Skip to main content

Psalm 9-10

God gee nuwe moed en laat reg geskied

Psalm 9 en 10 was waarskynlik aanvanklik een Psalm omdat elke versreël van die gekombineerde twee Psalms min of meer met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin. Ons noem sulke Psalms akrosties. Ander akrostiese Psalms is Psalm 25; 34; 37; 111; 112; 119; en 145. Spreuke 31:10-31 en die eerste vier hoofstukke van Klaagliedere is ook akrosties.

Psalm 9 begin met die eerste deel van die alfabet – alef tot kaf – en Psalm 10 eindig met die laaste deel van die alfabet – lamed tot taw. Psalm 10 het ook nie ‘n titel nie. Die LXX verbind daarby Psalm 9 en 10 aan mekaar as een Psalm wat dié mening versterk.

Dit is duidelik dat Dawid al in ’n gevorderde stadium van denke oor God en die lewe is. Dit is ook insiggewend dat die geleentheid vir die Psalms waarskynlik aan Absalom se dood gekoppel word met die opskrif: “Dood van die seun.”

Dit kom dus voor asof Dawid hier nadink oor wat hy geleer het tydens die opstand van sy seun Absalom, maar dit in die konteks plaas van sy nadenke oor waar goddeloosheid vandaan kom en hoe ‘n mens met God in gesprek moet tree daaroor. Ook in die nuwe uitdagings wat kom. Dink aan Seba en die ander wat steeds dit vir Dawid moeilik gemaak het.

Teks en konteks

Die opskrif is moeilik vertaalbaar, maar dit is waarskynlik ‘n verwysing na ‘n wysie of musiekstyl. Die Hebreeuse frase word vertaal as: “met die dood van die seun” (dws volgens ‘n bekende wysie van daardie tyd) waarmee waarskynlik Absalom bedoel word.

Hier is ’n opsomming van die inhoud volgens die voorgestelde akrostiese struktuur, en opgedeel in 4 gedagte-eenhede:

  1. God is regverdig en wreek die dood van onskuldiges
  • 9:2-3 – Met my hele hart wil ek U prys.
  • 9:4-5 – U laat reg aan my geskied.
  • 9:6-7 – Niemand dink eers meer aan die vyand nie.
  • 9:8-9 – God lewer regverdige uitsprake oor die nasies.
  • 9:10-11 – Die Here is ’n toevlug in gevaar vir dié wat Hom vertrou.
  • 9:12-13 – God wreek die dood van die onskuldiges.
  1. Wees my weer genadig en gryp tog in
  • 9:14-15 – Wees my genadig en red my weer van die dood
  • 9:16-17 – God laat reg geskied deur die skuldiges met hulle eie handewerk te vang.
  • 9:18 – Die dood is jou voorland as jy aan God nie dink nie.
  • 9:19-21 – Gryp tog in, Here, dat mense U kan erken.
  1. Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
  • 10:1-3b – Waarom staan U so ver weg, Here? Die goddelose verlustig hulle in hulle planne.
  • 10:3c-5a – Die goddelose verag U Here en dink U sal nie rekenskap eis nie.
  • 10:5b-6 – Die goddelose dink: ek sal nie wankel nie.
  • 10:7-8b – Die goddelose bedink onheil en onreg.
  • 10:8c-9 – Die goddelose loer watter hulpelose hy kan vang.
  • 10:10-11 – Die goddelose slaan die armes, want hy dink U sien dit nie raak nie.
  • 10:12-13 – Kom tog, Here! Toon u mag, o God!
  1. U gee nuwe moed, want U laat reg geskied en verhoor gebede
  • 10:14 – U het die hele tyd alles gesien en maak daar ’n einde van.
  • 10:15-16 – Verbreek die magsgreep van die goddelose en die misdadiger.
  • 10:17-18 – U gee nuwe moed, want U verhoor gebed, en laat reg geskied.

Die goddelose word in hierdie Psalm as praktiese ateïste geteken, mense wat nie noodwendig regtig glo dat daar nie ’n God is nie, maar Hom nie in die praktyk van die lewe raaksien of wil raaksien nie. Neus in die lug sê die goddelose: “God vra tog geen rekenskap nie!” (10:4). “Hy kyk weg, Hy sal dit (sy wandade) nooit raaksien nie.” (10:11).

Daarmee vat hy nie die geloof in God noodwendig aan nie, maar die praktiese nut van geloof in die alledaagse lewe. Daarmee word ook die konsepte van moraliteit en geregtigheid weggegooi – “survival of the fittest”! Swakkes en hulpeloses is daar om uitgebuit te word.

Dit bring die geloof van Dawid onder erge druk, omdat hy ly onder die aanslag van die goddeloses, nie net in terme van sy geloof in God nie, maar in sy geloof dat dié God optree in die nood, en ’n toevlug is vir dié wat in die nood is.

Weereens, soos in vele ander Psalms, kom die verandering in Dawid se gemoed nie in die eerste plek uit omstandighede wat verander het nie, maar uit die geloofsbelydenis dat die Here altyd koning bly, en dat Hy sal optree, soos Hy in die verlede telkemale al bewys het.

Boodskap en betekenis

Psalm 9 en 10 is ‘n komplekse nadenke oor God se regverdigheid en sy sorg vir die wat ly onder die onreg wat ander hulle aandoen.

Psalm 9 begrond Dawid se nadenke in ‘n lofprysing van God se wonderwerke en regverdigheid. Hy beskerm sy mense en straf hulle vyande. Psalm 10 delf dieper in die uitdaging van die vyande wat in hulle goddeloosheid die gelowiges egter laat wonder of God regtig omgee. Wat uitmond in ‘n ernstige versoek dat God sal optree. Waarna Dawid die Here loof dat hy, terwyl hy bid, reeds verligting ervaar het en met nuwe moed kan voortgaan om die Here te vertrou dat Hy reg sal laat geskied.

Die spanning tussen God se regverdigheid en die lyding van die onskuldiges word dus opgelos in ‘n hernude toewyding aan en vertroue op God te midde van onsekerheid en lyding.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…