Skip to main content

Rigters 20

Die gruwelike burgeroorlog

Teks en konteks

Die tweede verhaal wat ons in hierdie onverkwiklike sage lees, is dié van die hele Israel wat bymekaar kom om die oortreders te straf. Al die Israeliete van Dan (die stad in die noorde, nie die stam in die weste nie) tot by Berseba in die suide sowel as dié uit die Gileadstreek oorkant die Jordaan het in Mispa bymekaargekom, op die grens tussen Juda en Benjamin (dws ‘n ander Mispa as die plek waar Jefta opgetree het), ‘n plek wat Samuel later ook só sou gebruik (1 Sam. 7:2–12). ‘n Groot menigte.

Let op dat die aksie net teen die skuldiges gemik is. Die 11 stamme van Israel word tot ‘n mens se misnoeë egter teëgestaan deur die hele stam van Benjamin. Hulle wil die oortreders nie uitlewer nie. Die stam van Benjamin assosieer hulle met die oortreders, die: “seuns van Belial”. Hoe hulle dit oor hulle hart kon kry, gaan ‘n mens se verstand te bowe … maar as alles in jou eie oë reg is, dan maak dit seker sin.

Die voortspruitende burgeroorlog verloop egter teen die verwagting in in die Benjaminiete se guns, selfs al het Israel eers na Bet-El getrek, en daar in die teenwoordigheid van die Here bymekaar gekom en Hom geraadpleeg. Dit is dus vanaf hierdie heiligdom wat hulle optrek teen die Benjaminiete in Gibea.

Hoe moet ‘n mens dit verstaan?

  1. Wel, in die eerste plek was die Benjaminiete uiters bedrewe vegters. ‘n Mens het dit al met Ehud gesien, en hier sê die skrywer dat van hulle knap soldate was. Die hotkloue: “kon keer op keer ’n haar raakgooi met ’n klip uit ’n slingervel”! Israel het die eerste twee keer ook geen afwisseling in hulle strategie gehad nie, maar doodgewoon gedink hulle sal met getalle die oorhand kan kry.
  2. Maar, in die tweede plek dink ek dit lê eintlik in die feit dat ‘n mens met die eerste twee “bevele” van die Here nie sien dat die Here vir hulle oorwinning belowe nie. Hy sê net wie moet optrek. Vóór Hy nog meer detail kon gee, soos Hy soveel keer gedoen het, bv met Josua en Gideon, trek hulle op in die verwagting dat getalle genoeg is om oor Benjamin te loop.
  3. Maar, daar is ook ‘n derde rede. Dit is eers wanneer hulle in die regte verhouding met Hom kom wat daar ‘n verandering kom, gefasiliteer deur Pinehas. ‘n Mens sien daarom Jesaja 59:1-2 se waarskuwing geïllustreer in dié onverwagse struikelblok in hulle weliswaar regverdige optrede. Sonde bring skeiding tussen ons en God. Versoening is nodig vir die verhouding om te herstel, selfs waar jy die regte ding doen.

Dit is daarom eers wanneer die held Pinehas – wat vroeër die toorn van die Here afgeweer het met die onsedelikheid en afgodediens in Sittim (Num 25) – op die toneel verskyn, hulle so ver kom om brandoffers en maaltydoffers te bring, waarskynlik by die tabernakel, want die ark van die Here is ook daar wat die situasie verander en die Here belowe dat hulle die oorwinning sal behaal: “Trek op! Môre gee Ek hulle in julle mag.”

Soos dit die keer met Ai die geval was, oorwin hulle met ‘n hinderlaag en slaag in hulle missie. Terloops, die feit dat Pinehas genoem word, beteken ook dat dié verhale vroeg in die Rigterstyd plaasvind.

Let op dat die uiteindelike slagting steeds by Gibea plaasvind. Benjamin word amper uitgemoor in die onnodige burgeroorlog en die stad verwoes. Almal behalwe 600 man wat na die Rimmonrots gevlug en daar geskuil het vir die volgende 4 maande. Die Israeliete het in hierdie tyd: “van stad tot stad gegaan en alles, mens en dier, om die lewe gebring. In al die stede het hulle alles wat hulle aangetref het, verbrand.” ‘n Volslae volksmoord. As dit nie vir die 600 was nie …

Boodskap en betekenis

Hierdie verhaal leer ‘n mens in die eerste plek dat daar geen geestelike oorwinning in jou eie lewe kan of sal wees as jy nie jou sondes bely en versoening daarvoor kry nie. Johannes sê dit helder en duidelik:

As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh 1:6-10).

Maar daar is meer. Dit leer ons in die tweede plek dat afgodery altyd lei tot onsedelikheid en anargie in onderlinge verhoudings. Paulus waarsku ons daarom in Romeine 1 teen die sedelike verval wat kom van ‘n gebrek aan ‘n Godsbewussyn:

Omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer.” (Rom 1:21-24)

Die omgekeerde is natuurlik ook waar.

Waar jy kies om God se voorskrifte vir die lewe nie na te kom nie word jou Godsbewussyn verduister en kan jy nie met die heilige God ‘n standvastige verhouding hê nie, soos Paulus in Galasiërs 5 waarsku:

Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” (Gal 5:14-17).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar