Skip to main content

1 Samuel 2

Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad

Teks en konteks

Die tweede hoofstuk fokus eerstens op Hanna se gebed tot die Here – 1 Samuel 2:1-11. Dit het duidelike ooreenkomste met Maria se loflied in die NT (Luk 1:46-55). Tweedens fokus hoofstuk twee op die kontras tussen die goddeloosheid van die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, en die gehoorsaamheid van die seun van Elkana en Hanna, Samuel, in diens van die Here – 1 Samuel 2:12-26. Samuel het toegeneem in grootte (of aansien) en guns by die Here sowel as by die mense (vgl ook 1 Sam 3:19) soos dit later op soortgelyke wyse van beide Johannes die Doper (Luk 1:80) en die Here Jesus Christus gesê word (Luk 2:40). Derdens fokus hoofstuk twee op die voorspelling van ‘n man van God dat die Here Eli se priesterskap van hom en sy nageslag wegneem en aan ‘n ander sal gee – 1 Samuel 2:27-36. Dit kan gemik wees op die verkiesing net hierna van Samuel as die spreekbuis van God, maar meer waarskynlik word die voorspelling in die verkiesing van Sadok as hoëpriester vervul in die tyd van Salomo (1 Kon 2:35; vgl 2 Sam 8:17).

Hanna se gebed – 1 Samuel 2:1-11

Hanna begin haar gebed met ’n lofprysing aan die Here vir die vreugde en sterkte wat hy vir haar met die geboorte van haar seun gegee het. Sy kan nou getuig teenoor haar vyande – sy dink waarskynlik veral aan Pennina – dat die Here waarlik ’n verlosser is.

Dan skuif haar fokus na die einskappe wat die Here deur sy geskenk aan haar vertoon. Hy is heilig, onvergelyklik, ‘n rots soos geen ander nie. Voor hom moet ‘n mens nie vermetel praat (soos haar mededinger, Pennina, gedoen het nie), want Hy weeg jou dade vanuit die maatstaf van sy onbeperkte kennis.

Hierdie God laat hom ken in die feit dat Hy die gang van die lewe bepaal. Hy verpletter helde, en verhoog struikelendes. Hy bepaal oorvloed en teëspoed. Hy maak vrugbaar en onvrugbaar. Hy maak ryk en Hy maak arm. Hy maak dood en Hy maak lewend. Hy is die fondament waarop alles rus en hulle vastigheid vind uitgedruk met die metafoor van die “pilare” waarop die wêreld gegrondves is.

In ‘n duidelike verwysing na haar eie onvrugbaarheid en Pennina se selfverheffing weens haar vrugbaarheid, sê sy: “Selfs die onvrugbare gee geboorte aan sewe, maar die vrou met baie seuns kwyn weg.” Die getal sewe word hier in ‘n ideale sin gebruik. Elders in die OT is om sewe kinders te hê ‘n bewys van vrugbaarheid as gevolg van God se seën op die gesin (Rut 4:15; Jer 15:9).

Sy is egter ook helder daaroor dat God self ‘n onderskeid maak tussen sy troue volgelinge en die goddeloses, iets wat later in Psalm 1 so helder geformuleer sal word. “Die voete van sy troue volgelinge beskerm Hy, maar goddeloses – in duisternis word hulle vernietig.”

Sy verbly haar uiteindelik dus meer in die Here self as in die uitkoms. Want, ware krag kom net van die Here af, nie van mense nie. Hy sorg dat geregtigheid geskied: “Die Here spreek reg tot by die uithoeke van die aarde. Hy gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

Die kontras van Samuel met Hofni en Pinehas – 1 Samuel 2:12-26

Die skrywer merk op dat Eli se seuns deugniete was. Dit waarvoor Hanna bang was – dat Eli haar as ’n deugniet sou sien – het hulle omarm. Die rede, sê die skrywer, was tragies genoeg dat hulle die Here nie geken het nie, ten spyte van die nabyheid aan die huis van die Here.

Hulle het die “goeie lewe” nagejaag, sonder om enige effort in te sit om “by Jahwe” te lewe nie. Hulle het eintlik soos celebrities gelewe, met baie kos en baie vrouens.

  • Hulle sonde was daarom dat hulle God geminag het deur net rou vleis van die Israeliete te aanvaar, want dan kon jy meer vleis uithaal, omdat rou vleis makliker vassit aan ‘n vurk as gaar vleis – soos die wet voorgeskryf het. Hulle het ook gedreig om dit met geweld af te vat as hulle wens nie gerespekteer word nie. Daarmee het hulle nie net die wet oortree nie, maar die mense ook hulle agting laat verloor vir die offer van die Here. Die hele idee van versoening met God het daarmee gedreig om in diskrediet te kom.
  • Hulle het daarby ook by die vrouens geslaap wat by die ingang van die tent van ontmoeting diens doen, wat nie net immoreel was nie, maar ook die Israelitiese godsdiens daarmee tot dieselfde vlak as die Kanaänitiese vrugbaarheidsgodsdiens laat daal het. Hulle het dus die volk verlei om God te dien op dieselfde wyse as wat Baäl onder die Kanaäniete gedien is.

Afgodsdiens en immoraliteit in ‘n onheilige verbintenis, soos ons dit regdeur die geskiedenis sien.

Eli waarsku hulle wel dat as een mens teen ‘n ander mens sondig, kan God die saak vir hom beslis. “Maar as dit teen die Here is wat ‘n mens sondig, wie sal dan sy saak behartig?”

Maar Eli was meer bekommerd oor wat die mense oor sy seuns sê as oor hulle gedrag per se en die effek wat dit op die eer van die Here het. Hy het verder net gekla daaroor, maar nie opgetree en dit voorkom nie, wat hy as leier wel in staat was om te doen.

Eli verspeel daarmee op tragiese wyse die uitsoek posisie wat sy voorvader Pinehas – kleinseun van Aäron, en na wie sy een seun vernoem is – vir hulle familie verwerf het, dws dat God ’n verbond met hulle gesluit het dat hulle ’n blywende priesterskap sou hê (Num 25:5-8)!

Hulle voorvader Pinehas het met dapper gehoorsaamheid en toewyding aan die Here opgetree, deur die Israeliet wat ’n Midianitiese vrou binne die laer ingebring het, dood te maak, en so God se toorn laat bedaar het weens Israel se immoraliteit en afgodsdiens in die woestyn.

Eli bring dié belofte en die vervulling daarvan egter nou in gedrang met sy swak leierskap in die beloofde land.

Die ligpunt is dat Samuel die Here gedien het, selfs voordat hy self God se stem gehoor het, soos ons in hoofstuk 3 gaan lees. Hy was van die begin af “by Jahwe.” Dit is wat vers 21 bedoel as dit sê dat Samuel by die Here grootgeword het, dws in die teenwoordigheid van God: letterlik “by Jahwe”.

Dieselfde frase kry ons wanneer Moses se ervaring in Eksodus 34:28 beskryf word: “Moses was veertig dae en nagte by Jahwe”. Samuel het dus ’n Moses-tipe verhouding met die Here, sê die skrywer vir ons. En die gevolge vir hom word uitgespel in vers 26. Samuel: “het in aansien en guns gegroei, by sowel die Here as by die mense.” God het al hoe meer genade aan Samuel gegee en terselfdertyd het Samuel in aansien by die mense gegroei.

Dit is interessant hoe Samuel deur hierdie allesoorheersende invloed van die Here self getrou kon bly tot aan die einde van sy lewe – sonder dat hy ooit geval het vir die versoekings van die “goeie lewe” soos Hofni en Pinehas. In 1 Samuel 12 vertel die skrywer vir ons dat Samuel aan die einde van sy lewe verwys daarna dat hy niemand se os of donkie gevat het nie; dat hy niemand benadeel of verdruk het nie; dat hy nie omkoopgeld aanvaar het nie.

Let ook op dat Samuel ’n linneskouerkleed (efod) dra wat duidelik sy priesterlike status aandui (vgl 1 Sam 22:18 waar die efod direk met die priesters verbind word).

Die verwerping van die huis van Eli – 1 Samuel 2:27-36

Daar was duidelik ook ander gesante van God in hierdie tyd wat Hom gedien het. Een van hulle bring aan Eli ’n verdere boodskap van oordeel wat aansluit by wat Samuel net hierna aan hom sal oordra: “Jy betoon meer eer aan jou seuns as aan My!”

Daarom trek die Here die vervulling van die belofte aan sy priesterlike nageslag terug met die boodskap: “Mense wat My eer, sal Ek eer; maar mense wat My minag, sal veragtelik wees.”

God se belofte aan Eli word dus opgehef, sodat sy nageslag hierna op een na uitgewis word. Dit het gebeur met die bloedbad op die priesters van Nob (1 Sam 22:6–18), toe daar net een uit Eli se nageslag vrygekom het, naamlik Abjatar (1 Sam 22:19-23). Hy het egter net tydens die regering van Dawid hierdie posisie beklee, en is uiteindelik deur Salomo verban na Anatot toe (1 Kon 2:26) en Sadok, die “betroubare priester” (1 Kon 2:35), is in sy plek aangestel (1 Kon 2:25).

Met die hervormings van Josia ‘n paar eeue later is sy ander afstammelinge nie toegelaat om langer op die platteland werksaam te wees nie (2 Kon 23:8-9), maar is na Jerusalem toe verskuif waar hulle van die Sadokitiese priesters afhanklik was (vgl 2 Kon 2:36) in ‘n verstommende vervulling van die Here se woord hier deur die man van God: “En elkeen wat oorbly in jou familie, sal kom om diep voor hom (die betroubares priester wat die Here uitkies) te buig vir ‘n stukkie silwer en ‘n ronde brood. En hulle sal sê: ‘Stel my asseblief aan by een van die priesterlike take, sodat ek ‘n stukkie brood het om te eet.’”

Die Here besluit ook om Hofni en Pinehas te laat dood maak, soos een kommentaar sê: “they sinned past the zone of grace. They had entered the zone of judgement, where the Lord’s activity hardens the heart rather than convicting of sin.” (vgl farao in Eks 4:21 en die “sonde wat tot die dood lei” in 1 Joh 5:16) So herstel God sy eer in die midde van die volk.

Boodskap en betekenis

Hanna se blydskap oor die uitkoms wat die Here gee, laat haar God beskryf as die Een wat die normale orde van wie belangrik is en wie nie omkeer. Dit is ‘n groot troos en aanmoediging vir elkeen van ons om te volhard op die pad wat die Here met ons loop – en om dit met Hom te loop, en nie volgens ons eie goeddunke nie.

Want, dit is tragies hoe die verkeerde optrede van die priesters die mense hulle agting vir die offer aan die Here laat verloor het. Dieselfde geld kerke en geloofsgemeenskappe vandag waar leiers nie getrou bly aan óf die boodskap van die Here in die Bybel óf aan die lewe wat die Bybel aan ons voorskryf nie.

Die oordeel wat God oor Eli en sy huis bring vir sulke vergrype is daarom ‘n duur les vir enige leier wat in ‘n soortgelyke besondere diens aan die Here staan. En moedig ons aan om God bo alles te eer deur te doen wat Hy aan ons openbaar in die Skrif.

Die verhaal leer ons dus dat alles om God en ons gehoorsaamheid aan Hom draai. Om naby die Here te leef en Hom bo alles te gehoorsaam. Eli en sy seuns het in hulle afvalligheid nie met hierdie Here rekening gehou nie en die prys daarvoor betaal.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar