Skip to main content

Matteus 13

Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse

Matteus 13 bevat die derde groot toespraak van Jesus, die koninkryksrede, waarin Hy agt gelykenisse gebruik om die koms en ontvangs van die koninkryk te verduidelik. Die gelykenis van die Saaier (of die saad) is die eerste van hierdie gelykenisse en word in verskillende opsigte as die belangrikste beskou, omdat dit die begin van geestelike groei in die koninkryk van God beklemtoon.

Hierdie gelykenisse van Jesus beklemtoon die waarde van die koninkryk van God, die geduld wat dit vereis, die verdeling wat dit bring, en die onmiskenbare krag wat dit het om die wêreld te verander. Jesus moedig ons aan om die koninkryk te omhels, om die Skrif te waardeer, en om nie te oordeel voor die tyd nie, want uiteindelik sal die oordeel van God die regte onderskeid maak.

Teks en konteks

Jesus en die gelykenis van die Saaier (Matteus 13:1-9)

In Matteus 13:1-9 vertel Jesus die gelykenis van die Saaier terwyl Hy langs die See van Galilea op ‘n boot gesit het, en die skare op die strand was. Hy begin sy verhaal met die oproep om “te luister” en verduidelik dat die saad wat gesaai word op verskillende tipes grond val, wat die reaksies van mense op die koninkryk van God verteenwoordig.

  • Pad grond: Die eerste deel van die saad val langs die pad, waar dit deur voëls opgeëet word. Dit simboliseer mense wat nie die Woord van God verstaan nie en dus nie in staat is om die boodskap te aanvaar nie.
  • Rots grond: Die tweede deel val op rotsagtige grond, waar die saad vinnig opkom, maar weens ‘n gebrek aan diepte nie in staat is om stand te hou nie. Dit verteenwoordig mense wat aanvanklik reageer, maar wat struikel wanneer hulle verdrukking en vervolging ondervind.
  • Doring grond: Die derde deel val tussen doringplante, wat die groei van die saad versmoor. Dit is mense wat die Woord hoor, maar wie se lewens deur die sorge en bekommernisse van hierdie wêreld en die begeerte na rykdom verhinder word om vrugte te dra.
  • Goeie grond: Die vierde deel val in goeie grond en dra vrugte, honderd-, sestig- en dertigvoudig. Dit simboliseer mense wat die Woord hoor, verstaan en dit in gehoorsaamheid toepas.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis van die Saaier beklemtoon dat die begin van geestelike groei afhang van die “grond” waarop die saad val, wat die toestand van die hart en die bereidheid om die Woord te ontvang, verteenwoordig. Dit is belangrik dat die gehoor nie net die boodskap hoor nie, maar ook begrip en gehoorsaamheid aan die Woord toon, sodat die saad ‘n volhoubare geestelike vrug kan dra. Die waarskuwing is om nie te bly staan by ongeloof of oppervlakkige geloof nie, maar om die Woord diep in jou hart te ontvang.

Jesus praat in gelykenisse met dié wat hoor, maar nie luister nie (Matteus 13:10-17)

Die dissipels vra Jesus waarom Hy gelykenisse gebruik. Jesus verduidelik dat die dissipels die voorreg het om die geheime van die koninkryk te ken, maar die skare nie. Gelykenisse is God se manier om sy boodskap verstaanbaar te maak vir dié wat bereid is om te luister en te gehoorsaam, maar vir diegene wat nie luister nie, bly die betekenis verborge.

Jesus verwys na Jesaja 6:9-10, waar dit gesê word dat die volk se harte nie ontvanklik is nie en hulle nie kan verstaan wat hulle hoor nie. Dit is ‘n vervulling van die profesie dat ongehoorsaamheid jou in ‘n toestand van blindheid en doofheid kan bring. Só is die skare nie in staat om die volle betekenis van Jesus se woorde te verstaan nie.

Vir die dissipels is dit anders; hulle is in die gelukkige posisie om te verstaan. Jesus beklemtoon dat baie profete en regverdiges verlang het om die Messias te sien, maar hulle het nie die voorreg gehad nie. Die dissipels moet dankbaar wees dat hulle oë en ore oopgemaak is.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis illustreer die misterie van genade: God gee aan sommige mense die vermoë om te verstaan en gehoorsaam te wees, terwyl ander in onbegrip en ongehoorsaamheid bly. As ons die Woord van God hoor en gehoorsaam is, is dit ‘n genade. Maar ons moet erken dat sommige mense, weens die toestand van hulle harte, nie in staat is om die boodskap te ontvang nie. Dit is ons taak om aanhou om die saad van God se Woord te saai, in die vertroue dat Hy harte sal oopmaak om die vrug van die koninkryk te dra.

Jesus verduidelik die gelykenis van die Saaier aan sy dissipels (Matteus 13:18-23)

In Matteus 13:18-23 verduidelik Jesus die betekenis van die gelykenis vir sy dissipels, wat die “sleutel” het om die geheime van die koninkryk te verstaan. Hy verduidelik die verskillende gronde:

  • Pad grond: Dis mense wat die Woord nie verstaan nie en wie se harte soos die “pad” is, van wie die boodskap van die koninkryk deur die Bose weggeneem word.
  • Rots grond: Dis mense wat aanvanklik bly is om die Woord te ontvang, maar wat nie standhou nie, omdat hulle nie bereid is om die verdrukking of vervolging wat op die geloof volg, te verdra nie.
  • Doring grond: Dis diegene wat die Woord aanneem, maar wie se geestelike groei versmoor word deur die wêreldse sorge en die verleiding van rykdom.
  • Goeie grond: Dis mense wat die Woord verstaan, gehoorsaam en vrugte dra.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis van die Saaier is nie net vir die dissipels nie, maar is ‘n uitnodiging aan almal om die gelykenis te gehoor en daarop te reageer. Dit benadruk die belangrikheid van nie net die gehoor van die Woord nie, maar die bereidheid om dit diep in jou lewe toe te laat, sodat dit vrug kan dra. Die gelykenis daag ons uit om ons harte en lewens in die “goeie grond” van gehoorsaamheid aan God se Woord te vestig, en nie die Woord te laat verdwyn deur ongehoorsaamheid of ander versoekinge nie.

Jesus herinner ons hiermee daaraan dat dit nie net die begin van die geestelike reis is wat belangrik is nie, maar hoe ons volhard en die Woord in ons lewe toepas. Dit is wat die uiteindelike groei en vrugte voortbring. Ons moet altyd besef dat die Woord van God krag het om ons lewens te verander, maar dat ons deel in hierdie proses vereis dat ons bereid is om in die “goeie grond” van gehoorsaamheid te leef.

Die gelykenis van die onkruid (Matteus 13:24-30)

In hierdie gelykenis (wat net in Mateus voorkom) vertel Jesus van ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar gedurende die nag saai die vyand onkruid (drabok) tussen die koring. Die koring en onkruid groei langs mekaar, maar die onkruid lyk aanvanklik baie soos koring. Eers wanneer die oes aanbreek, wanneer die koring vrugte dra, word die onkruid sigbaar. Die slawe van die eienaar besef die teenstrydigheid, maar die eienaar verduidelik dat die onkruid deur die vyand gesaai is.

Die slawe vra of hulle die onkruid moet uittrek, maar die eienaar antwoord dat dit nie die regte tyd is nie. As hulle die onkruid nou verwyder, sal die koring ook beskadig word. Daarom beveel die eienaar dat die onkruid en koring saam moet bly totdat die oes volwasse is. Aan die einde van die tyd sal die onkruid geskei en verbrand word, terwyl die koring in die skuur geplaas sal word.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis beklemtoon die teenstrydigheid waarmee gelowiges in die wêreld moet saamleef, waar ongelowiges en selfs valse gelowiges dikwels deel van die gemeenskap is. Die onkruid simboliseer mense wat nie regtig die wil van God doen nie, maar oënskynlik as gelowiges lyk, terwyl hulle in werklikheid die werk van die vyand uitvoer. Hierdie mense is geneig om die impak van die wet van God, wat mense na sondebesef lei, in ander se lewens te ontkrag. Die onkruid simboliseer diegene wat die koninkryk van God saboteer deur valse leringe en verkeerde gedrag.

Die belangrikste les uit hierdie gelykenis is die geduld wat gelowiges moet hê ten opsigte van die gemengde werklikheid waarin hulle leef. Die eienaar van die land, wat die goeie saad saai het, wys dat daar ‘n regte tyd is vir alles, en dat die oordeel oor die onkruid nie voor die einde van die tyd moet kom nie. Mense wat nie regtig vir God leef nie, sal uiteindelik geskei word van die ware gelowiges, maar dit sal eers aan die einde van die tyd wees.

Jesus vertel die gelykenis van die mosterdsaad (Matteus 13:31-32)

In die gelykenis van die mosterdsaad verduidelik Jesus die krag en invloed van die koninkryk van God. Hy gebruik die beeld van ‘n man wat die klein mosterdsaad saai, wat die kleinste van alle sade is. Ondanks sy klein grootte, word die mosterdplant so groot dat dit ‘n boom word waar die voëls van die lug in sy takke kan nesmaak. Dit simboliseer hoe die koninkryk van God, al begin dit klein, in ‘n groot, wêreldwye beweging sal groei, wat plek sal maak vir alle nasies om deel van die koninkryk te wees.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis van die mosterdsaad beklemtoon die geduld wat gelowiges moet hê terwyl die koninkryk van God stadig groei. Dit wys dat God se werk, alhoewel dit begin as iets klein en onbelangrik, uiteindelik die wêreld sal verower. Die koninkryk van God is nie beperk tot ‘n klein groepie nie, maar sal die hele aarde bereik en mense van alle nasies insluit.

Die les wat ons hieruit kan leer, is dat ons nie ontmoedig moet raak as ons nie onmiddellike resultate sien nie. God se koninkryk sal uiteindelik in sy volle glorie openbaar word, maar ons moet geduldig wees en volhard in ons getuie- en saaiwerk.

Jesus vertel die gelykenis van die suurdeeg – Matteus 13:33

Jesus voeg die gelykenis van die suurdeeg by die ander koninkryksgelykenisse om verder die invloed van die koninkryk van God te beskryf. Hy verduidelik dat die koninkryk van die hemele soos suurdeeg is wat ‘n vrou in ‘n groot hoeveelheid meel meng totdat dit heeltemal gerys het. Die suurdeeg verteenwoordig die stille, maar onvermydelike impak wat die koninkryk van God op die wêreld het. Net soos die suurdeeg deur die hele deeg werk, sal die koninkryk al hoe meer mense beïnvloed totdat dit die hele wêreld deurdring.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis van die suurdeeg beklemtoon dat die koninkryk van God nie deur geweld of mag kom nie, maar deur die subtiele, onmiskenbare werk van die Gees van God. Net soos suurdeeg die hele deeg deeglik kan beïnvloed, sal die koninkryk die wêreld verander, maar dit sal geleidelik gebeur. Die gelykenis moedig ons aan om te vertrou dat, al lyk dit soms dat die koninkryk nie vinnig groei nie, God se werk in die wêreld onstuitbaar is.

Jesus kondig die dinge aan wat van die skepping af verborge is (Matteus 13:34-35)

Na die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg, verduidelik Matteus dat Jesus met gelykenisse praat om die koninkryk van die hemele aan die skare te verduidelik. Dit is nie net ‘n styl van onderrig nie, maar dit is die vervulling van die openbaring wat van die skepping af verborge was. Jesus is die sleutel tot die geheimenisse van die koninkryk, en Hy openbaar dit aan dié wat bereid is om God se wil te doen.

Matteus beklemtoon dat Jesus sy gelykenisse nie net in opdrag van God vertel nie, maar ook in vervulling van die profesieë van die Ou Testament, spesifiek die woorde van die profeet Asaf in Psalm 78:2. Asaf het in sy profetiese liedere gesê dat God dinge wat van die skepping af verborge is, deur gelykenisse sou openbaar. Dit is nie net een van die Ou Testamentiese profesieë wat in Jesus vervul word nie, maar ‘n voorbeeld van hoe Jesus die volle betekenis van die Skrif vervul. Hy kom nie om die wet en die profete te vernietig nie, maar om hulle te vervul (Matt 5:17).

Boodskap en betekenis

Jesus kies nie lukraak om gelykenisse te vertel nie. Dit is die gevolg van die feit dat die mense, hoewel hulle hoor, dikwels nie werklik luister of verstaan nie. Net dié wat ‘n gehoorsame hart het, sal die volle openbaring van God se wil ontvang. Gelykenisse dien as ‘n strategie om diegene wat regtig opreg is om te leer, in die koninkryk in te lei. Dit is ‘n genade aan dié wat met ‘n opregte en nederige hart wil verstaan.

Jesus verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matteus 13:36-43)

Ná die gelykenis van die onkruid tussen die koring, verduidelik Jesus dit aan sy dissipels in ‘n private gesprek. Hy bevestig dat die goeie saad die mense van die koninkryk is, en die onkruid die mense van die Bose. Die oes, wat die einde van die wêreld simboliseer, sal geskei word: die regverdiges sal in die koninkryk van God ingaan, terwyl die boosdoeners in die vuuroond gegooi sal word.

Boodskap en betekenis

Hierdie gelykenis wys dat die onderskeid tussen die koring en die onkruid nie altyd duidelik is nie. Sommige mense lyk dalk soos gelowiges, maar is in werklikheid nie deel van die koninkryk nie. Jesus waarsku ons teen ‘n vinnige oordeel oor ander, want die uiteindelike skeiding sal eers aan die einde van die wêreld wees. Die onkruid, wat mense is wat ander in sonde lei, sal geskei word van die koring, die ware gelowiges wat regtig God se wil doen.

Die regverdiges, wat vir die waarheid van die koninkryk van God volhard het, sal beloon word. In Jesus se gelykenis is hulle soos die son wat skyn in die koninkryk van hulle Vader. Hierdie beeld verwys na Daniël 12:3, waar die regverdiges ‘n glans sal hê wat dit duidelik maak dat hulle vir God gelewe het. Jesus moedig ons aan om te luister en die koninkryk van God te omarm.

Jesus vertel die gelykenisse van die skat, die pêrel, en die treknet (Matteus 13:44-50)

Jesus vertel drie gelykenisse wat die waarde en die impak van die koninkryk van die hemele beklemtoon.

  1. Die gelykenis van die skat (13:44) – ‘n Man ontdek ‘n skat in die veld en verkoop alles wat hy het om die grond te koop. Die gelykenis dui op die onmeetbare waarde van die koninkryk. Niks op aarde kan ooit vergelyk word met wat dit bied nie. Dit is nie net ‘n opoffering nie, maar ‘n opgewondenheid oor wat die koninkryk van God beteken.
  2. Die gelykenis van die pêrel (13:45-46) – ‘n Handelaar verkoop alles wat hy het om ‘n waardevolle pêrel te bekom. Dit beklemtoon die onvergelykbare waarde van die koninkryk, wat die mooiste en beste wat die wêreld bied oortref.
  3. Die gelykenis van die treknet (13:47-50) – Hierdie gelykenis vertel van die treknet wat alles insamel, die goeie en die slegte visse. Aan die einde van die wêreld sal die engele die goeie en slegte van mekaar skei. Die goeie visse sal in die koninkryk van God wees, maar die bose sal in die vuuroond beland.

Boodskap en betekenis

Die gelykenisse van die skat en die pêrel beklemtoon die wonder van die koninkryk van God, wat ‘n persoon meer blydskap sal bring as enigiets anders. Die gelykenis van die treknet herinner ons dat daar ‘n einde sal wees, waar die verdeling tussen regverdig en boos sal plaasvind. Ons moet die waarde van die koninkryk nie net erken nie, maar ook die roeping om gehoorsaam te wees aan die evangelie.

Jesus leer dat oud en nuut uit die Skrif belangrik is in die koninkryk van die hemele (Matteus 13:51-52)

Jesus sluit die gelykenisse af met die vraag of sy dissipels verstaan wat Hy gesê het. Hy bevestig dat, soos die eienaar wat nuwe en ou skatte uit sy kamer haal – die Skrif, beide die Ou en die Nuwe Testament – saamwerk om die volledige openbaring van die koninkryk van God te bring.

Boodskap en betekenis

Die gelykenis van die huiseienaar beklemtoon die belangrikheid van beide die Ou en Nuwe Testament in die verstaan van die koninkryk. As Jesus se volgelinge sal ons ‘n nuwe insig hê oor die waarde van die Skrif, en ons sal die Nuwe Testament (die openbaring in Jesus) gebruik om die Ou Testament te verstaan en toe te pas. Hierdie gelykenis wys hoe beide dele van die Skrifte met mekaar saamwerk in die openbaring van God se wil.

Jesus word in Nasaret verwerp – Matteus 13:53-58

Jesus keer terug na Nasaret, maar sy mense, hoewel verstom oor sy wysheid, verwerp Hom. Hulle kan Hom nie as meer as die seun van ‘n ambagsman sien nie, en hulle verwerp Hiom met minagting omdat hulle Hom so goed ken. Jesus antwoord dat ‘n profeet nie sonder eer is, behalwe in sy tuisdorp.

Boodskap en betekenis

Jesus se verwerping in Nasaret illustreer die uitdaging om ‘n nuwe perspektief op die koninkryk van God te hê, veral wanneer die boodskap na mense van dieselfde gemeenskap kom. Soms kan ons die boodskap nie ontvang omdat ons te maklik dink ons ken die persoon wat dit bring. Dit is ‘n waarskuwing om nie die koninkryk van God te verwerp nie, omdat ons te beperk is in ons siening.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar