Skip to main content

Psalm 89

Sal U dan vir altyd u hulp weerhou?

Psalm 89 is ‘n gedig van Etan gefundeer op die boodskap van 2 Samuel 7 se belofte aan Dawid. Etan was soos Heman, ‘n Esragiet, en een van vier bekende wyses in Israel. Hulle wysheid is wel deur Salomo oortref, maar steeds van groot waarde vir die geloofsgemeenskap (1 Kon 4:31).

Etan en Heman was nakomelinge van Serag uit die stam van Juda (1 Kron 2:6), vandaar die naam Esragiet (nakomeling van Serag). Hierdie Etan moet onderskei word van die ander Etan, wat ook Jedutan genoem word, en saam met Asaf en Heman in die tyd van Dawid as tempelsangers opgetree het (1 Kron 6:33).

Die Psalm van Etan is die laaste een in die 3de Psalmboek (Ps 73-89). Dit  begin met die wonderlike uitkoms wat God gee, wat eintlik ’n noodsaaklike boodskap is ná die donkerte van Psalm 88. Tog vra die Psalm ook of ’n mens altyd kan staatmaak daarop, veral wanneer dit lyk asof God in sy toorn sy verbond nie in ag neem nie (vers 39 en verder). ’n Situasie waarmee menige van ons kan identifiseer.

Teks en konteks

Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade – vers 2-19

God word geloof vir sy liefde en trou wat vir altyd standhou beide in die hemel as op die aarde (vgl. die Ons Vader gebed oor God se wil) – vers 2-3.  Dit het Hy bewys:

  1. met sy verbond met en belofte aan Dawid : “Ek sal vir jou ’n nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.” (vers 4-5).
  2. met die ereposisie wat Hy beklee onder die hemelinge (“hemelse” heiliges – 2014 vertaling) en hemelwesens (seuns van God – grondteks) in die hemelse vergadering sowel as met die magsposisie in terme van die skep van orde in die chaos (vers 6-15).
  3. met die ereposisie wat Hy beklee onder die volk wat jubel tot sy eer omdat hulle sy guns geniet, ’n guns wat op spesiale wyse aan die koning bewys is: “Ons koning behoort aan die Here.” (vers 16-19).

U het talle beloftes aan Dawid gemaak – vers 20-38

Die Psalmis wy dan uit oor al die beloftes wat die Here aan Dawid gemaak het, van die bystand aan ’n dapper jong man wat gelei het tot die salwing as koning tot die ondersteuning in die talle oorloë waarin hy betrokke was.  Daarin was God se trou en liefde by hom.  Deur God se krag het hy oorwin.

God se verbond met hom staan vas.  Dawid sal God aanroep as Vader en God sal hom eerste stel (vers 28).  Vir altyd sal God sy trou handhaaf teenoor hom, want God se verbond met hom staan vas (vers 29).  Dit sluit in dat hy altyd nakomelinge sal hê en dat sy troon sal vasstaan solank as wat daar ’n hemel is (vers 30).

Tog beteken dit nie dat die nasate van Dawid hiermee ’n blanko tjek kry tot seën onafhanklik van hulle gehoorsaamheid aan die Here nie. Nee die Psalmis is duidelik daaroor dat as die volk nie handel volgens God se woord nie, nie lewe volgens sy bepalinge nie, sy voorskrifte verontagsaam, sy gebooie nie nakom nie, sal Hy hulle straf (vers 31-33).

Maar, my liefde sal Ek van hom nie terughou nie, my trou nie verbreek nie.” (vers 34).  God se verbond sal nie verbreek word nie. God se beloftes sal nie teruggehou word nie – spesifiek die beloftes van ’n nageslag om op sy troon te sit (vers 36-37).  En die permanensie daarvan word aan die bestaan van die son en die maan sowel as die hemel gekoppel (vers 38-39).

Maar nou het u die verbond met Dawid nie in ag geneem nie – vers 39-52

Teenoor hierdie beskrywing van God se liefde en trou – van sy verbintenis aan sy verbond, van sy liefde ten spyte van: “my liefde sal Ek van hom nie terughou nie,” selfs wanneer hulle ongehoorsaam is – staan die werklikheid dat God se gesalfde verstoot en verwerp is (vers 39), dat die verbond toe nie in ag geneem is nie (vers 40), dat die koningskap weggeneem is en Jerusalem verwoes is (vers 41).  Die vyande het geseëvier (vers 42-46).

Op grond van die feit dat God belowe dat Hy sy liefde nie sal terughou nie, ten spyte van Israel se ongehoorsaamheid, vra die Psalmis: “Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here?” (vers 47).  As pleidooi dat die Here tog sy liefde weer sal in werking stel, word die kortstondigheid en nietigheid van die lewe (vers 48) geskets.  Almal gaan uiteindelik dood (vers 49) en het daarom behoefte aan God se liefde van vroeër (vers 50), ’n mens wil amper sê sonder verdienste, net uit deernis met hulle lot.  Daarom bid die Psalmis dat God aan hulle sal dink, verpersoonlik in die gestalte van sy gesalfde en nie vyande die oorhand laat kry nie: “Die mense … is u vyande, Here.” (vers 52)

Die Psalm sluit met vers 53 wat ook die 3de Psalmboek afsluit: “Die Here moet vir ewig geprys word! Amen, amen.”

Boodskap en betekenis

God se liefdesdade is ’n sterk getuienis daarvan dat Hy sy beloftes waar maak.  Die vraag is egter of dié beloftes in alle omstandighede waar gemaak kan of sal word.  Wat gebeur as die nageslag nie meer die Here dien nie?  Kan God dan ook nog sy beloftes waarmaak, dié beloftes wat hy aan die voorgeslagte gegee het?  Meer spesifiek, kan Israel staatmaak op voorkeur behandeling omdat God ’n verbond met hulle stamvader Dawid gesluit het?  En wat van ons?

Ons is geneig om ’n meer wit-swart oordeel te fel – reg of weg.  Die Psalmis weet egter dat só ’n aanpak altyd sal lei tot ’n verwerping.  Daarom pleit hy eintlik vir die onmoontlike hoop, dat God se liefde sy oordeel sal troef en daaroor sal triomfeer.  Dit is die gebed wat ons kan aangryp en vir onsself en vir ons mense kan bid.  Die hoop op God se onverdiende guns alleen.

En die bloed het op Golgota geloop om dít vir ons almal reg te kry … daarin lê ons verlossing.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda