Skip to main content

1 Konings 18

Die Here wys vir Agab en die volk op Karmel deur vuur en reën dat Hy alleen God is

Maar, helaas. Agab kry dit nie reg om hierdie genade te ontvang in sy lewe nie.

Elia (en Jahwe natuurlik) was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant. Die sinkretisme was van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat die volk die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl. Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom. Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer. Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek. Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Teks en konteks

Ons lees in 1 Konings 18:1:

En geruime tyd daarna het die woord van die Here in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.

Elia gehoorsaam die Here en ontmoet eers vir Obadja, die hoof van die hofhouding, om deur hom vir Agab te ontbied om die woord van die Here by sy profeet te kom ontvang.

Obadja (hy het dieselfde naam as die profeet van die 6de eeu) het op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly. Interessant dat Elia dié feit ignoreer as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

Elia tree hier dus met groot gesag op deur Agab nie net te ontbied na hom toe nie, maar ook in die proses te gebied om al die noordelike stamme te laat bymekaar kom op die berg Karmel saam met die 450 profete van Baäl en die 400 van Asjera. Wat Agab ewe gedwee gedoen het. Die droogte was só uitmergelend dat hy nie bra anders kon nie.

“En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” (1 Kon 18:21).

Dit was die hart van die probleem. Die Israeliete kon nie besluit of hulle by Jahwe of by Baäl en sy godin Asjera wou bly nie. Daarom het hulle albei tevrede probeer stel. Die onsedelikheid wat met die Baälgodsdiens saamgegaan het, was net te aanloklik. Daarom het hulle op albei stoele probeer sit.

Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die Here, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed. Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie.” (1 Kon 18:22-25).

Elia het hiermee gesorg dat dit duidelik sou wees dat die Here God is. Want net God kon vuur uit die hemel gee, soos Hy soveel kere in die verlede al gewys het met Sodom en Gomorra (Gen 19), Moses en die doringbos (Eks 3), en die sewende plaag in Egipte waar vuur met die hael gemeng was (Eks 9:23).

Trouens, vuur is baie keer die teken van God se teenwoordigheid, soos met die vuurkolom in die woestyn (Eks 14:24; 40:38; Num 9:16; Deut 1:33), en die Here wat in vuur op Sinai neergedaal het (Eks 19:18; 24:17; Deut 4:11-15).

God verteer ook die offers met vuur met die inwyding van die tabernakel (Lev 9:24), asook Nadab en Abiru wat oortree het met “vreemde vuur” (Lev 10:2; Num 3:4). Die volk ontgeld dit ook ‘n keer met vuur vir hulle opstandigheid (Num 11:1), sowel as Korag en sy bende van 250 vir hulle opstandigheid (Num 16:25; 26:10).

Ook in die Rigtertyd word die Here met vuur uit die hemel geassosieer as daar vuur uit die hemel kom om die offers van Gideon te verbrand (Rigt 6:21) en moontlik selfs ook die offers van Manoag, Simson se pa (Rigt 13:20).

Die profete van Baäl en Asjera het egter misluk al het hulle baie moeite gedoen. Hulle het gebid en rondgespring by die bul op die altaar. Elia het later met hulle begin spot:

Roep hard; hy is mos ’n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.” (1 Kon 18:27).

Maar verniet. Selfs nie toe hulle volgens hulle gebruik hulleself met swaarde en spiese stukkend gekerwe het tot die bloed uitgespuit het nie.

Teen laatmiddag, toe dit duidelik word dat daar geen stem en geen antwoord is nie: “geen opmerksaamheid nie”, sê die skrywer, roep Elia die volk:

Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die Here herstel wat afgebreek was. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders—tot wie die woord van die Here gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees — en hy bou met die klippe ’n altaar in die Naam van die Here. Daarna het hy ’n sloot gemaak rondom die altaar, ’n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer.” (1 Kon 18:30-37).

En die wonder gebeur, die tweede direkte teken ook aan Agab, dat die vuur van die Here neergeval het en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer het. Selfs die water wat in die sloot was, is opgelek deur die vuur.

Toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: “Die Here, Hy is God, die Here, Hy is God!

En saam het hulle die valse profete uitgewis by die spruit Kison. Die volk het die profete gegryp, en gebring en Elia het hulle doodgemaak.

Met die inkeer van die volk tot die Here, word die rede vir die droogte uitgewis, en kan die Here sy besluit uitvoer om die droogte te breek, die derde teken aan Agab (vgl Samuel wat iets soortgelyks gedoen het vroeër – 1 Sam 12:17-18). Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie:

Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer—sewe maal. En die sewende maal roep hy: Daar gaan ’n wolkie soos ’n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. En in ’n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ’n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël; maar die hand van die Here was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.”(1 Kon 18:41-46).

Boodskap en betekenis

Daar is drie dinge wat ons uit hierdie verhaal leer:

1. God praat met ons deur reën.

As Paulus in Listre op sy eerste sendingreis ‘n verlamde man genees, dan raak die skare mal en wil vir Paulus en Barnabas as gode vereer. Dan verkondig Paulus en Barnabas vir hulle die evangelie en leer hulle dat God praat in die skepping en in sy onderhouding daarvan.

Sy bekeringsboodskap is: “dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het. Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.” (Hand 14:15-17).

God het dus nie net alles gemaak nie. Hy hou alles in stand. Hy doen goed deur vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.

2. God praat met ons deur droogte.

En soms, dan hou Hy daardie reën en vrugbare tye terug sodat daar ‘n behoefte aan Homself kan kom, sodat mense tot bekering kan kom.

Dit is ‘n mag waarby Elia ingeskakel het. Hy het gebid en dit was droog. Hy het die boodskap van bekering aan die volk gebring, en hulle het geluister. Hy het weer gebid, in opdrag van die Here, en dit het gereën.

3. Die gebed van die regverdige het groot krag.

Jakobus moedig ons aan om op dieselfde wyse te bid as Elia, want die gebed van die regverdige het groot krag.

Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag. Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.”(Jak 5:16b-18).

Maar, Jakobus spel ook uit dat die regte voorbereiding vir dié tipe gebede is om sondes te bely, om deur ‘n reinigingsproses te gaan, as geloofsgemeenskap, om reg te kan onderskei hoe ‘n mens dié gebede bid.

Maar dat dit deel is van die mag wat God aan die kerk gegee het, staan vas. Só lees ons in die Openbaring van Johannes dat God die mag om die hemel te sluit ook aan sy twee getuies gegee het (Openb 11). Die twee getuies staan vir die getuienis van die kerk in die wêreld, deur leierskap en die verkondiging van die Woord.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda