Skip to main content

Openbaring 3

Die laaste drie briewe aan die sewe gemeentes

Die boodskap aan Sardis – “Versterk die wat oor is” – Openbaring 3:1-6

Die stad Sardis

Sardis – vandag die klein dorpie Sart – is sowat 45 km suid van Tiatira geleë in die voetheuwels van die berg Tmolus, naby die Paktolusrivier. Die rivier was ‘n bron van groot goudneerslae, wat Sardis een van die rykste stede in die antieke wêreld gemaak het. Dit was vroeër die hoofstad van die Lidiaanse ryk, wie se koning Kroesos (595-546 v.C.) nog steeds ‘n maatstaf vir rykdom is. Hy was stinkryk. Ons lees nie in die Bybel van die stigting van die gemeente in Sardis nie. Dit is waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese (Hand. 19:10).

Beskrywing van Jesus

Weereens hou die prentjie van Jesus verband met die prentjie van die gemeente. Jesus word geteken as die Een wat nie net die Gees van die Here in sy volheid besit nie – voorgestel deur die sewe Geeste van God – maar ook die sewe sterre in sy hand hou – die sewe voorgangers van die gemeentes. In Hom het hulle alles wat nodig is om oorwinnend te lewe.

Beskrywing van die gemeente en hulle dwaling

Die boodskapper van die gemeente, sowel as die gemeente self, is egter in ’n tragiese geestelike toestand. Hulle het die naam dat hulle lewe, maar hulle is eintlik geestelike lyke. Buite blink. Binne stink.

Tog, sê Jesus, as jy mooi kyk, is daar ‘n paar mense wat nog tekens van lewe toon. As jy mooi kyk, haal hulle nog asem. Maar hulle sal baie vinnig gered moet word, ander is dit klaarpraat met hulle en is die gemeente verlore.

Waarskuwing

Hulle dade is in die oë van God net nie goed genoeg nie. Al raad is om vyf dinge te begin doen, soos dit in vers 2-3 uitgespel word. Die leraar word aangespreek dat hy geestelike noodhulp moet toepas met die volgende vyf stappe:

  • Wees wakker! Hy/hulle moet wakker skrik uit die doodslaap van selfgenoegsaamheid waarin hulle verval het. Eerstens die leraar en tweedens dié wat nog oorbly.

Die agtergrond hiervoor lê waarskynlik in die geskiedenis van die stad. Die stad Sardis is twee keer ingeneem weens hulle nalatigheid om die stad te beskerm.

Een daarvan was in die tyd van die bekende Griekse koning Kroesus, soos Herodotos ons vertel. Die Persiese koning Kores – van wie ons ook lees in Jesaja en Daniël – het vir Kroesus aangeval in die 6de eeu v.C., maar Kroesus het teruggeval na die oënskynlik oninneembare vesting van Sardis.

Kroesus het hom egter lelik misgis, want Kores het sy Dromedaris kamele tot groot effek in die veldslag gebruik. Kroesus se perde was ongewoond aan die reuk van die kamele en het onbeheerbaar geword. En só het Kores nie net die veldslag gewen nie, maar kon hy Sardis inneem, en die stad verower.

Die gemeente moet wakker skrik en waaksaam word vir die stryd vir die evangelie. Hoogmoed en selftevredenheid oor jou vermeende vermoëns kan jou suur bekom.

  • Versterk die oorlewendes. Hy/hulle moet dié versterk wat nog oorgebly het, sodat die herlewing van hulle af kan versprei. Hulle moenie tevrede wees met middelmatigheid nie.
  • Verbind hulle aan die Bybel. Hy/hulle moet die boodskap – waarskynlik beide die roepingsboodskap van die boodskapper as die evangelie boodskap – nie net die wat nie, maar veral die hoe – soos die apostels dit aan hulle oorgelewer het – in herinnering roep, dit weer omarm en daarvolgens begin lewe.
  • Bewaar die boodskap. Hy/hulle moet die boodskap bewaar, dws dit gehoorsaam en daarin volhard.
  • Bekeer jou. Hulle moet tot bekering kom, dws hulle lewens en denke vernuwe om volgens dié evangelie te leef.

Só kan die Gees aan die werk kom in die gemeente. Anders is dit verby met die boodskapper en die gemeente. Jesus sal kom op ‘n tyd wat hulle dit nie verwag nie – soos ‘n dief in die nag – in oordeel oor hulle onbekeerlikheid.

Die oordeel word nie uitgespel nie, wat dit onheilspellend maak, juis omdat Jesus nie presies sê wat Hy met hulle gaan doen nie.

Bemoediging

Tog is daar steeds klein tekens van lewe in die gemeente; mense (in die Grieks staan “name”) wat hulle klere nie met afgodsdiens en heidense gebruike besoedel het nie. Hulle sal wit klere – simbool van reinheid en oorwinning – uit die hand van die Here self ontvang. Hulle gehoorsaamheid sal beloon word deurdat hulle saam met Jesus sal wandel, waar almal dit sal sien, en almal sal moet erken, hulle was ware volgelinge van die Here Jesus.

Boodskap en betekenis

Die versekering is daar dat hulle name nooit uit die boekrol van die lewe geskrap sal word nie. Hulle sal nie net ‘n hoë status op aarde hê nie. Hulle sal ‘n hoë status hê in die hemel. Trouens Jesus belowe dat Hy hulle self voor sy Vader en die engele in herinnering sal roep. Ek ken hierdie “naam”. Ek ken daardie “naam”. Wat ‘n voorreg! (vgl Matt 10:32; Luk 12:8).

Die kerkgeskiedenis vertel ons dat Sardis geluister het. ‘n Paar dekades later het biskop Mileto daar opgetree en groot werk gedoen om die kanon van die Bybel vas te stel en ook die parallelle tussen die OT en die NT uit te wys. Hy het ‘n groot invloed op die vroeë kerk gehad.

Mileto het ook ‘n invloed op die Romeinse ryk probeer uitoefen met ‘n verdediging van die Christelike godsdiens aan Markus Aurelius, hoewel dit eers later in die 4de eeu in die lewe van Konstantyn vrug afgewerp het.

Mileto word as ‘n eunug beskryf wat ongetroud gebly het en, in navolging van Jesus se reëling in Matteus 19, sy lewe aan die Here gewy het .

Die boodskap aan Filadelfia – “Gaan deur die oop deur” – Openbaring 3:7-13

Die stad Filadelfia

Filadelfia – Alaşehir – was bekend as ‘n sentrum wat ‘n groot rol gespeel het om die Griekse taal en denke te versprei.

Nou sou hulle die gemeente word wat op ‘n veerkragtige manier die Christelike geloof versprei. Hulle sou spesifiek effektief raak in hulle bediening aan die Jode; so wil dit voorkom.

Filadelfia was ongeveer 45 km suidoos van Sardis, in die Cogamis-riviervallei. Die stad was ook bekend vir sy landbou – veral sy wingerde. Die bekermheer en god van die stad was Dionisos, die god van wyn.

Daar was ook ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius waarvan ons by Jesus se geboorte lees (Luk 3:1). Uit dankbaarheid vir Rome se hulp om die stad ná ‘n groot aardbewing te herbou, het hulle vir ‘n paar jaar die stad se naam na Neocaesarea (“Nuwe stad van Caesar”) verander. Soos die ander kerke in Klein-Asië, is die gemeente waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese (Hand 19:10).

Filadelfia was dus steeds ‘n heidense omgewing waarin die afgode en die keiseraanbidding die publieke verbeelding gevorm het.

Die gemeente het hulle egter nie daardeur laat afsit nie. Hulle het hulle aan die Here verbind, man en muis, en in alles aan Hom en sy woord gehoorsaam geleef.

Dit is die Here wat deure toemaak en oopmaak

Hoe moet dit verstaan word dat dit die Here is wat deure vir die evangelie toemaak en oopmaak?

  • Jesus gaan by die leerstellig suiwer gemeente van Efese verby, want hulle het hulle eerste liefde verloor.
  • Jesus gaan by die liberale gemeente van Pergamum verby, want hulle het valse leringe toegelaat.
  • Jesus gaan by die korrupte gemeente van Tiatira verby, want hulle het in onsedelikheid verval.
  • Uiteraard gaan Jesus ook by die doodse gemeente van Sardis verby, want daar gaan niks aan nie. Wel, totdat hulle tot inkeer gekom het, want, soos ons later van hulle hoor, het Mileto ‘n oop deur gehad.

Solank ‘n gemeente verdeeldheid oor die boodskap van die evangelie ervaar, kan daar geen effektiewe getuienis na buite toe wees nie.

Solank ‘n gemeente wêreldgelykvormig leef – sodat jy later nie meer weet of jy met ‘n kerk of ‘n klub te make het nie – is dit beter dat niemand daar buite iets van hulle af hoor nie. Die boodskap gaan nie helder oorkom nie.

  • Gee vir die Here ‘n arm gemeente wat getrou bly, soos Smirna en Hy kan hulle voorbeeld gebruik om sy naam te eer; deur hulle lyding lewe bring vir ‘n verloregaande wêreld.
  • Gee vir die Here ‘n gehoorsame gemeente, soos Filadelfia, en Hy kan hulle gebruik om die evangelie die wêreld in te stuur; die grense van geloof te versit.

Beskrywing van Jesus

Soos met al die gemeentes begin Jesus met ‘n beskrywing van Homself. Hierdie keer hou die beskrywing van Jesus verband met die oop deur wat Hy vir hulle en die verkondiging van die evangelie gee.

Jesus is die Een wat die sleutelmag het. Jesus is die Een wat oopmaak en niemand sal dit toesluit nie. Jesus is ook die Een wat toesluit en niemand sal dit oopmaak nie.

Wat sê die Here Jesus verder van Homself?

  • Jesus is die heilige. Hy is die hagios. Hy duld geen onheiligheid nie, soos by die korrupte Tiatira. Hy is sonder sonde en het juis gekom om ons te verlos van die sonde. Hy wil ons dus heilig sodat ons onbelemmerde gemeenskap met Hom kan hê.
  • Jesus is die ware. Hy is die alēthēs. Dít wat in ooreenstemming is met die ware feite. Die Een wat die waaragtige is, die outentieke. Dit is wat die Griekse woord beteken. Jesus duld dus ook geen valse leringe nie, soos by Pergamum.

Waar heiligheid en die waarheid nie in plek is nie, kan die Here sy gemeentes nie inspan nie. Waar getrouheid en gehoorsaamheid aan die waarheid nie in plek is nie, kan die Here ‘n gemeente nie gebruik nie.

Maar – en dit is die wonderlike boodskap – as daardie dinge in plek kom, is daar niks wat God nie met ‘n gemeente kan uitrig nie. Al is hulle arm, soos met Smirna. Al is hulle krag min, soos met Filadelfia.

Die Here Jesus het die sleutels van Dawid. Hier gebruik Jesus die verhaal in Jesaja waar verwys word na die dienskneg van die koningshuis van Dawid, Eljakim, wat die sleutels van die paleis gehad het, en kon besluit het wie die koning mag sien, en wie nie (Jes 22:22). Jesus maak dit op Homself van toepassing. Dít is nou die rol wat Jesus met betrekking tot die koninkryk van God het. Jesus bepaal wie kan in, en wie nie. Jesus het die sleutels van die koninkryk.

Beskrywing van die gemeente

Soos die geval was met die gemeente van Smirna, het die Here Jesus net goeie woorde wat Hy aan die boodskapper van die gemeente van Filadelfia rig. Ironies genoeg is dit ook die twee gemeentes waar die Joodse teenstand op sy hewigste was.

En soos met die vorige gemeentes, hou die beskrywing van Jesus verband met die wyse waarop die gemeente in die weegskaal vaar.

Twee dinge staan uit van die gemeente van Filadelfia:

  1. Die Here ken hulle dade. Die dade word nie omskryf nie, maar die feit dat die oop deur wat die Here vir hulle gee daaraan gekoppel word, beteken ten minste dat hulle dade bewys het dat hulle die uitdaging van die oop deure kan aanpak.

Sommige geleerdes is van mening dat die toe deur verwys na die Joodse sinagoge wat die Christene uitgeskop het, en die deure vir hulle toegemaak het. Daaroor hoef hulle hul egter nie te bekommer nie, sê Jesus, want die Here bekommer Hom nie oor die Joodse teenstand nie. Hy sal hulle dwing om sy teenwoordigheid by die Christene publiek te erken.

  1. Die gemeente was gehoorsaam aan God se woord, ten spyte van die feit dat hulle krag min is – dit kan doodgewoon beteken dat hulle min in getal was – en dat hulle nie die Naam van die Here verloën het nie.

Hulle was dus gehoorsaam aan God se woord. Hulle het daarin geleef. Hulle het daarin volhard. En hulle was getrou in hulle getuienis. Hulle was lojaal. Hulle het die Naam van die Here nie verloën nie, ten spyte van die teenstand.

Daarom belowe die Here vir hulle ‘n oop deur.

Boodskap en betekenis

Die Here volg die belofte van ‘n oop deur op met twee ander beloftes.

  • Die belofte dat die teenstanders tot insig en moontlik inkeer sal kom.
  • En die belofte dat Hy hulle sal bewaar van die uur van beproewing wat aan die kom is.
  1. Die eerste belofte is dat die Here sal sorg dat lede van die “sinagoge van die Satan” – die Joodse teenstanders – voor hulle sal kom neerbuig.

Die Griekse woord (proskuneō) beteken in dié konteks letterlik “kruip”. Hulle teenstanders sal erken dat die gemeente van Filadelfia ‘n besondere band met die Here Jesus het.

Die agtergrond hiervoor is Jesaja 60:14. Daar het Jesaja vir Sion belowe dat “dié wat jou verdruk het, sal na jou toe kom en buig, almal wat jou met minagting behandel het, sal by jou voete kniel.”

  • Ons hoor daarin aan die een kant ‘n belofte dat die Here die reg sal handhaaf; dat die vervolgers sal moet kom erken dat hulle verkeerd was, en dat die mense wat hulle vervolg het, reg was. Dat God inderdaad by dié was wat gehoorsaam was aan sy Woord. Daarom sal die Jode in die stof “kruip”.
  • Maar ‘n mens hoor hierin ook aan die ander kant die moontlike belofte dat hierdie vervolgers tot insig en geloof sal kom. Dit is wat ‘n mens uit Jesaja 60 kan aflei. Dat die nasies na die lig sal kom en God se werk in die Messias en die gemeenskap wat Hy skep, sal erken. En as ‘n mens dié agtergrond inlees in hierdie teks, want dit staan nie so helder in Openbaring nie, dan kan dit ook waar wees van hierdie Jode in Filadelfia.
  1. Die tweede belofte is dat Jesus – omdat hulle volhard het om sy woord te gehoorsaam – hulle “van” of “gedurende” die beproewing wat kom, sal bewaar.

Hierdie tyd van beproewing kan op twee maniere geïnterpreteer word:

  1. Dit kan ‘n tyd van beproewing wees wat die gemeente in hulle tyd sou ervaar, soos dit die geval was by Smirna. Talle geleerdes kies vir dié interpretasie.
  2. Ander wys daarop dat dit die hele bewoonde wêreld is wat daaronder sal deurloop, soos dit in die teks staan. Dit verwys dus volgens hulle na die intense vervolging wat net voor die wederkoms van die Here sal plaasvind.

Die bewaring kan ook op twee maniere geïnterpreteer word:

  1. Die Griekse woord ek wat hier gebruik word kan beteken dat hulle “van” die beproewing bewaar sal word, dws nie daaraan blootgestel sal word nie.
  2. Of dit kan beteken dat hulle “gedurende” die tyd van beproewing wat kom, bewaar sal word, dws wel deeglik daardeur sal moet volhard.

Die keuse vir watter van hierdie interpretasies ‘n mens moet kies, is baie moeilik om te maak. Die belangrike punt is egter, wat jou keuse van interpretasie ook al is, die Here sal nie toelaat dat hulle struikel nie, hetsy deur hulle uit die situasie te haal, of in die situasie te beskerm.

Aansporing en belofte aan dié wat oorwin

As beloning sal hulle as ’n pilaar in die tempel van God opgerig word. Vir die mense van Filadelfia wat geteister is deur aardbewings, sou dit ‘n geweldige bemoediging en aansporing gewees het om getrou en gehoorsaam te bly.

Die Here belowe dat hulle vastigheid en permanensie in die huis van God sal kry, die plek wat Jesus vir hulle voorberei. Trouens, hulle sal – by wyse van spreke – deel van die las-draende struktuur wees van die plek wat Jesus vir ons voorberei. Daar sal hulle nooit weer hoef uit te gaan nie. Daar sal aardbewings hulle nie weer bykom nie. Hulle sal ook nooit weer belewe dat iemand hulle uitskop nie, soos wat die Jode dit in Filadelfia gedoen het. God sal hulle nooit uitskop nie. Sy plek sal nie inmekaarstort nie.

Op die koop toe sal Jesus op drie verskillende wyses toon dat hulle aan Hom behoort.

  • Hy sal die Naam van sy God op hulle graveer.
  • Hy sal die naam van die stad van sy God op hulle graveer.
  • En Jesus sal sy eie nuwe Naam op hulle graveer.

‘n Baie effektiewe metafoor, want die naam van Filadelfia is twee keer in sy geskiedenis verander. Eers is dit na Tiberius vernoem vir ‘n paar jaar (Neocaesarea) en ‘n tyd later na Vesapsian (Flavia).

Soos Filadelfia telkens egter weer hulle naam teruggeneem het, só sal die naam van God vir ewig geskryf word op dié wat oorwin.

Daarmee verklaar Jesus onteenseglik dat hulle totaal en al aan Hom behoort, dat Hy trots is op hulle, en dat Hy Hom met hulle assosieer.

“Wie ore het, moet luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.”

Die boodskap aan Laodisea – “Bekeer julle” – Openbaring 3:14-22

Die stad Laodisea

Die skerpste oordeel van Jesus word gereserveer vir die boodskapper van die gemeente van Laodisea. Die gemeente is waarskynlik deur Epafras gestig (Kol.. 1:7; 4:12-13). Paulus het ook ‘n brief aan hulle gestuur wat ongelukkig verlore geraak het (Kol.. 4:16).

Die stad Laodisea is 250 jaar v.C. gebou, die laaste stad op die antieke posroete van Klein-Asië. Een van die drie stede in die Likusrivier-vallei, saam met Hiërapolis (10 km noord) en Kolosse (16 km oos), was ongeveer 65 km suidoos van Filadelfia geleë.

Ná ‘n groot aardbewing in 600 nC is Laodisea verwoes. Die ruïnes van die stad is naby die dorp Eskihisar. En ‘n nuwe stad wat vandag Denizli genoem word, is daar langsaan gebou.

Laodisea was ‘n belangrike handelsentrum. Die mense was welvarend en voorspoedig, ‘n spilpunt vir die bankdienste in die streek. Die stad het ook in die vervaardiging van sagte, swart wol gespesialiseer waarvan luukse klere en matte gemaak is. Die stad was daarby ‘n leier in antieke medisyne. ‘n Mediese skool in die omgewing het ‘n oogsalf ontwikkel wat oral in die Grieks-Romeinse wêreld verkoop is.

Hulle watervoorsiening was egter uiters swak.

  • Die nabygeleë Hiërapolis was bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne.
  • Aan die ander kant was Kolosse wat ‘n standhoudende, koue, natuurlike rivier gehad het. Laodisea se naaste waterbronne was egter besoedel of ontoereikend.

Om die probleem te bowe te kom, het Laodisea ‘n ondergrondse akwaduk gebou om water vir die stad te lewer. Maar op die roete van 8 km deur klip- en kleipype, het die water vuil en onaangenaam by die stad aangekom. Dit was nóg warm nóg koud. Die sentrale reservoir in die stad was gevolglik vuil en onwelriekend.

Die gemeente was waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese (Hand. 19:10). Epafras (Kol.. 1:7) en Argippus (Kol.. 4:17) was moontlik op ‘n stadium leiers in die gemeente.

Beskrywing van Jesus

Jesus begin weereens met ‘n beskrywing van Homself – die Een wat getrou was aan sy lewenstaak, getrou in sy getuienis, getrou in sy skeppingswerk. Hy kan hulle dus aanspreek oor hulle louwarm dade, want Hy het enduit gedoen wat Hy moes.

Jesus is die Amen. Die Een wat beveel en dit geskied.

Jesus is die getroue en ware getuie. Hy het nooit iets anders gesê as wat God Hom gegee het om te sê nie. Hy het altyd die waarheid gepraat. Selfs al het dit Hom sy dood gekos.

Jesus is ook die begin van God se skepping. Trouens, Hy was die Woord wat God in die skepping gebruik het (Joh 1).

Beskrywing van die gemeente

Vanuit hierdie beskrywing van Jesus spreek Hy die gemeente aan oor hulle dade. En hulle skiet erg tekort:

  • Efese se dade was bó verdenking – saam met hulle inspanning en volharding – al was dit nie genoeg nie, weens die feit dat hulle hulle eerste liefde verlaat het. Die liefdelose gemeente.
  • Tiatira se dade was aan die groei – saam met hulle liefde, geloof, diens en volharding – al was dit nie genoeg nie, omdat hulle in afgodery en onsedelikheid verval het. Die korrupte gemeente.

Laodisea se dade was egter nóg hier, nóg daar; nóg koud, nóg warm. Soos Sardis was hulle dade doodgewoon net nie goed genoeg nie.

Miskien het jy al die idee gehoor dat dit beter sou wees dat hulle koud was. Want, as hulle geestelik koud was, dan kon hulle nog tot bekering gelei word.

Maar, dit is nie wat daar staan nie. Jesus sê, was julle maar koud of warm!

Jesus verwys hier na iets wat die mense van Laodisea goed geken het – hulle watervoorsiening.

  • Die water van Laodisea was nie so lekker koud soos dié heerlike koue waterbronne van Kolosse nie, ongeveer tien km oos van hulle af.
  • Die water van Laodisea was ook nie so warm soos die heerlike warme waterbronne van Hiërapolis nie, so tien km noord van hulle.

Laodisea se water het van die Denizli-bronne gekom en nadat dit oor ’n kalkkrans gestort het, louwarm en onsmaaklik by hulle aangekom. Nie koud nie. Ook nie warm nie. Louwarm.

  • Kyk, ‘n beker koffie wat lekker warm is, smaak vorentoe. Só ook ‘n koppie sop.
  • En ‘n beker koue water, les jou dors.
  • Maar louwarm koffie, of louwarm water, is nie lekker nie.

Net so hou die Here nie van mense wat louwarm is nie. Wat nie warm of koud is nie. Hulle deug nie vir sy doeleindes nie.

Beskrywing van hulle dwaling

Wat doen die Here met mense wat geestelik lou is? Hy spoeg hulle uit sy mond uit. Soos louwarm koffie of water.

Hulle kon wel trots wees op hulle materiële voorspoed – Laodisea was een van die rykste kommersiële sentrums in die wêreld – maar hulle het nie hulle geestelike louheid, hulle geestelike armoede, raakgesien nie.

Hulle geestelike lewe was in skerp kontras met Jesus self – die “Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping” (Spr 8:22,30; Gen 1:1), die Een wat beantwoord het aan sy doel, en in die oortreffende trap!

Daarom raai Jesus hulle aan:

  • Om eerder ryk in God te word – suiwer goud van Hom te koop.
  • Om onberispelik te lewe – wit klere om hulle onsedelikheid te bedek.
  • Om in geestelike insig toe te neem – salf vir hulle oë te koop.

Dit was metafore wat spesifiek op die drie uitstaande kenmerke van die stad gemik was – die bankwese, die klerebedryf, en die mediese skool.

Laodisea was bekend vir hulle bankwese, vir die klerebedryf, veral vir hulle swart wol industrie, en die salf van hulle aptekersbedryf. Dié salf is veral geassosieer met die beroemde oogkundige Demosthenes Philalethes.

  • Jesus sê hiermee dat al die geld in die wêreld niks beteken, indien hulle nie ryk in God is nie. Hy praat hier van hulle geloof wat so kosbaar is soos goud, soos Petrus op ‘n plek skryf:

6 Hieroor moet julle jubel, al moes julle nou eers vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. 7 Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof — ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word — uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.” (1 Pet. 1:6-7).

  • Hulle moenie trots wees op hulle swart wolklere nie, maar eerder op die wit klere wat Jesus gee om hulle onreinheid en onsedelikheid te bedek.
  • Hulle moenie hoogmoedig wees oor die oogsalf waarvoor hulle bekend is nie, maar eerder vra vir die geestelike insig wat net Jesus kan gee.

Hulle geestelike lewe was dus so louwarm en onsmaaklik soos hulle water! ‘n Toonbeeld van onverskilligheid.

Die oplossing was om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef.

Elkeen wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek!

Natuurlik kon Laodisea aanstoot neem aan hierdie skerp boodskap. Wat eintlik die dinge waarop hulle in hulle stad trots was, gebruik om hulle aan te spreek. Wat nog te sê, hulle te herinner aan die water wat hulle geweet het nie lekker gesmaak het nie.

Jesus verduidelik egter vir hulle hoekom Hy so skerp is: “Elkeen wat Ek liefhet (phileō), bestraf en tugtig Ek!” Jesus sê hiermee dat Hy met hulle geassosieer is, dat Hy hulle Here is, en daarom doen Hy die moeite om hulle aan te spreek. Dit is wat die Vader met sy kinders doen.

Trouens, tugtiging is ‘n teken van God se teenwoordigheid in jou lewe:

  • Spreuke 3: “12 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het.” (Spr. 3:1)
  • Hebreërs 12: “5 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: ‘My seun, moenie die tugtiging van die Here geringskat nie en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tug dié wat Hy liefhet, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem.’” (Hebr. 12:5-6).

Aansporing en belofte aan dié wat oorwin

Dan kom Jesus by die eintlike ding wat hulle hele lewe sal verander – dat Hy by die deur is, en klop: “As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap by hom en saam met hom eet en hy saam met My.”

Hierdie boodskap is gerig aan die hele gemeente, maar die fokus is op enigiemand wat bereid is om te luister. Dit is net dié wat luister, wat oopmaak vir die stem van die Here Jesus, wat uiteindelik met Hom gemeenskap sal hê. Hy sal instap en saam met hom eet.

Jesus nooi ons hiermee uit tot ‘n aktiewe gemeenskap met Hom. Dit is hoe ons begin om aan ons doel te beantwoord. Soos warm koffie. Of koue water.

Enigiemand wat luister, sal ervaar dat Jesus instap en sy intrek by hom of haar neem. Selfs al is dit ‘n boodskap wat deur die gemeente geïgnoreer word.

Vir diegene wat luister, wat voorberei om die Here Jesus te ontvang, wat Hom innooi, kom daar ‘n ekstra belofte – ‘n posisie van gesag in die koninkryk van God. Hom wat oorwin, sal Jesus saam met Hom op sy troon laat sit, net soos wat Hy ook oorwin het en saam met sy Vader op sy troon sit.

En hulle sal deelneem aan sy heerskappy. Dit sal die oordeel oor die engele, soos Paulus aan die Korintiërs skrywe (1 Kor. 6:3) en die oordeel oor die nasies, soos Johannes verder in Openbaring skrywe (Openb. 20:4-6), insluit.

Boodskap en betekenis

‘n Mens sou die vraag kon vra, hoekom Johannes dié sewe briewe afsluit met die brief aan Laodisea? Hoekom nie dit só skryf dat ‘n mens die boodskap aan Smirna of Filadelfia in jou gedagte kan hou nie? Die gemeentes wat volhard het, wat getrou was, wat ‘n belofte van oorwinning gekry het, wat ‘n oop deur vir die evangelie gekry het?

Die rede is dat die laaste uitnodiging van Jesus vir alle tye betekenisvol is. Dat Hy eintlik by elke gemeente se deur staan en vra om in te kom. Vir Laodisea sal dit beteken dat hulle weer die warmte van God se teenwoordigheid sal ervaar. Vir Efese sal dit beteken dat hulle die eerste liefde weer herontdek. Vir Sardis sal dit beteken dat hulle weer sal herleef uit hulle doodse gemeentewees. Vir Pergamum en Tiatira sal dit beteken dat hulle van die skande van dwaalleer verlos sal word.

Hulle sal ervaar wat vir Smirna en Filadelfia al reeds ‘n werklikheid geword het. Dat die Here reeds daar is juis in hulle vervolging, en hulle die oorwinning sal laat behaal. Dat Hy die deur vir die evangelie oopmaak, soos hulle die deur vir Hom oopgemaak het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.