Skip to main content

Jakobus 3

Tree met sagmoedige wysheid op

Die feit dat ‘n mens flink moet wees om te luister en stadig om te praat, beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie. Inteendeel. Daarom wy Jakobus uit oor hoe belangrik dit is om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek. Só werk die tipe sagmoedige wysheid wat Jakobus voorstel.

Teks en konteks

Die krag van woorde – Jakobus 3:1-12

‘n Mens sou met Jakobus kon saamstem dat almal van ons dikwels struikel met woorde. En dink dat dit ‘n algemeen menslike kwaal is, iets wat verstaanbaar en daarom verskoonbaar is. Jakobus herinner ons egter daaraan hoe ‘n groot invloed die tong kan hê. Met twee metafore dui hy die positiewe rigtinggewende krag van woorde aan – soos ‘n stang in die bek van ‘n perd en soos die roer van ‘n boot – asook met ‘n derde negatiewe metafoor die destruktiewe krag van woorde – soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot hoop hout aan die brand steek.

Hy is eintlik meer bekommerd oor die laaste negatiewe tekening van die krag van woorde, omdat die tong “’n wêreld van ongeregtigheid” is. Dit steek die hele lewensloop aan, soos “’n onbestendige kwaad, vol dodelike gif.” Dit kom veral na vore in die dubbelsinnige karakter van ons woorde: “Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is.” Dít, sê Jakobus, kan tog nie. Dít hoort tog nie só nie.

Met vier verdere metafore wys hy die onhoudbaarheid van só ‘n manier van praat uit: ‘n fontein kan nie vars én bitter water gee nie, ‘n vyeboom kan nie olywe dra nie, ‘n druiwestok kan nie vye dra nie, en ‘n brak fontein kan nie soet water gee nie. Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet koherensie wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen.

Dié vermaning is uiteraard op al die gelowiges van toepassing, maar veral op die leermeesters. Hulle sal nie net strenger geoordeel word in terme van die ooreenkoms tussen hulle woorde en dade nie, maar spesifiek ook aan die rigtinggewende of destruktiewe krag van hulle woorde. Daarom is só ‘n roeping nie iets wat ‘n mens aanvaar sonder om goed daaroor na te dink nie. Dit is nie almal beskore nie.

Die vredemakende krag van sagmoedige wysheid – Jakobus 3:13-18

Jakobus brei vervolgens uit oor die bron vanwaar dié rigtinggewende of destruktiewe kragte ontspring. Die wysheid van bó af, d.w.s. van God af, kan met agt byvoeglike naamwoorde beskryf word as suiwer, vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis, vol goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.

Die wysheid wat aards is, kan beskryf word as niegeestelik en demonies, en kom na vore in bittere afguns en selfsug, leuens, wanorde en allerlei gemene dade.

Die wyses en verstandiges onder die geloofsgemeenskap wys in hulle goeie gedrag en dade die sagmoedige karakter van hulle wysheid. Die ander die teendeel deur die afguns en selfsug, wanorde en gemeenheid wat hulle lewens kenmerk.

Jakobus wys daarop dat hierdie sagmoedige wysheid ‘n vredemakende krag het wat geregtigheid tot gevolg het. Iets om te onthou in die luister na wat God se ingeplante woord ons wysmaak oor die lewe.

Boodskap en betekenis

Woorde het ongelooflike krag. Dit kan rigting gee. Dit kan ook vernietig. Die geheim lê in die gebed om wysheid wat van bó af kom, van dié God wat vrygewig en genadig voorsien (Jak. 1:5). Waar God se wysheid die deurslag gee, kom daar vrede en geskied reg en geregtigheid. Waar dit nie die deurslag gee nie, daar heers wanorde en allerlei gemene dade.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar