Skip to main content

Jesaja 66

Die groot God is ook die naby God

Ons nader die einde van hierdie merkwaardige boek. Ek hoop dit was vir jou net so ‘n verkwikkende ervaring om hier deur te lees as wat dit vir my was.

Jesaja 66 span die kroon op ‘n reis met God en sy volk deur die loop van meer as 2 eeue, alles gesien deur die bril van die profeet Jesaja. Op ‘n verruklike manier gee die boek ‘n mens insig in God se wese en werk, sowel as op wat Hy eintlik van mense verwag en waarheen Hy op pad is met sy volk en die wêreld.

Jesaja 66 is opgedeel in twee dele, waarvan die eerste ‘n kort beskrywing van God se grootheid en nabyheid gee, en die tweede ‘n lang beskrywing van die geboorte van die nuwe bedeling gee, wat die impak wat dit op beide die volk (ongelowiges en gelowiges) en die nasies sal hê, uitspel. Die vraag na die bou van die tempel aan die begin dui waarskynlik op die tyd net voor die tempel in Jerusalem weer herbou is.

Teks en konteks

Jesaja 66:1-4

God se grootheid in terme van die skepping word in die eerste verse gekoppel aan sy nabyheid in nood aan dié wat berou het oor hul sonde en ontsag het vir God se woord. Hierdie eienskappe van God beteken egter straf en verskrikking vir dié wat nie na Hom wil luister nie, en hulle eie kop wil volg.

Jesaja 66:5-24

Let op hoe hierdie ongehoorsame en ongelowige mense die spot dryf met dié wat God vertrou en na Hom luister. Dit is ongelukkig altyd deel van die gesprek in die midde van God se gemeenskap van gelowiges – toe en nou.

God se belofte is egter dat die ongelowiges ontnugter sal word, en dat die nuwe bedeling vir Sion/Jerusalem – as metafoor vir die gelowige deel van die volk – skielik sal aanbreek, soos geboortepyne wat ‘n vrou oorval.

Die keuse van hierdie metafoor skets natuurlik ook die wyse waarop die nuwe in aanskyn kom – dit gaan gepaard met geboortepyne; alles is nie eensklaps volmaak nie, en dit gebeur nie sonder pyn nie. Maar, belowe die Here, die geboorte sal verseker plaasvind.

Daarom roep Hy almal op om saam met die volk bly te wees, en die vrede te geniet wat God deur en vir die gelowiges verskaf, trouens deur sy eie persoon – God vergelyk met ‘n moeder – vir hulle sal gee. Let weereens op hoe belangrik vrede en veiligheid in die nuwe bedeling sal wees.

Soos nou al die patroon in Jesaja geword het, word die impak hiervan op die nasies uitgespel – die nasies sien God se mag in sy hantering van beide die ongelowige (straf) as die gelowige deel (sorg) van sy volk, en stroom na God in Jerusalem toe.

Vir die eerste keer word selfs voorspel dat hulle deel van die uitstuur aksie van die volk sal wees, om ander in te nooi, om dan deel van die hart van die volk van God te raak. Vreemdes raak selfs priesters en Leviete – iets waarvan Paulus in Efesiërs 2 later sou skryf. Terloops: Tarsis is waarskynlik in Spanje, Pul (of Put soos die LXX dit het) is in Afrika (Gen 10:6, 13), Lud en Tubal moontlik in Klein-Asië.

En daarmee word die visie van Jesaja 2 gerealiseer, dat Israel ‘n huis van gebed sal wees vir die nasies. En die nasies word ingespan om die droom waar te maak – soos ons inderdaad deur die afgelope 20 eeue belewe het!

Boodskap en betekenis

Van die beskrywings van God sowel as van die beelde wat Jesaja hier gebruik word op verskeie plekke in die Nuwe Testament gebruik:

  • Stefanus gebruik Jesaja 66:1-2 oor die grootsheid van God in sy toespraak voor die Joodse Raad, wat gelei het tot sy marteldood, waar hulle, soos die ongelowiges in die Jesaja teks, nie sy getuienis oor God wou aanvaar nie – Handelinge 7:49-50.
  • Johannes gebruik Jesaja 66:7-14 se beeld van die vrou wat geboorte gee om op soortgelyke wyse oor die geboorte van die Messias te praat – Openbaring 12:5.
  • Paulus gebruik ook Jesaja 66:15 se beeld van God wat in vuur verskyn in sy oordeel en maak dit op die einde van die tye van toepassing – 2 Tessalonisense 1:8.
  • Petrus en Johannes sluit weereens onderskeidelik in 2 Petrus 3:13 en Openbaring 21:1 aan by die gedagte van ‘n nuwe hemel en aarde waarvan Jesaja 66:22 (vgl Jes 65:17) vertel.
  • Markus gebruik Jesaja 66:24 se beeld van die wurm wat nie vrek en die vuur wat nie geblus word nie en maak dit van toepassing op die hel – Markus 9:48.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…