Author: Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Psalm 120

Here, bevry my van bedrieglike tonge

Psalm 110-118 in die 5de Psalmboek het die geloofsgemeenskap herinner aan God se (veral Messiaanse) beloftes uit die verlede wat bedoel was vir ‘n beter toekoms. Psalm 119 het hulle gehelp om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die Woord wat bedoel was vir die uitdagings van elke dag in die hede.

Psalm 120-134 help nou op soortgelyke wyse die geloofsgemeenskap om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die tempel waar hulle met mekaar versterk kan word vir die geloofstryd. Dit is waar hulle saam sing en die Here loof wat hulle innerlik die krag kry om te doen wat die Woord van hulle vra.

Hierdie vyftien Psalms word daarom Pelgrimsliedere genoem wat bedoel was om drie keer ‘n jaar met die reis na die groot feeste by die tempel in Jerusalem gesing te word om onder andere die verlange na God (Ps 121), die gebed vir Jerusalem (Ps 122), die belydenis van afhanklikheid van God (Ps 123), en die gebed om beskerming van God (Ps 125) te verwoord.

Hoewel net vier van hierdie Psalms direk aan Dawid toegeskryf word (Ps 122; 124; 131; 133), hanteer ek die meeste van die Pelgrimsliedere hier, omdat die inhoud ooreenstem. Dit geld ook Psalm 132 wat nie ‘n Psalm van Dawid is nie, maar wel ‘n Psalm vir Dawid. Dit is dus heel waarskynlik in sy tyd geskryf deur ‘n anonieme skrywer.

Twee van dié Psalms sal egter later hanteer word. Psalm 126 is na aanleiding van die inhoud heel waarskynlik ná die ballingskap geskryf, en word dus ook later hanteer. Psalm 127 word aan Salomo verbind en sal dus as deel van Salomo se verhaal hanteer word.

Teks en konteks

Hoewel Dawid nie direk genoem word in die Psalm nie, is dit moontik geskryf na aanleiding van Dawid se ervaring van vreemdelingskap. Hy gebruik moontlik die twee uiteenlopende plekke, Meseg (in Turkye) en Kedar (in Arabië) as metafore vir sy ervaring van vreemdelingskap buite die grondgebied van Israel. Hoe dit ook al sy, die Psalm is uiteindelik as die begin van die Pelgrimsliedere gekies om die tuiskoms in Jerusalem uit die “vreemde” te vier.

Die nood (en konteks) van Psalm 120 lê waarskynlik in die xenofobiese kwaadpratery wat die Psalmis ervaar het in sy verblyf in die noord-weste in Mesek en in die suid-ooste in Kedar (Ps 120:5). Die burgers van hierdie lande was mense wat gelieg en bedrieg het in hulle verhouding met hom (Ps 120:2-4) en altyd gereed was vir oorlog (Ps 120:7), omdat hy ‘n vreemdeling was in hulle land. Vreemdelingehaat het sy verblyf daar dus amper onhoudbaar gemaak.

Mesek word verbind met die landstreek Frigië in Klein-Asië (vgl. Eseg. 27:3; 39:1) wat ons vandag as ‘n deel van Turkye ken. Kedar is min of meer waar Arabië vandag is suid-oos van Israel. Terloops, ons lees in die NT hoe Jode van Frigië die wonder van die Pinksteruitstorting ervaar het (Hand. 2:10) en deur Paulus bedien is (Hand. 16:6; 18:23).

En al is die Psalmis ten gunste van vrede – letterlik staan daar: “Ek is vrede” (anî-sjâlôm) – reageer sy teenstanders op enigiets wat hy sê met oorlogvoering (waarskynlik ‘n “woorde-oorlog”, maar dit kan ook meer om die lyf gehad het).

Maar, die Psalmis verkondig dat hy sy toevlug neem tot die Here – eintlik as verteenwoordiger van almal wat in soortgelyke situasies verkeer – en getuig dat die Here hom in sy nood geantwoord het. Let op die raak beskrywing van hoe God hulle bedrieglike taal troef: sy woorde is soos “die skerpgemaakte pyle van ‘n held saam met gloeiende besemboskole.” (120:4 – 2014-vertaling). Dit is so flymskerp soos ‘n skerpgemaakte pyl wat getemper is oor gloeiende kole.

Maar, die Psalmis bely ook dat hy nou al te lank woon by mense wat vrede haat. En ‘n mens kan jou amper indink in sy onuitgesproke gedagtes – op pad na die tempel toe – dat dáár in die geloofsgemeenskap hy weer vrede in die teenwoordigheid van die Here sal ervaar.

Boodskap en betekenis

Ek kan my indink in die ervaring van die pelgrims wat Psalm 120 as hulle eie lied gesing het terwyl hulle oor die berge en die dale van hulle verspreide verblyf in die vreemde na Jerusalem opgetrek het, en die Psalm met intense heimweë en hartlike verlange gesing het.

Dié Psalm is dus ‘n lied vir almal wat die pyn van vreemdelingskap en vreemdelingehaat ervaar, waar julle jul ook al mag bevind. Soms voel ‘n mens mos ‘n vreemdeling selfs in ‘n bekende omgewing. Die Here belowe bevryding van bedrieglike tonge.

Veel later sou Petrus aan die vreemdelinge in die Diaspora – die verstrooiing van gelowige Jode – skrywe in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1) – dele wat grens aan Frigië (Mesek) – en hulle met genade en vrede seën omdat hulle deur God uitverkies is en ‘n nuwe hoop het op ‘n erfenis: “wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word …” (1 Pet. 1:2,4).

Psalm 119:169-176

TAW – Hou my lewend sodat ek U kan loof

Die Psalm word in die 22ste deel afgesluit met die belydenis dat die sin van die lewe lê in die lof aan God: “Hou my lewend sodat ek U kan loof.” En daaraan voeg hy toe: “Laat u beslissings my help.” (119:175). Dit beteken dat die Psalmis sy beroep doen op God se voorsienigheid (beslissings) om in hierdie lewe in lof teenoor God te kan leef.

Daarom stort hy sy hulpkrete en smeekgebede uit voor die Here, sowel as sy lofprysing en sang. Hy soek insig ooreenkomstig God se woord. Hy verwag redding volgens God se beloftes. Hy verwag dat God hom sal leer, want hy verkies om God se opdragte na te kom bo alles.

Daarom sien hy uit na God se verlossing, want hy vind in God se wet sy vreugde. Trouens: “My lippe laat lofprysing uitstroom, want U leer my u voorskrifte.” (119:171). Wat hy vra, gee die Here alreeds.

Maar, alles is nog nie soos dit moet wees nie, selfs nie in sy eie lewe nie. Daarom sluit hy die 22ste deel en daarmee ook Psalm 119 as ‘n geheel af met die versugting: “As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie.” (119:176).

Hierop sal die Here Jesus natuurlik jare later antwoord met sy drie gelykenisse oor dié wat ronddwaal: die verlore skaap, verlore muntstuk en verlore seun (Luk. 15) Dit is die Goeie Herder wat dié funksie vir elkeen wat in Hom glo, nakom, en hulle die oorvloed van sy teenwoordigheid gee.

Dit beteken dus dat die Psalmis besef dat die Here se hart vir hom, die Here se sorg en bystand, die Here se voorsiening uiteindelik baie belangriker is as sy eie hart vir die Here, sy eie vasgryp aan die Here se woord, en sy eie gehoorsaamheid daaraan, selfs waar dit in die fynste besonderhede is.

God gee vir ons wat Hy van ons vra. Dit is die evangelie. Dit is oorvloedig en genoegsaam. Hy gee dit in die Woord en in die werklikheid. Soli Deo Gloria.

Ek het soveel seën geput uit Leslie Allen se (Word-reeks) kommentaar op Psalm 119 dat ek graag ‘n aanhaling maak uit sy opsomming van dié Psalm:

The prayer for insight into the Torah in v 169 and the appeal for Yahweh’s “rulings” or promises of intervention in v 175 have illustrated the two poles of the psalm. At one end stands the revealed Torah, and it is for insight into this that the psalmist prays so that he may fulfill Yahweh’s moral will in his life. At the other end stands the hope of divine providential intervention, and for this too he prays out of his distress. The dual manifestation of God is itself bridged by the Torah’s examples and promises of aid to the faithful. In the interim the psalmist is kneeling, communing with God through the fellowship of prayer. He looks this way with the eyes of faith and that way with the eyes of hope. From this double spiritual stance the same living God becomes present through the written revelation and can be expected to become present through the providential overruling of adversity in the believer’s life and also through imparting wisdom in understanding and applying the Torah.

Dít verwoord my eie vasgryp aan die skriftelike openbaring van die Here terwyl ek voluit leef met die verwagting dat ek sy voorsiening op baie konkrete maniere in die werklikheid van my lewe sal ervaar. Vanuit die geskrewe Woord leef ek na die alledaagse werklikheid toe in die verwagting dat eenmaal die toekomstige werklikheid vir my en alle gelowiges sal oopgaan. Sela.

Psalm 119:161-168

SIN/SJIN – Sewe keer ‘n dag loof ek U oor u regverdige beslissings

Die 21ste deel van dié Psalm werk steeds met die gehegtheid aan die woord in die konteks van vervolging. Hierdie keer maak hy spesifiek die keuse om nie mense in magsposisies te vrees nie, maar net in ontsag vir die Here se woord te leef. Die Psalmis weet immers dat hy in ‘n sekere sin nie op God se ondersteuning en onderskraging kan staatmaak as hy nie van sy kant af met sy hele hart vasgryp aan God se woord en daarvolgens sy lewe inrig nie.

Wat hom hierin begelei, is die vreugde wat hy vind in die woord, presies soos Psalm 1 dit al uitgespel het: “Gelukkig is die mens … wat vreugde in die wet van die Here vind en sy wet dag en nag prewelend opsê.” (Ps. 1:1-2). Trouens, sewe keer ‘n dag loof hy die Here oor sy regverdige beslissings, soos vers 163 meer letterlik vertaal kan word. Eugene Peterson vertaal dit so pragtig: “Seven times each day I stop and shout praises for the way you keep everything running right.” (The Message). Dit is asof die Psalmis in ‘n konteks van aanvegting wil sê dat ‘n mens nog meer as gewoonlik die Here moet loof vir sy woord, meer in elk geval as die drie keer ‘n dag van ‘n Daniël (Dan. 6:11) en ‘n Dawid (Ps. 55:18: “In die aand en in die oggend, selfs in die middag ,het ek gekla en gesteun; toe het Hy my stem gehoor.”)!

Die Psalmis is soos iemand wat ‘n groot buit gevind het en hom net nie kan inhou van opgewondenheid oor sy geluk nie. Soos Jesus ook in die NT in sy gelykenis oor die koninkryk op ‘n soortgelyke wyse vertel: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.” (Matt. 13:44).

Die omgekeerde is natuurlik dat in sy vreugde oor die woord, verberg hy ook nie sy afsku vir valsheid, d.w.s. vir mense wat die woorde van die Here verdraai en verontagsaam nie. Hy het die wet van die Here lief en loop daarmee te koop (119:163).

Hoekom? Want hy weet dat daar vrede (NAV het sekerheid) is vir diégene wat die wet liefhet, en dat daar vir hulle geen struikelblokke is in hulle toewyding aan die Here. Struikelblokke in die lewe, ja, teenstand, selfs verguising, maar geen hindernis in hulle verhouding met die Here nie (119:165).

Daarom vestig hy sy hoop op die Here wat verlos en voer hy God se bevele uit, onderhou hy die bepalings, en leef hy in totale openheid teenoor die Here: “My hele lewe lê oop voor U.” (119:168 – BDV het: “want al my paaie lê oop en bloot voor U.”).

Hoekom? Want hy weet dat die Here in ‘n sekere sin net oor sy lewe die wag kan hou, as hy bewustelik oop voor die Here leef. Weereens soos Psalm 1 sê: “Ja, die Here sorg vir (ken) die pad van die regverdiges, maar die pad van die goddelose mense loop dood.” (Ps. 1:6).

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: