Skip to main content

Jeremia 11:1-17

Vervloek is elkeen wat ongehoorsaam is aan die verbond

Hier begin weer ’n nuwe hoofdeel van Jeremia, aangedui met die frase: “Dit is die woord …”. Die Here fokus hier op die verbreking van die verbond wat Hy met die volk gesluit het, maar wat hulle deur hulle ongehoorsaamheid en afgodediens verbreek het. Dit is duidelik dat dié woorde van Jeremia geïnspireer is uit beskrywings van die verbond regdeur die boek Deuteronomium. Vgl. bv. die verwysing na “vloek” in vers 3 met Deut. 27:26, “ystersmeltoond” in vers 4 met Deut. 4:20, die “eed aan die voorvaders” in vers 5 met Deut. 7:8; 8:18; 9:5 en nog vele meer.

Jeremia word ’n opdrag gegee om self te luister na die bepalings van die verbond, soos dit in Eksodus tot in Deuteronomium (veral 27:15-26) beslag gekry het en deur Josia in sy hervorming gebruik is (2 Kon. 22-23). Met dít as agtergrond moet hy die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem soos volg daaroor inlig, telkens vanuit sy intieme gesprek met en in opdrag van die Here.

Teks en konteks

Jeremia 11:3-5 – Die vloek van die verbond

Die verbond hou nie net voortdurende seën in vir die volk onafhanklik van hulle nakoming van die voorwaardes van die verbond nie. Die verbond het ook vervloekings bevat aan elkeen wat ongehoorsaam is aan die bepalings van die verbond wat die Here by die Uittog uit Egipte aan hulle voorvaders bekend gemaak het.

Hulle verhouding met God hang af van hulle gehoorsaamheid. God se landsbelofte word bevestig in hulle gehoorsaamheid aan die verbondsbepalings. Daarop het Jeremia sy instemming laat hoor: “Amen, Here.”

Jeremia 11:6-8 – Die straf van die verbond

Die Here vervolg deur die volk op te roep tot gehoorsaamheid aan die bepalings van die verbond. Hy herinner hulle egter onmiddellik aan die feit dat die voorvaders dié oproep op hardkoppige wyse geïgnoreer het. Dit het God se strawwe wat in die verbondsvervloekinge bepaal is, in werking gestel. Let op dat Jeremia dié boodskap moet bring in die stede van Juda sowel as in die strate van Jerusalem. Hy het dus moontlik as deel van Josia se hervormings die land vol met dié boodskap deurkruis.

Jeremia 11:9-10 – Die verbreking van die verbond

Die Here sluit in sy opvolg gesprek met Jeremia die huidige volk in by die sondes van die voorvaders. “Hulle is weer terug by die eerste sondes van hulle voorvaders.” Hulle weier ook om na God se woorde te luister. Hulle dien ook eerder ander gode. Daarmee het hulle, soos hulle voorvaders, die verbond met God verbreek. Hier kan ook ’n subtiele verwysing wees na die konings wat politiese alliansies met ander nasies aangegaan het en só “saamgesweer” het teen die Here. Dit kan ook na sy eie mense in Anatot verwys (11:21-22; 12:5-6).

Jeremia 11:11-14 – Gebed sal die ramp nie afweer nie

Omdat die volk ook in Jeremia se tyd nie na God geluister en Hom nie gedien het nie, bring God daarom die vervloekings en strawwe van die verbond oor hulle, soos Hy dit ook al vroeër gedoen het oor sy ongehoorsame volk. Die afgode sal hulle dan nie kan help nie. Trouens, selfs Jeremia se gebed sal nie help nie, want hy word verbied om vir hulle in te tree.

Jeremia 11:15-17 – Afgodediens is die oorsaak van die rampspoed

Dit is duidelik dat die oorsaak van die rampspoed wat Juda tref in hulle afgodediens lê. Die mooi groen olyfboom van die Here, Juda, sal kaal gestroop en sy blare aan die brand gesteek word. En die tragiese is dat die volk dit hulleself aangedoen het.

Boodskap en betekenis

Dit is weereens duidelik hoe belangrik die bekende Woord van God, in dié geval Deuteronomium, vir Jeremia was in sy beoordeling van wat rondom hom met die volk besig was om te gebeur. God se beloftes en riglyne is in die Bybel, wat almal kan lees, opgeteken.

  • Dit is aan die eenkant ’n uitnodiging en aanmoediging – “Doen alles wat Ek julle beveel, dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees”.
  • Dit is aan die ander kant ’n waarskuwing en oordeelsaankondiging – “Omdat dit so is … bring Ek ’n ramp oor hulle waaraan hulle nie sal kan ontkom nie.”

Die feit dat God in Jesus naby ons gekom het, dat Hy vir ons lief het en aan ons sy genade op soveel wyses bewys, moet ons nie onder enige illusies laat dat Hy daarmee sy soewereiniteit en Almag prysgegee het nie. Hy is Here, ja. Maar Hy is ook die Almagtige, verseker.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…