Skip to main content

2 Tessalonisense 2

Die mag van wetteloosheid sal gebreek word, en God sal ons sterk in die goeie

Paulus is bewus van watter uitdaging die wetteloosheid in die wêreld vir gelowiges is wat aan God se wil vir die lewe vashou. Daarom fokus hy op die belofte van God dat die wetteloosheid se mag gebreek sal word (2 Tess. 2:1-12) en bemoedig hulle daarmee dat hulle op die werk van God in hulle kan staatmaak wat hulle ywer vir die goeie sal bevestig totdat hulle in sy koninkryk die heerlikheid van Jesus self sal beleef (2 Tess. 2:13-17).

Teks en konteks

Wetteloosheid se mag sal gebreek word – 2 Tessalonisense 2:1-12

Dit is duidelik dat die gemeente in Tessalonika ‘n deel van Paulus se eerste brief verkeerd verstaan het. Sy boodskap in sy eerste brief (hfst. 5) dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom. Dit kan ook moontlik wees dat daar iemand was wat valslik in sy naam ’n brief geskryf het (2 Tess. 2:2) en sommige verwar het met ’n verkeerde interpretasie van sy vorige boodskap oor die wederkoms.

Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ’n profetiese uitspraak gedoen word of deur ’n brief nie. Daarom bevestig Paulus juis die egtheid van hierdie brief deur die groete met sy eie handskrif te skryf (2 Tess. 3:17).

Die wettelose mens waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kom ooreen met die vals christusse en profete waarvan Jesus ook in sy profetiese rede in Markus 13:22 (vgl Matt. 24:24) praat en is iemand, as die somtotaal van alle misleiers deur die eeue (vgl. 1 Joh 2:18 wat ook daarvan in die meervoud praat), wat in die laaste afvalligheid wat sal kom, mense sal mislei (vgl. 1 Tim 4:1-5; 2 Tim 3:1-9; Jud 17-19).

Dit bly egter onseker presies wat Paulus met die “geheime krag wat hom teëhou” in vers 7 bedoel. Dit is o.a. al met die Romeinse ryk, wat op plekke die evangelie goedgesind was, verbind; ook met die evangelie verkondiging, dws dat deur die verspreiding van geloof, die wettelose teruggedryf word; ook met engele of met die Heilige Gees of God self, hoewel laasgenoemde interpretasie nie regtig sin maak nie. Die Gees kan mos nie “uit die weg geruim word” nie.

Selfs die grote Augustinus het hieroor gesê dat dit vir hom ’n onopgeloste raaisel is (City of God) … en ek dink hy het ’n punt beet! Miskien is William Hendriksen egter reg wat sê dat ons hier met ’n beskrywing van die algemene handhawing van reg en orde deur regerings en ander instansies te make het. Wanneer dit verdwyn, sal die wetteloosheid oorneem, en is dit die einde.

Terloops, dan was daar al tye wat dit byna gebeur het: dink maar net aan die twee Wêreldoorloë van die vorige eeu, en wat tans in soveel dele van die wêreld gebeur: Afganistan, Pakistan, Iran, Irak, en baie dele van Asië en Afrika, selfs in die Amerikas en Europa … Is daar ’n plek waar wetteloosheid nie dreig om oor te neem nie, wonder ek?!

Wat wel seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit. Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het.

Die Satan se werk, in die lig van wat die res van die Bybel ook daaroor skrywe, kan in 4 woorde opgesom word:

  • versoeking (Matt 4),
  • misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6),
  • teenspoed (Open 2:10) en
  • aanklag (Job 1; Open 12:10).

Sy werk word daarom ook nie uitgewis deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar

  • deur die waarheid te soek en te leef (Joh 8:31 vv; Ef 6:14,17 – daar word dit met die Woord van God verbind),
  • getuienis te lewer (2 Kor 10:4-5; Ef 6:15,16) en
  • biddend te lewe (Matt 6:13; Ef 6:18).

Jesus kom weer en Hy sal ons met Hom herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het!

God sterk ons in die goeie – 2 Tessalonisense 2:13-17

Let op hoe God se werk en dié van die gelowiges saamwerk om hulle standvastig te maak.

Aan die een kant het die Here hulle lief, het God hulle uitverkies en gered deur sy Gees. Aan die ander kant is hulle gered deurdat hulle die waarheid glo.

Netso het God hulle geroep deur die evangelie om deel te hê aan Jesus se heerlikheid. Maar Paulus roep hulle ook op om standvastig vas te hou aan die leer wat hy aan hulle verkondig het.

Soos iemand gesê het: “Werk asof alles van jou afhang, dan sal jy agterkom dat alles van God afhang.” Dit is ons troos en hoop.

Boodskap en betekenis

As ‘n mens Paulus se boodskap hier ter harte neem, is dit maklik om benoud te raak. Hoe meer jy weet van wat in die wêreld aangaan, hoe meer weet jy van die mag van wetteloosheid.

Maar, dan is die belofte van die Here Jesus dat Hy weer kom en ons met Hom sal herenig na Hy die wetteloosheid uit die weg geruim het, ‘n werklike grootse belofte!

Daarby moedig Paulus my ook aan om te waak teen wetteloosheid in my eie lewe. Ek kan nie ’n norm vir myself word nie, dat wat ek dink goed en sleg is, my lewe bepaal nie. Dié voorreg behoort net aan die Here.

Hy het ons uitgekies en gered om deel te hê aan Jesus se heerlikheid. Dit moedig ons aan om te volhard tot dié dag van sy Wederkoms aanbreek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.