Skip to main content

1 Korintiërs 4

Leiers is diensknegte van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God

In hierdie hoofstuk gee Paulus sy derde perspektief op die roeping van die apostels en leiers in die gemeente. Hulle is benewens boere en bouers ook diensknegte van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God. Hulle word daarom ook deur God beoordeel, en moet hulleself binne die perke hou van wat Hy bepaal. Hulle is gevolglik ook in die eerste plek in diens van God self, en nie in diens van die gemeente nie.

Teks en konteks

Leiers word deur die Here self beoordeel – 1 Korintiërs 4:1-5

Aan die einde van die vorige hoofstuk het Paulus die punt gemaak dat die apostels en leiers aan die gemeente behoort, maar dat hulle almal uiteindelik aan die Here behoort. Dit is waarom alle gelowiges en alle leiers hulle lewens aan Hom moet toevertrou, want Hy is die enigste Een wat ‘n betroubare oordeel kan fel oor ons lewe en bediening.

Nou skryf hy dat aan die een kant leiers en apostels diensknegte is van Christus wat daarom in sy diens staan. Hulle ontvang hulle opdragte van Hom. Aan die ander kant is hulle ook bedienaars van die verborgenhede van God wat tot voordeel van die gemeente sowel as die koninkryk se koms in hierdie wêreld aangewend moet word.

Die apostels kan dus vergelyk word met die profete van ouds wat intersessors was vir mense by God, en boodskappers van God by die mense.

Dit is waarom dit van min waarde is om hulle aan menslike standaarde te beoordeel, want hulle moet aan hierdie roeping getrou bevind word. Wanneer die Here weer kom, sal alles aan die lig gebring word, die dinge van die duisternis (donker geheime) sowel as die ware bedoelings van die hart. Dit gaan nie net oor openbare gedrag nie, maar ook oor verborge gedagtes.

Almal van ons sal individueel en afsonderlik beoordeel word en lof van God ontvang al dan nie.

Niemand kan homself verhef op wat hy van die Here ontvang het nie – 1 Korintiërs 4:6-8

Paulus pas dit ook op homself en Apollos toe sodat die Korintiërs kan leer om in pas te bly met wat in die Skrifte (“wat geskryf is”) staan. Dit is dwaas om jouself te verhef bo ander op grond van die persoon of boodskap van ‘n leier wat jy bó ‘n ander een verkies, want niemand mag sy eie wysheid verhef bó dit wat geskrywe staan nie. Jou voorkeure verhoog in elk geval ook nie jou eie belangrikheid nie.

Dieselfde geld dit wat jy ontvang het. Dit maak jou nie meer besonders as iemand anders nie. Dit maak jou nie ‘n koning of ‘n heerser nie. Jy kan nie jouself krediet gee vir iets wat jy van ander en veral van die Here ontvang het nie.

Die lewe van ‘n apostel is nie glansryk nie – 1 Korintiërs 4:9-13

Paulus vra van hulle om die werklikheid raak te sien van wat ‘n apostel se lewe behels. Hulle is deur God self tot ‘n posisie van diens aan ander aangewys wat beteken dat hulle eintlik ‘n skouspel vir die sigbare sowel as die onsigbare wêreld geword het.

Paulus werk hier met die metafoor van die ergste misdadigers wat in die arena deur die gladiators doodgemaak is tot vermaak van die toeskouers.

Hy wys eers op sarkastiese wyse hulle misplaaste idee van hulleself as verstandig, sterk en geëerd af in kontras met die apostels wat eerder roem in die dwaasheid van die kruis, die swakheid van lyding ter wille van Christus en die oneer van die wêreld wat in opstand is teen Christus aanvaar.

Hy gee dan die ware prentjie van apostelskap: honger en dors, karig geklee, geslaan, sonder ‘n permanente tuiste, wat moet swoeg om den brode al is hulle besig om die evangelie regdeur die wêreld te neem.

Let op hoe hy in die proses hulle as voorbeeld voorhou van ware volgelingskap van Christus: om te seën wanneer jy beledig word; om te verdra as jy vervolg word; om beleefd te antwoord as jy belaster word.

In wese is dit presies die teendeel van wat die wêreldse wysheid leer dat jy jouself in alle omstandighede moet handhaaf. “Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing – tot nou toe.”

Iets om diep oor na te dink…

Dissipline is nodig in die geloofsgemeenskap – 1 Korintiërs 4:14-21

Maar dan, op vernuftige wyse, gebruik Paulus dié tekening van die apostelbediening om sy verbintenis aan hulle as geestelike vader te bevestig om hulle aan te spoor om sy voorbeeld te volg, en te volhard in die geloof.

Dit is waarom hy Timoteus na hulle gestuur het om hulle aan hierdie dinge te herinner en hulle aan te spoor tot die regte manier van lewe in verbondenheid en navolging van Christus Jesus.

En in ’n skerp toon vat hy die mense in die gemeente aan wat hulleself begin aanmatig met die waarskuwing dat hy op pad is! Paulus gaan nie homself ooit handhaaf ter wille van homself nie, maar dit beteken nie dat hy nie baie sterk gaan optree in belang van die evangelie en die boodskap van die Here Jesus Christus nie.

“Want die koninkryk van God bestaan nie uit ‘n gepraat nie, maar uit krag.” Dit is wat hy met sy besoek aan hulle wil sien.

Hy kan soos die pa van Spreuke hulle as sy kinders kom dissiplineer (Vgl. Spr 1:8-9: ”luister na die onderrig wat jou vader jou gee… dit sal jou lewe versier.” Vgl. ook Spr 22:15; 23:13-14; Asook 2 Kor. 13:2, 10 waar hy weer oor soortgelyke streng optrede teen die Korintiërs praat).

Of hy kan in liefde en ‘n gees van sagmoedigheid kom as hulle ontvanklik sal wees vir sy boodskap. Die keuse is hulle s’n.

Boodskap en betekenis

Dit gaan dus werklik in die bediening van die evangelie oor die kruis van Christus (1 Kor. 2:2) en om deel te hê aan sy lyding ter wille van die evangelie. Want, dit is ook hoe Jesus op beledigings, vervolging en belastering reg deur sy lewe en bediening gereageer het. Hy het dit verduur ter wille van die verlossing van die sonde.

Maar, dit gaan ook in die geloofsgemeenskap oor die onderlinge dissipline waarin almal gehelp word om hulle sonder uitsondering aan die boodskap van die Skrif onderwerp. Iets waarin die kerk vandag regtig grootliks faal.

In gevalle waar gelowiges hulle verhef bó die woorde van die Skrif moet die dissipline uiters streng wees. In gevalle waar gelowiges hulle onderwerp aan daardie boodskap, moet dit in liefde en ‘n gees van sagmoedigheid gedoen word.

Paulus kies in die volgende drie hoofstukke vir ‘n strenger optrede weens veral die voorkoms van verkeerde seksuele verhoudings wat met die goedkeuring van die geloofsgemeenskap toegelaat word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar