Skip to main content

1 Korintiërs 2

Die krag van God word in die kruis van Jesus Christus geopenbaar

Paulus gaan in hoofstuk 2 verder om sy boodskap aan ons identiteit in Christus vas te knoop, en baie spesifiek aan Hom as gekruisigde. Dit is die groot geheim wat deur die eeue in misterie gehul is, maar nou aan ons deur die Gees openbaar is, dat deur die kruis die heerlikheid van God self vir gelowiges bestem is. Met die gevolg dat ons nou die denkwyse van Christus het waarin ons ook die krag van die kruis in ons eie lewe na sy volle waarde kan reken.

Teks en konteks

Paulus preek Jesus Christus, en Hom as gekruisigde – 1 Korintiërs 2:1-5

Daar is altyd die gevaar dat ’n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk. Paulus herinner ons daaraan dat ’n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is. ’n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Daarom het Paulus hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister. Sy lering en sy verkondiging het nie berus op die krag van sy woorde nie, maar op “bewyse van die Gees en van krag”, sodat hulle geloof nie op sy wysheid sou berus nie, maar op die krag van God.

Dit herinner my net weer daaraan dat ’n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers 1: “geheimenisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van ’n openbaring van God se Gees. Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges.

Die kruis is God se wysheid wat ons vir heerlikheid voorberei het – 1 Korintiërs 2:6-9

Dit beteken natuurlik nie dat Paulus se boodskap nie voluit as wysheid gereken word nie, maar dit is God se wysheid nie dié van die wêreld nie. Almal wat volwasse is in geloof weet immers dat wat Paulus verkondig wel wysheid is.

Dit is die wysheid van die kruis wat deur die eeue in misterie gehul was vir die heersers van hierdie wêreld, anders sou hulle nie die Here van heerlikheid gekruisig het nie. Want, deur die kruis het God diegene wat Hom liefhet, voorberei en verlos vir die komende heerlikheid, soos Jesaja reeds 8 eeue tevore beskryf het (Jes. 64:6; vgl. Jes. 52:15).

“Heersers van hierdie wêreld” in vers 8 dui waarskynlik hier op die leiers wat Jesus gekruisig het (dieselfde woord word gebruik as in Rom. 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat ’n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfst. 6).

Die Gees het hierdie geskenk van God aan ons geopenbaar – 1 Korintiërs 2:10-16

Die Gees het hierdie diep waarheid aan ons geopenbaar sodat ons kan weet wat God genadiglik aan ons geskenk het. Dit is ook waarom ons nie menslike wysheid gebruik om hieroor te praat nie, want dit is ‘n wysheid wat die Gees ons leer; dit is die gedagtes van die Here self, weereens gebaseer op ‘n aanhaling van Jesaja (Jes. 40:3); dit is die “denkwyse van Christus.”

Boodskap en betekenis

Dit is interessant dat Paulus se bewussyn van sy swakheid nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir hom om God se krag aan die orde te stel. Dit is juis in Korinte waar hy die visioen gekry het van die Here wat hom aangemoedig het om aan te hou met die bediening (Hand. 18:9).

En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik verder skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (bv. die doring in sy vlees), as die swakhede wat inherent aan homself of sy omstandighede is. Want, hy het ervaar in dit alles: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:9).

Dit is die geheim en die krag van die kruis, die “denkwyse van Christus.” Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (2 Kor. 12:10).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…