Skip to main content

Openbaring 15

God bevry sy kerk met sy verlossende oordeel

Openbaring 15 is ‘n kort hoofstuk wat die naderende einde van God se verlossende oordeel aankondig, met ‘n begeleidende lied van Moses en ‘n lied van die Lam wat die Here God, die Almagtige loof vir sy regverdigheid en betroubaarheid. Dit mond uit in die oordeel wat deur die sewe bakke met die laaste sewe plae van God uitgegiet word, waarvan Openbaring 16 ons vertel.

Teks en konteks

Sewe engele met die laaste sewe plae van God verskyn – Openbaring 15:1-4

Die einde van die verlossende oordeel wat in Openbaring 14 beskryf is, verskaf groot vreugde aan die gelowiges wat deel in die verlossing. Hulle sing die lied van Moses (vgl. Eks. 15 se soortgelyke lied oor die verlossing uit Egipte), waarmee hierdie oordele direk met die wyse waarop die plae in Egipte verlossing vir die Israeliete gebring het, verbind word (vgl. ook Deut. 32 wat Moses se lied met die Intog in Kanaän weergee).

Die lied van Moses is ook die lied van die Lam waarin God vir sy Almag, reg en betroubaarheid geloof word en as Koning van die nasies aanbid word. Daarmee word verkondig dat verlossing en oordeel kante van dieselfde munt is. Sonder die oordeel sal God se mense nie verlos word nie. Sonder die verlossing sal die oordeel nie sy doel bereik nie.

Die oordeel breek onafwendbaar aan – Openbaring 15:5-8

Johannes beskryf na ’n kort inleiding weer die finale oordeel, hierdie keer met ‘n visioen van sewe goue bakke met gloeiende kole wat ‘n simbool is van God se finale toorn wat op die aarde uitgegooi word. Dié sewe bakke met oordele word as sewe plae geteken wat God se oordeel voltooi wat hierdie keer veral in terme van Babilon (Rome) se vernietiging uitgespel word.

Die sewe engele het uit die tent van die getuienis (N.A.V. vertaal “woonplek van God”) gekom. Die woord getuienis in die oorspronklike Grieks verwys na die kliptafels van die wet wat in die ark in die tabernakel geplaas is en God se wil vir die lewe uitgespel het (Vgl. Lev. 16:13).

Die engele kom dus uit God se teenwoordigheid en volledig in lyn met sy geopenbaarde wil om die oordeel uit te deel. ‘n Mens moet ook hierin die ongetwyfelde verband tussen die wet van Moses op aarde en die wet van God in die hemel raaksien,

Die sewe engele ontvang van die vier lewende wesens, verteenwoordigend van die skepping en God se teenwoordigheid daarbinne, die sewe bakke met gloeiende kole van God se toorn. Dit kom ooreen met die vorige twee soortgelyke prosesse in Openb. 5:8 en 8:3-5 waar dit met die gebede van die gelowiges verbind word asook met vuur.

Dit lei tot groot ontsag vir God, uitgedruk met die beeld van die rook wat die tempel gevul het met die heerlikheid en mag van God. Die feit dat niemand in die tempel kon ingaan tot die oordeel voltrek is nie, dui waarskynlik op die onafwendbaarheid van die oordeel waarop God besluit het.

Boodskap en betekenis

Hierdie visioen beklemtoon die onafwendbaarheid van die oordeel en God se majesteit, wat gesien word in die rook wat die tempel vul en die feit dat niemand kan ingaan totdat die oordeel voltrek is nie. Openbaring 15 berei dus die weg voor vir die laaste sewe plae in Openbaring 16 en beklemtoon dat God se finale oordeel in lyn is met sy regverdige heilsplan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar