jesus Christus.

23:7-8 – ’n belofte van terugkeer uit ballingskap wat die betekenis van die vorige Uittog uit Egipte sal oorskadu en hulle weer in hulle eie land sal vestig. Dit is ná sewentig jaar ballingskap vervul met die terugkoms in die tyd van die Persiese koning Darius.

Jeremia 23:9-40 – Profeet en priester is albei goddeloos

Daar kan seker geen erger aanklag wees teen iemand wat voorgee dat hy of sy die woord van die Here bring, en dit is dat hy of sy godloos of goddeloos is nie (vers 11). Sonder die seël van God se goedkeuring en ’n verhouding met Hom tuimel enige geloofwaardigheid van profeet en priester in die afgrond in, onherstelbaar vernietig.

Kontrasteer dit met Jeremia se eie ervaring van die woord van die Here, in dié geval TEEN die profete: “My hart is stukkend geslaan, my hele liggaam bewe. Ek is soos ’n dronk mens, soos iemand wat deur drank oorweldig is. Ek het so geword deur die Here, deur sy heilige woorde.”

Daarmee stel Jeremia die standaard vir die beoordeling van die egte ervaring van God se woorde. Dit plaas die ontvanger daarvan onder geen illusie van die oorsprong van die woord nie – God self – het ’n persoonlike effek op die gekose medium wat verrukking of in hierdie geval ontsetting kan wees – profeet of priester – en plaas ’n onontwykbare las op hulle om dié woord eerlik en onverdund aan mense te bring, hetsy of dit oordeel is of vrede.

Vanuit hierdie inleidende woorde (23:9) word dan in verskeie kort profesieë ’n globale prentjie van die goddelose uitwerking van die profete en priesters se goddeloosheid beskryf (23:10-15) waarna weereens met verskeie kort profesieë God se oordeel daaroor uitgespreek word as waarskuwing aan die volk (23:16-32). Die hoofstuk word afgesluit met ’n woord aan Jeremia dat hy net een woord vir die volk moet gee en dit is dat die Here Hom nie meer steur aan hulle nie (23:33) en ’n verdere woord aan die volk wat sy opdrag aan Jeremia bevestig (23:34-42).

Jeremia 23:10-15 – Die Here wyt die sosiale en ekologiese verwoesting in die land aan die verkeerde koers wat die profete (van Juda) inslaan wat ook in hulle misbruik van mag na vore kom. Die kern van die probleem lê in hulle eie goddeloosheid. Daarom sê die Here dat Hy die profete en priesters se pad glibberig sal maak en ’n ramp oor hulle sal bring.

Dieselfde het die profete in Samaria gegeld wat in die naam van Baäl opgetree het, wat alreeds die Here ontstel het. Maar, wat die Here onder Jerusalem se profete gesien het, dat hulle lieg en bedrieg, dié help wat verkeerd doen, is spesifiek afskuwelik vir Hom. Die gevolge van hulle verkeerde leiding is dat niemand tot bekering kom nie.

Só word almal vir die Here soos die Sodom en Gomorra van ouds en gaan die Here hulle uitwis weens die goddeloosheid wat hulle deur die hele land versprei het.

Jeremia 23:16-32 – Die Here spreek die volk dan aan om nie te luister na wat die profete sê nie, omdat hulle vals verwagtings by die mense sal skep. Hulle visioene kom van hulle gedagtes af en predik vrede wat juis in kontras met die Here se woord van onheil is. Dié oordeel van die Here sal soos ’n orkaan op die goddeloses afkom wat begrip sal bring dat sy woord waar is: “Daar kom ’n tyd dat julle dit alles goed sal verstaan.”

Die Here verklaar dat Hy nie die vredes-profete gestuur het nie en verkwalik hulle dat hulle sonder ’n woord van Hom opgetree het. Hy lig die volk ook in oor sy alomteenwoordigheid. Niks ontgaan sy aandag nie.

Die Here stel eerlikheid op prys. As iemand ’n woord van Hom in ’n droom ontvang het, moet dit gedeel word, maar dan moet dit eerlik ’n woord van die Here wees, anders is dit doodgewoon strooi: “My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.”

Daarom is die Here ook teen profete wat doodgewoon herhaal wat ander sê en nie sê wat God vir hulle ingee nie. ’n Mens kan nie jou eie stories verkoop as die woord van die Here nie! “Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.” Iets wat hedendaagse profete, myself inkluis, ter harte moet neem.

Jeremia 23:33 – Die Here wend Hom tot Jeremia om hom te beveel om net een woord vir die volk te gee as dié hom vra: “Ek steur My nie meer aan julle nie.” Watter vreeslike situasie om in te wees.

Jeremia 23:34-42 – Die Here verbied die volk om langer te probeer agterkom wat Hy sê, want hulle maak dan hulle eie woorde tot ’n uitspraak van die Here. “So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die lewende God.”

Die Here bevestig daarmee dat Hy hulle verwerp en ’n blywende skande oor hulle sal bring, ’n vernedering wat nie vergeet sal word nie.

Boodskap en betekenis

Dit is seker onvermydelik dat dié boodskap myself baie persoonlik raak. Ek staan op die kansel en bring die Woord van die Here. En hoewel ek nou nie myself aan Jeremia gelyk kan stel nie, tel dieselfde maatstawwe wat vir hom gegeld het, ook vir my eie bediening. Ek moet selfstandig luister na wat die Here sê en dit eerlik oordra aan diegene vir wie die woord bedoel is. Selfstandig en eerlik.

My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.” Sy woorde is daarom heilige woorde, woorde wat onverdund gebring moet word, sonder aansiens des persoons, en sonder om aan die gevolge vir jouself te dink. Anders wag daar vir ons ook ellende.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…