Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel
Ons sit die fokus op die lewe van geregtigheid in Matteus 6 voort. Die eerste 18 verse het op liefdadigheid, gebed en vas as sleutelkenmerke van die lewe met God gefokus. Van vers 19-34 fokus Jesus op die wyse waarop jou welvaart in gemeenskap met Hom hanteer moet word. Die fokus moet aan die een kant op God self wees, nie op jou besittings nie – vers 19-24. Aan die ander kant moet die fokus op sy koninkryk wees, nie op jou bekommernisse nie – vers 25-34.
Ons lees dit weereens in kleiner paragrawe om deeglik op die boodskap en betekenis daarvan te kan konsentreer.
MATTEUS 6:19-21
19 “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes vernietig en waar diewe inbreek en steel nie,
20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel waar nóg mot nóg roes vernietig en waar diewe nie inbreek en steel nie,
21 want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Teks en konteks
6:19-20 Jesus gee hier as’t ware ‘n nuwe doel en strategie vir die lewe in die gemeenskap. Aan die basis daarvan lê ‘n revolusionêre waardestelsel. Aardse skatte is onderworpe aan verganklikheid – mot, roes, en diefstal. Hemelse skatte kan nie opgevreet of vernietig word nie.
6:21 Dit gaan egter ten diepste oor waar jou hart (en jou oog – vers 22-23) is. ‘n Aardse fokus bring ‘n gebrek aan insig oor wat regtig belangrik is.
Boodskap en betekenis
Jesus leer ons hiermee dat ‘n aardse belegging nie kan meeding met die opbrengs en dividende van ‘n hemelse belegging nie. Dit kan eintlik nie vergelyk word nie, want dit is so ver verwyder van mekaar as verganklikheid van onverganklikheid. Jou keuse sal jou hart – jou manier van dink en doen – beïnvloed.
Onlangse kommentaar