Skip to main content

2 Samuel 20; 1 Kronieke 18:14-17

Dawid bring eenheid, maar die onderliggende konflik bly sluimerend

Na die hewige woordewisseling tussen Israel en Juda, lei een van Saul se mense, Seba, ‘n Benjaminiet, die Israeliete in ‘n rebellie teen Dawid. Juda staan dus aanvanklik heeltemal alleen in die suide. Die rebellie word gelukkig onderdruk deur ‘n wyse vrou wat Seba se afgekapte kop aan Joab oorhandig. Joab konsolideer in die proses, wel tot Dawid se groot ontsteltenis, sy mag deur eenvoudig vir Amasa dood te maak en met mag en geweld sy houvas op die hele leër van Israel af te dwing. Dit bring eenheid, maar die onderliggende konflik sou bly sluimer.

Teks en konteks

Seba, ‘n Benjaminiet, dws een van die stamme uit die suide, maar ’n opstoker wat Dawid nie goedgesind was nie, was toevallig daar. Hy het almal aangepor om teen Dawid te draai met die volgende woorde: “Ons het geen aanspraak op Dawid, geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel!” Woorde wat later weer gebruik sou word om die volk ná Salomo in twee koninkryke te skeur (1 Kon 12:16).

Seba se woorde het aanvanklik die gewenste uitwerking gehad. Net die manne van Juda het aan hulle koning se sy van die Jordaan af tot by Jerusalem getrek.

Wanneer Dawid in Jerusalem kom, is dit hartseer om te lees dat die byvroue, wat op geen manier verkeerd opgetree het, moet boet vir wat Absalom aan hulle en Dawid gedoen het. Dawid sorg wel vir hulle, maar sonder hulle af in ‘n lewenslange weduweeskap. Hy het geen verhouding verder met hulle gehad nie. Hy het egter weinig ander keuse gehad.

Hy tree met daadkrag op om Amasa en die res van die leër te stuur om Seba te straf. Joab gebruik wel die geleentheid om Amasa op gruwelike wyse te vermoor om sy eie mag te konsolideer oor Israel, maar slaag uiteindelik in sy doel om Israel agter Dawid te verenig.

Seba se opstand word deur Joab en ‘n wyse vrou van die stad Abel, waar Seba gaan skuil het, in die kiem gesmoor. (Joab het self tevore ‘n wyse vrou gebruik tot Absalom se voordeel.) Seba se kop word afgekap en aan Joab gegee, eerder as dat die hele stad deur Joab en sy manne vernietig sou word.

Seba se woorde sou egter bly voorbestaan en met die skeuring van die ryk onder leiding van Rehabeam weer aangehaal word om hulle optrede te verwoord (1 Kon 12:16).

Die hoofstuk sluit met ‘n lys van die mense wat of steeds in Dawid se diens was, of vervang is deur ander (vgl 2 Sam 8:16-18). Joab, Benaja, Sadok en Josafat het dieselfde rolle. Abjatar vervang Ahimelek as priester; Sewa vervang Seraja as sekretaris; Ira die Jaïriet vervang Dawid se seuns as ‘n priester; en Adoram word bygevoeg as die toesighouer van dwangarbeid (sien 1 Kon 12:18).

Boodskap en betekenis

Die politieke pendulum het weer teruggeswaai na Dawid met die ondersteuning van al die stamme van Israel en Juda, maar die onderliggende konflik sou bly voortbestaan tot Israel ná die regering van Salomo onherstelbaar in twee ryke sou skeur.

Dink ook vandag na oor die wyse waarop wysheid (van die naamlose vrou) en daadkrag (van die held Joab) kan saamwerk om juis geweld te beperk en ‘n goeie uitkoms vir almal te verseker.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar