Skip to main content

1 Konings 22:1-40; 2 Kronieke 18

Die Here bepaal die gang van sake

Die verhaal van Josafat en Agab word in beide 1 Konings 22:1-40 en 2 Kronieke 18 vertel met kleiner onderlinge verskille. Ons lees dit dus saam.

Teks en konteks

Die verhaal begin met die amper terloopse opmerking dat Josafat ’n huwelik tussen ’n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël het, waarskynlik sy seun Joram (2 Kron 21:6) en Atalia (2 Kron 22:10). Dit lei tot een van Josafat se grootste oordeelsfoute toe hy dié verbintenis wou hegter maak en waarskynlik na Samaria toe reis om die eenheid tussen die twee ryke van Israel te bewerkstellig. “Ek en jy is een en ons leërs is een” sê hy vir Agab.

Miskien wou hy die twee koningshuise nader aan mekaar bring met die oog op vereniging. Hy het ongelukkig net die verkeerde een gekies om dié ooreenkoms mee te smee (1 Kon 16:33).

Op Josafat se aandrang om die Here in die oorlog teen die Arameërs van Ramot in Gilead eers te raadpleeg, kry Agab 400 profete bymekaar wat hulle aanmoedig om met die Heer (Kronieke praat van God) se seën te gaan veg.

’n Mens wonder eerstens wie se profete dié 400 was. Elia het net tevore 450 Baäl profete op die berg Karmel uitgewis (1 Kon 18:40). Die 400 Asjera profete van Isebel wat hy ook opgeroep het dié dag, het nie opgedaag op Karmel nie, al het Elia hulle opgeroep. Dié 400 profete waarvan hier sprake is, was dus waarskynlik Asjera aanbidders.

Tweedens is dit insiggewend dat hierdie profete aanvanklik die algemene naam vir God gebruik – Heer (adonay) en God (Elohim). Dit is name wat ook vir Baäl gebruik kon word.

Geen wonder dat Josafat versigtig is en vra of daar nie iemand anders is nie. Hy wil nie maar by die Heer hoor nie. Hy wil by die Here hoor, dit wil sê, by Jahwe, die naam wat net vir die God van Israel gebruik is.

Die profete besef wat aan die gang is, en begin dan ook verder net van die Here praat, om Josafat te beïndruk, maar dit is duidelik dat hulle met ‘n ander Godsbeeld werk.

Die profeet Miga, seun van Jimla, verskyn egter op die toneel, iemand wat andersins vir ons onbekend is en nie met die Skrifprofeet Miga, van Moreset, verwar moet word nie, maar duidelik die Here ken.

Aanvanklik wil Miga nie iets anders sê as die ander profete nie. Maar Agab dring aan op ’n ware woord van die Here. Dan gee Miga hom in geen onseker taal die ontstellende woord van die Here dat koning Agab sal sterf in die oorlog. Hy volg sy profesie op met die beskrywing van ’n gesig van God op sy troon wat ’n leuengees (sy optrede herinner aan dié van Satan in Job 1-2) in die monde van die 400 profete gestuur het om Agab so ver te kry om oorlog te maak sodat hy daar kan sneuwel.

Dié motief van misleiding wat deur God gestuur word, is een wat op ander plekke in die OT voorkom. Vergelyk bv Jesaja 6:9-10 waar Jesaja geroep word om as straf vir die goddeloses hulle harte ongevoelig te maak, hulle ore doof, en hulle oë toe te smeer: “sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!”

Dit is ‘n motief wat ook weerklink in die NT.

  • Jesus praat in Matteus 24:23–24 oor vals christusse en profete wat mense sal mislei voor sy tweede koms. Dit is mense wat deur God toegelaat word om dié wat teen Hom in opstand is, te mislei, maar, hoewel hulle in stryd is met die ware gelowiges, gelukkig geen ewige effek op die uitverkorenes wat die waarheid glo, sal hê nie.
  • Paulus skryf in sy vroeë briewe aan die Tessalonisense oor die misleiding wat sal kom oor dié wat die waarheid van Christus wat vir hulle redding kan bring, nie wil aanvaar nie. Dit gebeur deur die werking van die wettelose onder leiding van Satan wat deur God toegelaat word om ‘n wêreld in opstand teen Hom, verder te mislei (2 Tes. 2:9–12). Dié boodskap van Paulus pas dus goed in by wat hier met Agab gebeur – hy wou die Here nie dien nie en het Baäl en Asjera verkies en daarom gee die Here vir Agab oor aan die misleiding wat tot sy dood lei. Die misleiding kom ná die keuse om God nie te dien nie.
  • Ook Johannes skryf hieroor met sy openbaring van die onheilige triniteit: die antichris, die dier uit die see (Openb 13:13–14; vgl 1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh 7), die vals profeet, die dier uit die aarde (Openb 13:1; vgl 16:13), en die draak, die Satan (Openb 12:3; 20:2, 7), wat die mense mislei wat nie die waarheid van God wou aanvaar nie, maar uiteindelik in die poel van vuur gegooi word met die eindoordeel.

Soos Job 9:24 sê: ”Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose, en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?”

Agab misbruik dan vir Josafat, deur homself te vermom, maar Josafat sy koninklike gewaad te laat aanhou, wat amper tot Josafat se dood lei. Die Here voer egter sy besluit uit deur ’n onbekende soldaat wat ’n pyl afskiet wat Agab se dood veroorsaak.

Die lot van Miga hierna is onbekend, maar die feit dat hy in die tronk gestop is op ’n honger rantsoen van kos en water beteken waarskynlik dat dit tot sy dood gelei het. Tragies, maar deel van die pad wat profete baie keer moes loop in gehoorsaamheid aan die Here.

Boodskap en betekenis

In jou nadenke oor hierdie twee hoofstukke sal jy kan fokus op die idee dat dade gevolge het. Josafat se pogings om die twee koningshuise nader aan mekaar te bring, was nie ‘n wyse besluit nie, en kos hom amper sy dood.

Jy sou ook kon fokus op die hemelse raad in sitting wat jou ‘n kykie gee in wat agter die skerms aan die gang is. Nie alles wat daar gebeur, is so maklik om te verklaar nie, maar dit help ons ten minste verstaan dat ons nie alles weet nie, en nie te gou moet oordeel oor wat in hierdie lewe gebeur nie.

Maar, in die verlengde van laasgenoemde gedagte, kan jy ook fokus op die feit dat dit duidelik is dat God agter alles besig is om die gang van sake te bepaal. Daarop kan jy vertrou en jou hart tot rus bring voor Hom. Hy sorg vir sy mense. Selfs wanneer hulle dwase besluite neem, soos Josafat.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda