Skip to main content

Paulus

Paulus se nalatenskap

Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons in die vorm van die  meeste briewe in die Nuwe Testament gelaat.  Dié werk was selfs van groter belang as die 3 groot sendingreise wat hy onderneem het.  Hoewel hy die evangelie na Siprus, Klein-Asië, Europa, Rome en moontlik ook na Spanje geneem het, was daar ook baie ander, Barnabas, Markus en Apollos, om maar net ’n paar te noem, wat dieselfde werk gedoen het.  Dit was ook gewone Christene wat die gemeentes in Antiochië sowel as in Rome gestig het.

Maar die briewe wat Paulus geskrywe het, is sy grootste nalatenskap.  Dit het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk.  ’n Mens kan die waarde daarvan moeilik oorskat.

Paulus het ’n hele aantal briewe geskrywe, waarvan 13 briewe in die NT opgeneem is.  ’n Mens kan dit in 4 groepe opdeel:

  1. 1 en 2 Tessalonisense – sy eskatologiese briewe geskryf in Korinte in die vroeë 50er jare n.C.
  2. 1 en 2 Korintiërs, Galasiërs en Romeine – die sogenaamde leerstellige briewe met ’n groot klem op die regverdiging uit genade in antwoord op ’n groot aantal Joodse gelowiges se beheptheid met die wet, eersgenoemde geskryf in Efese en die ander heel moontlik in Masedonië.  Romeine is weer in Korinte geskrywe.  Die briewe word in die middel 50er jare n.C gedateer.
  3. Filippense, Filemon, Kolossense en Efesiërs – die sogenaamde gevangenisskap briewe geskrywe in Rome in die vroeë 60er jare n.C.
  4. 1 en 2 Timoteus en Titus – die sogenaamde pastorale briewe waarvan die datering en plek van skrywe waarskynlik ook in die vroeë 60er jare uit Rome is.

Vir hierdie rondte in die Bybelskool gaan ons op 1 en 2 Tessalonisense, die eskatologiese briewe, en 1 en 2 Korintiërs, sy eerste leerstellige briewe konsentreer.

’n Kort oorsig oor Paulus se lewe

Paulus is gebore in Tarsus in Silisië (Hand 22:3, 28; Fil 3:5) tussen ongeveer 1 tot 5 n.C (Robinson). Volgens Hieronymus was sy familie van Galiléa, maar het in 4 v.C. na Tarsus  verhuis. Hy was dus ‘n Jood, met die Hebreeuse naam Saulus (dit beteken begeer), uit die stam van Benjamin, maar het ook Romeinse burgerskap gehad, met die Latyns-Romeinse naam Paulus (dit beteken klein), vermoedelik weens sy verblyf in Tarsus. Dit is moontlik dat sy pa moontlik ‘n slaaf van ‘n Romeinse burger was, dat dié hom vrygelaat het, en hy op dié manier self burgerskap verkry het.  Daar is egter geen inligting daaroor beskikbaar nie.

Terloops – Lukas begin in Handelinge die naam Paulus gebruik (Hand 13:9) wanneer dié op sy eerste sendingreis vertrek en die Grieks-Romeinse wêreld betree, ironies genoeg, terwyl Lukas die verhaal van Sergius Paulus vertel, die goewerneur wat in Siprus gelowig word.

Terug na sy kinderlewe: Sy familie het kort na sy geboorte na Jerusalem verhuis, waar hy grootgeword en opgevoed is aan die voete van die Fariseër Gamaliël (Hand 22:3).  Hy was goed bekend met die situasie in Jerusalem, en die Jode het sy storie goed geken (Hand 26:4 vv).  Sy pa was immers ook ‘n Fariseër (Hand 23:6).  Trouens, hy was ‘n vertroueling van die priesterhoofde.

Hoewel hy ‘n bietjie jonger as Jesus was, moes hy dus waarskynlik baie bewus gewees het van die gebeure rondom Jesus in dié se verhoor in Jerusalem, soos sy betrokkenheid by die steniging van Stefanus ‘n paar maande later getuig.

As vurige Jood was hy egter aanvanklik ‘n vervolger van die Christene (Hand 7:58; 8:1–3; 9:1; Gal 1:14).  Sy leermeester se gematigde optrede (Hand 5:34) het nie sy gedrag bepaal nie.

Op pad na Damaskus het egter die groot ommekeer gekom (Hand 9) in die vroeë 30er jare n.C. Hy begin om Christus te verkondig (Hand 9:20–25), word na Tarsus gestuur toe daar ‘n opstand teen hom kom (Hand 9:30), en vertoef ’n tyd in Arabië (Gal 1:17).  Drie jaar later besoek hy vlugtig Jerusalem (Gal 1:18) en gaan van daar weer terug na Sirië en Silisië (Hand 9:30; Gal 1:21).

‘n Geruime tyd later, ongeveer 10 jaar, gaan Barnabas hom in Tarsus soek en bring hom na Antiogië in Sirië (Hand 11:25–26), waar hulle ’n tyd lank saam arbei. Dit is moontlik dat Paulus in sy tyd in Tarsus gemeentes in Sirië en Silisië gestig het, hoewel dit nie met sekerheid gesê kan word nie (Hand 15:41).

Hierna volg Paulus se beroemde wêreldsendingreise, waarvoor hy nie net direk na sy bekering in die tempel in Jerusalem geroep is nie (Hand 22:17–21), maar in Antiogië deur die gemeente en die Here self afgesonder word (Hand 13:1–3).  Sy reise begin ongeveer 48 n.C.

  1. Saam onderneem hy en Barnabas die eerste sendingreis na Siprus en Klein-Asië (Hand 13:4–14:28), en saam word hulle na Jerusalem gestuur om die eerste groot kerkvergadering namens Antiogië daar by te woon (Hand 15).
  2. Nou volg die tweede sendingreis, met Silas en later Timoteus en Lukas as medewerkers, na Klein-Asië, Masedonië en Griekeland (Hand 15:36–18:22) en ‘n jaar en ‘n half verblyf in Korinte, waar hy die 2 briewe aan Tessalonika skrywe.
  3. Die derde reis gaan deur dieselfde streke (Hand 18:23–21:16), met onder andere meer as twee jaar in Efese, waar hy die briewe aan Korinte skrywe.

Dan gaan hy terug na Jerusalem, waar hy voor die Sanhedrin verskyn, na Sesarea gestuur word, en twee jaar lank gevange bly (Hand 21:17–26:32).

Van daar word hy na Rome gestuur, waar hy ook twee jaar lank gevange gehou word (Hand 27 en 28).

Daar is ‘n moontlikheid dat Paulus toe vrygelaat is en van die reeds genoemde gebiede weer besoek, en selfs ook Spanje (Rom 15:24), hoewel laasgenoemde nie histories bevestig kan word nie (Gonzales).

Maar hy word, moontlik in ‘n tweede gevangenskapsverblyf in Rome, tereggestel (2 Tim 4:6–8) in die middel 60er jare n.C.

Ander geskrifte van Paulus

Daar is ook ‘n paar ander geskrifte wat met Paulus in verband gebring word, wat deel van die apokriewe literatur van die NT uitmaak.[1]

Handelinge van Paulus

Die Apokriewe geskrif Handelinge van Paulus dra die karakter van ’n Paulus-roman. Volgens Tertullianus is dit tussen 150 en 175 deur ’n ouderling in Klein-Asië geskryf ter ere van Paulus. Slegs ’n kwart v.d. geskrif het bewaar gebly, fragmentaries en in ’n ou vertaling. Dit beskryf die reise van Paulus na Antiochië , Ikonium en Éfese tot sy vertrek na Macedonië, asook baie wonders wat deur hom verrig is. Tot dié Handelinge van Paulus hoort ook ’n briefwisseling tussen Paulus en die Korinthiërs, die Handelinge van Paulus en Tekla en die martyrium Pauli oor sy marteldood in Rome.

Die geskrif bied allerlei ander detail oor Paulus, bv. hoe hy gelyk het: klein, vriendelik, kaalkop, ruie wenkbroue, bakbene.  Dit is egter moeilik om te veel hiervan te maak, aangesien die historiese betroubaarheid daarvan nie regtig vasgestel kan word nie.

Handelinge van Paulus en Tekla

Die Apokriewe geskrif Handelinge van Paulus en Thekla het as ’n selfstandige onderafdeling v.d. Handelinge van Paulus bewaar gebly. Toe Paulus in Ikonium op aanklag van Tamiris gevange geneem is omdat sy verloofde Tekla ernstige aandag aan die woord van Paulus gegee het, het Tekla die bewaarder omgekoop en Paulus in die gevangenis besoek om deur hom onderrig te word.

Toe dit bekend geword het, is Paulus gegésel en uit die stad verdryf en Tekla sou verbrand word. Deur ’n gebed van Paulus het Thekla die dood vrygespring, Paulus ontmoet, en saam met hom na Antiochië gegaan waar sy veroordeel is om deur wilde diere verskeur te word, hierdie keer omdat Aleksander op haar verlief geraak het, en sy egter niks van hom wou weet nie. Die wilde diere het egter niks aan haar gedoen nie. Nadat sy vrygelaat is, het sy na Paulus in Mira gegaan en hom van haar wedervaringe vertel. Daarna het sy, in opdrag van Paulus, na Ikonium teruggekeer en die evangelie aan haar moeder verkondig. Sy het in Seleukië gesterf.

Openbaring van Paulus

’n Apokrief v.d. N.T. waarin, op grond van 2 Kor. 12:1 e.v. vertel word van visioene wat Paulus  sou ontvang het v.d. hemelse paradys en v.d. hel. Die geskrif dateer uit die 2de eeu en is slegs in fragmente bekend.


[1] Apokriewe – Ou en Nuwe Testament – Jan van der Watt en Francois Tolmie

Salomo – ‘n oorsig van sy lewe

Salomo is die derde koning van Israel.  Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25).

Tog figureer hy eers baie laat in Dawid se termyn as koning, al is hy vroeg reeds in Jerusalem gebore.  Sy pad na die troon word bemoeilik deur Adonia wat met die afgesette leerowerste Joab en die invloedryke priester Abjatar saamsweer om die troon te bestyg.  Hy het egter ook gedugte metgeselle, Benaja, wat sy oog het op die aanvoerdersrol, en Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word.  Hulle mondstuk is die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, maar ook ‘n vertroueling van Dawid en Batseba.

Op vernuftige wyse hanteer Salomo die uitdagings deur ontslae te raak van al drie, Joab, Adonia en Abjatar.  Die koningmoeder speel ‘n belangrike rol, soos ‘n mens in die res van die koningsverhaal met ander konings se moeders sal sien.

Salomo is die eerste dinastieke koning.  Saul en Dawid was charismatiese leiers wat deur God aangewys is.  Salomo sit op die troon omdat hy ‘n afstammeling van Dawid is, dws deel van sy dinastie.

Hy word bekend vir sy wysheid, wat voortspruit uit sy gebed om ‘n “luisterende hart”.  Sy tyd is ‘n tyd van vrede en ‘n hoogbloei beide in die stabilisering van die ryk, maar ook in bouwerk en literêre arbeid.  Groot dele van Spreuke word aan hom toegeskryf, sowel as Prediker en Hooglied.  Ook twee Psalms word aan hom toegeskryf: 72 (die regverdige koning) en 127 (pelgrimslied – “as die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs”).

Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse.  Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word.

Hy staan bekend as ‘n ysterman, ‘n regeerder wat baie sterk leiding geneem en ‘n uitstekende staatsmasjien geskep het.  Hy het gewerk met 12 administratiewe distrikte wat aan hom belasting betaal het.  En hy het dwangarbeid ingestel, wat aanvanklik uit vreemdelinge bestaan het, maar later ook Israeliete ingesluit het.  Dit was alles ter wille van sy groot bouprojekte.

In die proses het hy van sy mense vervreem, bv. deur 20 dorpe in Galilea vir Hiram van Tirus te gee (1 Kon 9:11).  Nie dat Hiram baie tevrede daarmee was nie.  Dit wil ook voorkom asof hy dit later teruggegee het (2 Kron 8:1-2).

Salomo was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het.  Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker.  Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs (1 Kon 10:28-29).

Farao se dogter was ‘n hoogtepunt in sy internasionale betrekkinge, ‘n ongehoorde ding tot op daardie stadium.  In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.  En so het hy sy betrekkinge verstewig met huwelik na huwelik.

Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie.  In sy latere jare word hy teengestaan deur Hadad, die Edomiet en Reson van die Arameërs.  En sy huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd begin navolg.  En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.

Die karakter van Dawid

Ek het in my leeswerk oor Dawid, die man na God se hart, op soveel stof afgekom, dat ek besluit het om ‘n deel daarvan eerder net op die webtuiste te plaas.  Hier is dus ‘n paar aspekte van Dawid se karakter vir nadenke:

Passie vir God

Uit die Psalms van Dawid kan ‘n mens agter kom dat hy ‘n passie vir God gehad het, soos min ander van sy tyd, trouens soos min voor of na hom.  So as hy in Psalm 15 skryf, ” Wie mag op u heilige berg vertoef?”  dan is dit met ‘n diep eerlike soeke en begeerte na God.

Hy was lief vir die Here en selfs in sy donkerste uur het hy telkens teruggekeer na die grond van sy bestaan, om God met sy hele wese lief te hê en te dien.

Kunssinnige streep

Daarby het hy kunssinnige streep gehad, wat in musiek en veral lirieke die wêreld verryk het.  Nie net kon hy koning Saul kalmeer met sy lierspel (1 Sam 16:23 – voorloper van die ghitaar, sonder ‘n sleutelbord, wat met ‘n plektrum gespeel is) nie.  Hy kon ook met passie woorde inspan om God te loof met sy digkuns (in tientalle Psalms).

  • “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre … wat is die mens dan dat U aan hom dink?” (Ps 8:4)
  • “‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” (Ps 16:6)
  • “Ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Ps 23:6).

Met net soveel passie kon hy ook die donkerte van die lewe beskryf en voor God se troon bring:

  • “Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, het my in die rug gesteek.” (Ps 41:10).
  • “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” (Ps 22:2)
  • ” U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!” (Ps 22:4)

Dapper vegter

Maar Dawid was ook ‘n dapper vegter, wat lief was vir ‘n uitdaging, veral waar hy hoë risiko’s moes neem.  Dink maar aan die keer dat hy nader gekruip het na Saul in die grot, terwyl dié besig was om ‘n draai te loop, en ‘n deel van sy klere afgesny het, om hom die boodskap te gee, dat hy nie vir Saul wil kwaad aandoen nie (1 Sam 24).

Maar sy dapperheid het uiteindelik oorgegaan in ‘n liefde vir bloed, en het Dawid ‘n hele paar gruweldade gepleeg.  Op ‘n keer het hy die Moabiete in groepe op die grond laat lê, en vir elke groep wat hy laat lewe het, het hy twee groepe doodgemaak (2 Sam 8:2).  En ‘n ander keer het hy toegelaat dat 7 seuns van Saul se nageslag doodgemaak word (2 Sam 21), al het hy anders aan hulle belowe (1 Sam 24:21).

En tog kon hy met deernis optree teenoor manne saam met hom wat nie die pas in die oorlog kon volhou nie.  Op ‘n keer wou die manne wat enduit teen die Amalekiete geveg het, nie die buit deel met dié wat agter geraak het nie, en Dawid het net besluit almal kry gelykop van die buit (1 Sam 30:24).  ‘n Ware komplekse volronde karakter!

Maar dapper was hy beslis.  Geen wonder dat Israel gaande was oor hom nie.  ” U is soos tien duisend van ons”, sê die leër op ‘n keer, toe hulle wou keer dat hy teen Absalom uittrek (2 Sam 18:3).

Net vir Joab en sy broers, die seuns van Seruja, Dawid se half-suster, d.w.s. sy susterskinders, was hy versigtig (2 Sam 3:39), al was hulle blind-lojaal aan hom.  Hulle sou enigiets doen om Dawid se posisie te verstewig, al kos dit ook wat, en al is dit boos.  En Dawid het die voordeel daarvan gehad, hoewel hy nie altyd saamgestem het met hulle metodieke nie.  Eers op sy sterfbed het Dawid vir Salomo opdrag gegee om Joab te straf vir sy wandade, toe dié al oud was (1 Kon 2:5-6, 28 vv.).

Wyse man

Maar die belangrikste kenmerk van Dawid was dat hy wys was.  Hy het geweet om meer vriende te maak as vyande.  En hy kon ongelooflik strategies dink.  As Absalom hom laat vlug uit Jerusalem, dan maak Dawid planne soos hy uit die stad saam met sy mense stap, om die raad van Agitofel, die een wat Absalom gehelp het, en self ‘n strateeg van formaat, te verydel.  En ook dié opstand word die hoof gebied, al is dit met baie pyn en skade.

En sy keuse van hoofstad was in die kol – 3 000 jaar later is dit nog steeds die hoofsentrum van sy volk.

Onlangse kommentaar