Skip to main content

1 Konings 15:1-8; 2 Kronieke 13

Abia kry die oorhand oor Jerobeam omdat hy op die Here steun

Die tema van gehoorsaamheid onder die konings al dan nie, word voortgesit in 1 Konings 15:1-8 en 2 Kronieke 13. Dit handel oor Abia, Rehabeam se seun wat hom opvolg. Hy regeer drie jaar, van 913-910 vC. Uit ‘n vergelyking tussen dié twee verhale oor Abia is dit duidelik dat daar twee perspektiewe beskikbaar was oor hom. Ons hanteer die twee tradisies afsonderlik.

Teks en konteks

Konings vertel die verhaal van Abia, die seun van Rehabeam en Maäka, ’n dogter van Abisalom (hy moet onderskei word van Absalom, want hy het net een dogter gehad, Tamar) met min detail.

Abia word koning in Jerusalem, maar is ongehoorsaam aan die Here. ’n Interessante idioom word gebruik in die Hebreeuse teks om sy ongehoorsaamheid uit te druk: “sy hart was nie lojaal/volledig/perfek toegewy aan die Here nie”.

Vergelyk dit met Dawid wie se hart volkome by die Here was, behalwe in die geval van Batseba waar hy Urija, die Hetiet, laat vermoor het. Vergelyk dit ook met die “luisterryke hart” van Salomo, sy oupa (1 Kon 3:9).

Die Here seën Abia egter ter wille van sy oupagrootjie Dawid.

Soos die geval was met sy pa Rehabeam, was daar oorlog tussen hom en Jerobeam van Israel. 2 Kronieke 13 gee meer detail hieroor, waar dit blyk dat die Here aangeroep word deur Abia en Hy vir hulle die stryd wen.

Kronieke vertel die verhaal van Abia baie meer uitgebreid en met ‘n baie meer positiewe perspektief. Abia se ma se naam word hier as Miga aangegee, waarskynlik dieselfde vrou as Maäka, dié vrou vir wie Rehabeam so lief was (2 Kron. 11:20; 1 Kon. 15:2). Sy was volgens die Kronis beide die dogter van Uriël uit Gibea, sowel as die dogter van Abisalom (‘n onbekende persoon). Abisalom was waarskynlik haar oupa, soos die frase “dogter van” soms gebruik is.

Let op na my gebruik van “waarskynlik”, omdat die feite nie met meer sekerheid bevestig kan word nie, veral omdat ons nie al die bronne het waarop dié verhale gebaseer is nie.

Die groot getalle van die manskappe aan weerskante is problematies, veral omdat ons nie presies weet hoe om die Hebreeus vir duisend te interpreteer nie. Een moontlikheid wat vir my sin maak, is om dit as ‘n aanduiding vir eenheid te neem, wat beteken dat daar 400 eenhede aan Juda se kant was, en 800 eenhede aan Jerobeam se kant.

Soos wat Samuel op ‘n keer met kategese die oorlog teen die Filistyne vir Israel ingelui het (1 Sam 7), so doen Abia ook hier: “Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …” En Abia se preek maak die verskil in die oorlog teen Jerobeam en sy “klomp roekelose boewe”.

Abia skets ‘n prentjie van God se beloftes en betrokkenheid via die nageslag van Dawid (Juda), sowel as via die nageslag van die priesters en Leviete (Levi) wat as ‘n “onverbreekbare verbond” beskryf word. Letterlik staan daar “’n soutverbond” waarmee na Lev 2:13 verwys word: “Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God”. Die koningshuis van Jerobeam word as boewe uitgekryt en hulle priesters as niksnutte wat sommer van die straat af ingespan is om nie-gode (afgode) te dien.

Let op dat hy eintlik staatmaak op hulle eie herinnering van hulle gesamentlike geskiedenis: “Julle weet tog …” En Abia spel God se betrokkenheid by hulle uit met die ongelooflike belydenis: “Ons het die Here self by ons as leier”! Daarmee relativeer hy sy eie koningskap en verklaar sy eie onderdanigheid aan die Here. Iets wat ons gerus kan navolg in ons eie manier van lewe.

Geen wonder dat toe die trompette van die priesters die geveg begin, selfs die hinderlaag van Jerobeam nie die oorwinning vir Juda kon keer nie. Die Kronis som die uitslag van die oorlog op met die woorde: “Juda (het) die oorhand gekry omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders.” Die woordjie steun kan ook met vertrou vertaal word (vgl bv Jes 10:20).

2 Kronieke 13:20 se beskrywing: “Die Here het hom onverwags laat sterf” verwys waarskynlik na Jerobeam se seun se dood, ironies genoeg ook Abia van Israel, soos in 1 Konings 14 beskryf. Jerobeam self is volgens Konings eers dood in die derde regeringsjaar van Asa, Abia van Juda se seun (1 Kon 15:33).

Boodskap en betekenis

Daar was dus duidelik twee perspektiewe beskikbaar in die tradisies oor koning Abia. ‘n Mens kan dit só vergelyk:

  • Volgens Konings was Abia ‘n slegte koning wat dieselfde sondes as sy pa Rehabeam begaan het en net deur die Here verdra is ter wille van sy beloftes aan Dawid. Die skrywer van Konings het onder andere die Kronieke van die konings van Juda gebruik vir sy perspektief.
  • Volgens Kronieke was Abia egter ‘n goeie koning wat met ‘n uitsonderlike preek sy vertroue op die Here uitgespreek het en die oorlog teen Jerobeam en die Noordelike ryk van Israel gewen het, “omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders” (2 Kron 13:18). Die Kronis gebruik onder andere Die Geskrif/Kommentaar van die profeet Iddo vir sy perspektief.

Die twee skrywers van Kronieke en Konings het onderskeidelik dié tradisie gekies wat die beste gepas het by die gehoor vir wie hulle geskryf het:

  • Die skrywer van Konings kies om die negatiewe verhaal te vertel waarmee Abia in die lig van koning Dawid interpreteer word. Hy ignoreer dus die verhaal van Abia se eie bydrae, ter wille van sy doelwit, om die ballinge te help verstaan hoekom hulle in die gemors sit in die vreemde en weggevoer is uit hulle land, sodat hulle tot inkeer kan kom. Bekering is dus sy doelwit.
  • Die Kronis kies weer om die positiewe verhaal te vertel wat wentel om Abia se preek wat sy oorwinning oor Jerobeam voorafgaan – veral omdat dié preek op die keuse van God vir Juda en Levi val – om die teruggekeerde ballinge daarmee te motiveer om na die Here te luister en op Hom te steun. Motivering is dus sy doelwit.

Wonderlik wat ‘n mens in drie jaar kan vermag…!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.