Skip to main content

Esra 4:6-23

Die konflik oor die bou van die mure van die stad

Ons keer terug na Esra en lees die gedeelte in parenteses In Esra 4:6-23 wat handel oor die konflik oor die herbou van die mure van die stad in die tyd van Darius se seun, Ahasveros (sy Griekse naam is Xerxes – die tyd van Ester – vers 6 – 486-465 vC) en dié se seun Artasasta (sy Griekse naam is Artaxerxes – die tyd van Esra en Nehemia – vers 7-23 – 464-424 vC) beskryf.

Teks en konteks

Esra plaas die konflik in die konteks van die jarelange teenstand wat alreeds in Kores (559-530 vC) en Darius se tyd (522-486 vC)) die teruggekeerde ballinge onder druk geplaas het:

  1. Die eerste weerstand wat hy noem is dié geskrewe klag wat in die tyd van Ahasveros ingedien is, maar wat klaarblyklik op dowe ore geval het– vers 6.
  2. Die tweede weerstand wat hy noem, is die brief wat Bislam, Mitredat en Tabeël geskrywe het aan Artasasta, hoewel ons ook niks van die uitkoms daarvan verneem nie – vers 7.
  3. Die derde weerstand wat hy beskryf, het meer om die lyf en behels ook ‘n skrywe aan Artasasta, dié keer deur Regum en sy sekretaris Simai met groot steun van regters, goewerneurs en amptenare onder andere uit die Persiese stede, Babel en Susan, sowel as uit die gebied van Samaria en die Wes-Eufraat – vers 8 en verder.

Dit is ook in Aramees omdat dit die taal was waarin dié amptelike dokumentasie geskryf is. Terloops: Asenappar/Asnappar is ’n ander naam vir die Assiriese koning Assurbanipal (669-627 v.C.), wat Esarhaddon opgevolg het, net voor die noordryk in ballingskap gevoer is in die tyd van Salmaneser V.

Die inhoud van die brief word weergegee en daarin gaan dit duidelik oor die herbou van die mure van Jerusalem, nadat die tempel al voltooi is, ’n projek wat die vyande van die Jode wil beëindig.

Hulle kry dit dan ook reg, deurdat Artasasta positief op hulle versoek reageer, waarskynlik omdat hulle valslik sê dat daar geen belasting meer betaal sal word as die muur voltooi is nie en Artasasta herinner word aan die geskiedenis van opstand teen hulle vorige oorheersers.

Daarmee kry hulle verlof om die werk met mag en geweld tot stilstand te bring, hoewel die koning tog ’n agterdeur oophou vir ’n ander besluit in die toekoms op sy bevel.

Dit was dus die situasie tot en met die tyd van Nehemia waarin Artasasta inderdaad ’n bevel gee vir die herbou van die mure na die indringende vier maande lange gebedsworsteling van Nehemia.

Wat ons hieruit leer, is dat daar tog wel pogings was om die mure te herbou, voordat Nehemia op die toneel verskyn het, maar dat dit nie geslaagd was nie. Eers in 444 v.C. sou Nehemia by koning Artasasta verlof kry om die mure te gaan herbou, hoewel hy steeds deeglik rekening moes hou met die vyandskap van die nie-Israelitiese inwoners van die land.

Boodskap en betekenis

‘n Mens moet nooit dink dat as die Here jou ‘n opdrag gee dit half outomaties sonder konflik uitgevoer sal kan word nie. Die herbou van Jerusalem se mure was, soos die herbou van die tempel, ‘n Goddelike opdrag, maar dit het sterk teenstand van die volk van die land en die amptenary wat vir Juda verantwoordelik was, gekry.

Wat uitstaan van die Joodse leiers in dié tyd – Serubbabel, Jesua, ondersteun deur Haggai en Sagaria, en amper ‘n eeu later (539 tot 444 vC) ook Esra en Nehemia – is dat hulle volhard in gebed en gehoorsaamheid, selfs al het dit jare gevat voordat alles in plek geval het, en die mure in net 52 dae voltooi kon word deur Nehemia wat die volk daarvoor saamgesnoer het.

Ons leer ook watter strategieë die vyande van die Jode gebruik om hulle doelwitte te bereik: valse beskuldigings, misleidende inligting, sowel as politieke mag. Leuens werk kragtig en vernietigend en kan net deur die waarheid getroef word.

Ons leer egter ook hoe God te werk gaan in sulke uitmergelende eeuelange konflik. Sy tydsberekening is foutloos om Nehemia net op die regte tyd in ‘n posisie van mag te kry, hom te inspireer om te bid en in te val by God se wil, en dan met moed en durf op te tree.

Ons kan God vertrou selfs wanneer ons teenstand en vertragings ervaar. God se planne kan nie uiteindelik gefnuik word nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda