Skip to main content

1 Konings 16:29–17:24

Die Here wys vir Agab deur droogte dat Hy alleen die natuur beheer

Omri (885-874 vC) word opgevolg deur sy seun Agab (hy het 22 jaar regeer: 874-853 vC) wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou. Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El toelaat om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Die Here stuur egter sy profeet Elia om die afvalligheid aan te spreek en die volk tot bekering en aanbidding van Hom alleen op te roep deur die wonders en tekens wat sy beheer oor die natuur en die geskiedenis demonstreer. Hy alleen is God en Hy alleen bestuur die gang van sake op aarde.

Elia se verhaal strek van 1 Konings 17 waar sy bediening begin tot 2 Konings 2 waar hy lewend hemel toe geneem word. Agab se verhaal strek tot 1 Konings 22 waar ons ook vertel word dat hy opgevolg is deur sy seun Ahasia. Ahasia is kort daarna dood weens sy eie afgodery met Agab se kleinseun Joram wat daarna koning word, soos ons in 2 Konings 1 vertel word.

Reg deur al dié gebeure is Elia op die toneel, selfs al is daar ook ander profete wat in die tyd optree, soos Miga (1 Kon 22:8) en ‘n profetegroep (1 Konings 20:35), selfs ‘n onbekende profeet wat ook ‘n boodskap vir Agab het (1 Kon 20:13).

In 1 Konings 22 word die verhaal van Josafat van Juda ook ingetrek waar hy saam met Agab oorlog voer. Daar word meer oor Josafat in 2 Kronieke 17 tot 20 vertel waarin die inhoud van 2 Kronieke 18 ooreenkom met 1 Konings 22, maar die res van die hoofstukke meer selfstandige inligting oor sy regeringstyd gee.

Ons leeswerk sal dus soos volg verloop: 1 Konings 17-21, 2 Kronieke 17, 1 Konings 22:1-51 en 2 Kronieke 18, 2 Kronieke 19-20, en dan weer terug in Konings met 1 Konings 22:52-54 (Ahasia) en 2 Konings 1-2 waar Elisa op die toneel verskyn en by Elia oorneem tydens die regering van Joram.

Teks en konteks

Die tyd van Agab was ‘n tyd van ernstige politieke konflik, nie soseer tussen partye in die stede nie, soos hier in ons metropole nie, maar tussen die stede en die platteland. Tussen die kleinboere en die grootboere, die konings en die grondeienaars. Geen wonder die verhaal van Nabot se wingerd word met soveel deernis in die Elia-verhale ingesluit nie (1 Kon 21). Uitbuiting en onreg, lieg en bedrieg, was aan die orde van die dag.

Die godsdienstige afvalligheid was egter die heel slegste. Die kweekskool van Isebel – by wyse van spreke – met haar priesters en profete van Baäl en Asjera het die ghitaar geslaan. Hulle het die suiwer godsdiens van Jahwe en die heiligheid van die huwelik vervang met afgodsdiens en onsedelikheid.

Isebel – dogter van EtBaäl, koning van Sidon (1 Kon 16:31) – se Godsbeeld was dié van die Kanaänitiese viervlakkige veelgodedom. Op die boonste vlak was die dronk afsydige god El en sy wellustige vrou, die godin Asjera. ‘n Onwelvoeglike spul. Op die tweede en meer aktiewe vlak was die god Baäl, die bul, die god van die natuur. Die god van die storms wat reën bring, van vrugbaarheid en nuwe lewe.

En dan ook nog sy suster Baalat, sy eweknie. Met ‘n paar ander gode, soos die afgryslike god Mot, die god van die dood. Aan wie kinders geoffer is, baie keer in ‘n seksuele rite.

Dan was daar nog twee laer vlakke van plaaslike godjies, en ‘n paar boodskappers, amper soos engele. ‘n Hele godsdienstige sisteem in die gemeenskap waardeur die Godsbeeld van die heilige God, Jahwe, en sy wil vir die lewe in gedrang gebring is.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig. Daar is min oor Elia bekend. Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn. Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe. Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes. Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”.

Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ’n man van God wat veral ’n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar ook vir hom sorg. Let op dat elke wonder van die Here ’n sinvolle rol speel in sy bediening (4 in hoofstuk 17 en 3 in hoofstuk 18 wat ons volgende gaan lees).

1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die volk (1 Konings 17).

Elia kondig die droogte aan op geen onseker wyse nie: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

Die droogte kom dus nie deur ‘n weervoorspelling nie. Nee, deur ‘n aankondiging van sy profeet. Vir drie jaar. ‘n Uitmergelende droogte. Oor die hele land. Net op grond van God se woord. Want, God is in beheer van die kosmos.

En Baäl kyk op sy neus. Die god van die storms is stil. Geen donderwolke. Geen reënwolke. Die normale gang van die natuur is verbreek. En die volk besef, Baäl is eintlik ‘n niksnuts. ‘n Wasempie. ‘n Newelwolk. Hy bestaan nie.

Daarmee wys Elia dat die droogte God se reaksie is op die chaos op politieke en godsdienstige terrein. Hy wys dat God groot is. Dat Hy kan optree. Dat die kosmos onder sy beheer is. Dat daar niemand saam met Hom God kan wees nie.

Maar Hy wys ook dat Hy die Enigste God is. Daar is nie ‘n god soos Baäl nie. Hy het geen beheer nie. Hy kan niks vermag nie. Hy is ‘n skim van ‘n god. Een wat in nie-bestaan vervlugtig.

2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here sorg.

Dit is nie net die natuur wat onder God se beheer is nie. Selfs die diere is onder sy beheer. Só sorg Hy vir sy profeet wat hy beveel om hom te gaan versteek by die Kritspruit, anderkant die Jordaan. Daar sou hy water uit die spruit kon drink. En daar het God het die kraaie beveel om vir hom te sorg. God vra nie net gehoorsaamheid nie. Hy beloon dit ook. Hy kan vir sy profeet sorg, want Hy is genadig.

Terwyl Agab moet skarrel om water vir sy mense en diere te kry, sit Elia by die Kritspruit, anderkant die Jordaan. Die Here versteek Elia daar by ‘n goeie waterbron. En die kraaie bring vir hom brood en vleis. Elke oggend. Elke aand.

God is dus groot in die kosmos. Hy bring droogte. Hy kan die natuur beheer. God is ook groot in die kleine. Hy stuur die kraaie om vir sy profeet te sorg. Met brood en vleis. Twee keer ‘n dag.

3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in Sarfat.

Selfs die kanne en die kruike van die weduwee van Sarfat is onder sy beheer: “So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” God kan ook dáár in die vreemde land van Sidon vir sy profeet sorg. Só goed is God.

En Hy wys ook dat die huwelik vir hom kosbaar is. Dat Hy ver sal gaan om Hom oor die weduwees en die wese te ontferm, die vaderloses. Hy word die Vader van die weduwee van Sarfat en haar kind.

En later sal God weer reën gee om die droogte te breek soos Elia voorspel het. Sodat die normale siklus van die weerpatrone en die plant-en-oes siklus weer sy lewegewende werk kan doen. Maar op God se terme, nie op Baäl s’n nie.

4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan haar.

Toe die seun van die weduwee van Sarfat sterf, wek God hom uit die dood uit op. Elia se indringende gebed word deur God verhoor. Wat vir ons sê dat God getrou is. Hy los die weduwee nie aan haar eie genade oor nie. Hy hou die familie in stand ten spyte van die uitdagings wat hulle deur die afsterwe van die man die hoof moes bied. God gee lewe vir haar kind. God is getrou.

Ter wille van volledigheid plaas ek die ander drie hier, maar ons lees eers môre daaroor.

5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.

6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die volk.

7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Dit tref my ook hoe ’n belangrike rol gebed in Elia se lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan. Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)

Let laastens ook op die klein verhaaltjie van Obadja (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly. Elia mis egter dié feit as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

Boodskap en betekenis

In die eerste plek wil die verhaal van Elia dus ons oë oopmaak. Hy wil ons Godsbeeld herstel. Hy wil ons groter laat dink oor God. Hy wil hê ons moet sy genade raaksien. Sy goedheid. Sy getrouheid. Sy liefde en trou.

Maar, Elia is in die tweede plek ook helder daaroor dat ons dit beter kan raaksien midde in die chaos wat ons in hierdie lewe beleef. Midde in die droogte.

  • Daar by die Kritspruit waar die kraaie vir Elia kos bring en hy wegkruip vir die woede van Agab en Isebel.
  • Daar by die weduwee van Sarfat waar ‘n wonderwerk nodig is om genoeg olie en meel te hê om te kan oorleef.
  • Daar waar ‘n kind sterf en nóg ‘n wonderwerk nodig is om hom na die lewe toe terug te bring.
  • Daar waar hy alleen staan op die berg Karmel met ‘n oormag van 450 profete van Baäl teenoor hom. En hy moet vertrou dat God vuur uit die hemel sal bring. En later die droogte sal breek.

Dit is waar alles begin, by jou visie op God. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra. Waarheen Hy met ons op pad is. God is groot. Onmeetbaar groot. Hy is die God van die kosmos en die kraaie, die kanne en die kruike, selfs van die lewe en die dood.

En dié God se genade strek baie ver. Daar is die genade van ‘n oase by die Kritspruit. Water, brood en vleis. Die genade van ‘n tuiste by die weduwee van Sarfat. Water, meel en olie. Die genade van ‘n seun wat vir die weduwee uit die dood uit opgewek word. Die genade van reën wanneer God sy seën weer uitgiet met die mag van die Baälprofete gebreek op die berg Karmel. God is genadig.

Maar wat ons ook moet raaksien, is dat hierdie genade ook telkens aan Agab en Isebel aangebied word. Die droogte is ‘n woord van God aan Agab om tot inkeer te kom. Die tuiskoms van Elia by die weduwee van Sarfat in heidense gebied en die opwekking van haar seun is ‘n woord van God aan Agab dat God lewe gee vir dié wat Hom verwelkom. Die vuur uit die hemel op die berg Karmel is ‘n teken dat God bestaan en dié beloon wat Hom soek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar