Skip to main content

Esegiël 35-36:15

‘n Woord teen Edom en die herstel van die “Berge van Israel

Die volgende profesie is gemik op die herstel van die land. Dit beslaan twee dele:

  • Aan die een kant verkondig die Here verwoesting oor Edom, die bergland van Seïr (die dorpie Petra is in dié streek geleë), wat hulle vergryp het aan beide Israel en Juda se grondgebied in hulle ballingskap: “Jy het gesê: ‘Altwee volke en altwee lande is nou myne, ons gaan daardie land vat.’” (35:1-15).
  • Aan die ander kant verkondig die Here dat Israel weer die land in besit sal neem as hulle eiendom. Die “Berge van Israel” sal nie weer sy bewoners afskud nie! (36:1-15).

Teks en konteks

Esegiël 35:1-15 – Die hele Edom gaan ‘n land sonder inwoners word

Die oordeel oor Edom, nageslag van Esau, kom weens beide die vyandskap van ouds af (35:5) en hulle vergryp aan die grondgebied van beide Israel en Juda toe dié in ballingskap weggevoer is. Dit sluit in dat hulle nie net die gesteelde grond sal moet afstaan nie, maar dat hulle ook hulle eie grondgebied kwyt sal wees. Hulle haat, woede en afguns baat hulle dus niks nie.

Volgens die NAV se vertaling van vers 10 lyk dit asof die Edomiete op ‘n manier ook beweeg is tot dié onregmatige besetting van Israeliese grondgebied omdat hulle daarmee gedink het dat hulle dan ‘n aanspraak op God sou hê: “Die Here is daar!” (35:10). Dit is egter beter om die frase as ‘n uitroep van Esegiël te neem wat sê, julle het julle misgis deur die land te vat, want die Here is steeds daar! So het die meeste vertalings dit.

Dit leer ons dat waar die oordeel van die Here oor iemand of ‘n volk voltrek word, ander nie moet probeer voordeel trek daaruit nie. So word dit ook in die profeet Obadja uitgespel. God haat immers vermetelheid en verwaandheid. Dit maak nie regtig saak of die oordeel deur Israel en Juda se eie toedoen was of nie. In beide gevalle het hulle inderdaad hulle verdiende loon ontvang met die ballingskappe, maar dieselfde perspektief sou geld as die rampe onverdiend sou wees. ‘n Mens is nie leedvermakerig en verlekker jou in die pyn van ander nie, selfs al is dit welverdiend. Veral nie as die mense “broers” en nie “vreemdelinge” is nie.

‘n Mens kan nie anders as om te dink aan die verhaal van die Barmhartige Samaritaan waar Jesus die “vreemdeling” gebruik om die wetgeleerde te oortuig om sy naaste lief te hê soos homself (Luk. 10). Hoeveel te meer moet “broers en susters” dit nie vir mekaar doen nie.

Een van die Psalmdigters herinner die Here aan dieselfde gebeure in Ps. 137:7: “Onthou die Edomiete, Here, dié dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou sê het: ‘Breek af, breek af die stad tot in sy fondamente.’” Vgl. ook Jeremia se beskuldiging in sy Klaagliedere (4:21-22 – “Wees gerus maar opgewek en bly, Edom … maar ook jy sal die oordeelsbeker moet drink …”).

Esegiël 36:1-15 – Die “Berge van Israel” sal nie weer sy bewoners afskud nie

Soos Esegiël met die naderende ballingskap die “Berge van Israel” aangespreek het om hulle gereed te maak om verwoesting te aanvaar – hfst. 6 – só verkondig Esegiël nou aan dieselfde berge dat hulle vir die terugkeer van Israel gereed moet maak – hfst. 36. Edom se vergryp aan “daardie oeroue hoogtes” sal omgekeer word.

Die vernedering van die land sal omgekeer word deur die Here. Hy beveel die land om te sorg: “dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby.” (36:8). Die Here gaan weer na die volk omsien en vir hulle sorg. Dit sluit in dat die land bewerk en beplant sal word, amper soos dit was met die tuin van Eden (Gen. 1:28). Die mense sal vermeerder en vrugbaar wees. Ook die land sal die voordeel daarvan hê.

Dit leer ons dat daar ‘n intieme verband nie net tussen mense en hulle grond is nie, maar ook tussen God en die aarde: “Die mense sê van julle, berge van Israel, dat julle mense opvreet en dat julle julle bewoners afskud. Maar julle sal nie weer mense opvreet nie en nie weer julle bewoners afskud nie.” (36:13-14 – vgl. die slegte gerug wat die verspieders met die eerste poging tot ‘n Intog oor die land versprei het: “’n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak …” – Num. 13:32). Die Here sal sorg dat selfs die land nie weer dié tipe beskuldigings sal hoor nie!

‘n Mens sien nou ook hoe Esegiël se visie van herstel vorm begin aanneem. Dit sluit die Dawidiese herder (hfst. 34) en die land (hfst. 35-36) in, waarna Esegiël in die volgende hoofstuk die volk (hfst. 36:16-38) ook sal insluit wat deur die Gees vernuwe sal word (hfst. 37). Uiteindelik sal God Hom oor die hele Israel ontferm (hfst. 37:15 vv. sowel as hfst. 39) sodat al sy mense in die teenwoordigheid van die Here – met die simbole van die tempel en die land – tot hulle reg kan kom (hfst. 40 vv.).

Boodskap en betekenis

Die gedeelte herinner ons aan die intieme band wat daar tussen mense en hulle grond, sowel as tussen God en die aarde is. Waar dié verhoudinge skeef loop, ly nie net die mense daaronder nie, maar ook die grondgebied. God se herstel sluit dus nie net in dat mense en hulle verhouding met hulle grondgebied herstel word nie, maar inderdaad dat ook die aarde voorspoed sal belewe.

Dit laat ‘n mens anders kyk na die konflikte wat op só baie plekke op die aarde rondom grondbesit en verwante dinge bestaan. Selfs waar mense van hulle gebied vervreem word deur hulle eie toedoen – oorlog, skuld, onbeholpenheid, rampe – moet ander nie probeer om daaruit voordeel te trek nie. Dit laat ‘n mens ook anders kyk na die ekologie en die wyse waarop ons lewenstyl dit bedreig.

Geen wonder dat die Here ‘n nuwe hemel en spesifiek ook ‘n nuwe aarde belowe as deel van die koninkryk wat Hy kom vestig nie. Jesaja dra reeds daardie boodskap (Jes. 65:17; 66:22 – “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek gaan maak, in my diens sal staan, sê die Here, so sal julle nageslag en julle roem in my diens staan.”) en Jesus belowe in die Bergrede dat dit juis sagmoediges is – nie die vermeteldes en verwaandes nie – wat dié nuwe aarde sal ontvang (“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” – Matt. 5:5).

Ook Petrus praat van die verwagting wat ons koester vir ‘n nuwe aarde waar die geregtigheid van God sal heers (“Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” – 2 Petr. 3:13). En Johannes sluit sy Openbaring af met dieselfde visie (Openb. 21:1).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.