Skip to main content

Jesaja 58

God se mense laat medemense nie aan hul lot oor nie

Jesaja 58 is opgedeel in 5 dele en spreek die volgende sake aan. Dit is:

  1. ‘n Valse toewyding aan God sonder geregtigheid vir die naaste – Jesaja 58:1-3a
  2. ‘n Teregwysing oor hulle eie skandelike hantering van hulle naaste – Jesaja 58:3b-5
  3. ‘n Lering oor hoe hulle die Here kan dien in hulle naaste – Jesaja 58:6-7
  4. ‘n Belofte van God se voorsiening – Jesaja 58:8-12
  5. ‘n Belofte van God se teenwoordigheid – Jesaja 58:13-14

Teks en konteks

Jesaja 58:1-3a

‘n Valse toewyding aan God sonder geregtigheid vir die naaste beteken niks nie. Dit is die harde boodskap wat uitbasuin moet word aan die volk van die Here. Dit help nie jy raadpleeg die Here dag ná dag… sonder om ook om te gee vir jou naaste nie soos die Here verder uitspel.

Jesaja 58:3b-5

Hy wys hulle tereg oor hulle skandelike hantering van hulle naaste. Hulle misbruik hulle vasdae om ander uit te buit. Dit kan nooit die Here se goedkeuring wegdra nie.

Jesaja 58:6-7

Die Here gee dan vir hulle lering oor hoe hulle die Here kan dien deur hulle naaste te dien deur die “boeie van goddeloosheid” los te maak, verdruktes vry weg te stuur, vir hongeriges “jou brood” te breek, aan haweloses onderdak te bied nie, en mense sonder klere te bedek.

Jesaja 58:8-12

God koppel hieraan ‘n belofte van sy voorsiening: “Dan sal jou lig deurbreek soos die oggendskemering; en jou herstel sal spoedig aanbreek. Jou geregtigheid sal jou vooruitloop; die heerlikheid van die Here sal jou agterhoede dek.”

Hulle sal die wonder van gebedsverhoring leer ken en self God se voorsiening in oorvloed ervaar. Hulle lig sal in die duisternis skyn: “jou donkerte sal soos helder dag wees.” Hulle sal voortdurend deur die Here gelei word totdat al die “oeroue puinhope” herbou is.

Jesaja 58:13-14

Daarby word ‘n belofte van God se teenwoordigheid aan hulle, maar dan moet hulle Hom opsoek op die gereelde tye wat daar op die Sabbat vir die volk is om juis dit te doen. “Dan sal jy jou vreugde vind by die Here.

Boodskap en betekenis

‘n Mens kan hier duidelik sien wat vir God as egte godsdiens tel: Om te vra na God se wil en teenwoordigheid en te doen wat Hy vra in jou verhouding met ander mense.

Om geestelik te groei (te vas en te bid) moet altyd verbind bly aan jou optrede om sosiaal-maatskaplik op te tree.

Dit beteken volgens Jesaja om:

  • onreg uit te roei,
  • verdruktes vry te laat (dink aan mense wat onder geweld gebuk gaan of geboelie word, of mense wat sleg behandel word deur hulle werkgewers of hulle werk verloor),
  • hongeriges brood te gee (vgl Jesus wat die skares voed met brood),
  • armes en dakloses blyplek te gee (nie noodwendig jou eie huis nie, maar in ‘n skuiling teen die elemente waar hulle veilig kan wees en versorg kan word tot hulle op hulle eie bene kan staan),
  • mense sonder klere te klee.

Dit laat ‘n mens dink aan die verskil tussen die skape en die bokke in die profetiese rede: die laaste oordeel in Matteus 25 – hulle word in die hemel toegelaat weens hulle sensitiwiteit vir hulle naaste, meer spesifiek daar uitgespel as hulp aan die mense wat die Here dien, maar swaarkry.

God se mense laat dus hulle medemense nie aan hul lot oor nie.

Die gevolge vir die Godsvolk sal verreikend wees as hulle hieraan gehoorsaam sal wees. God sal op ‘n magtige manier ingryp en red. By wyse van spreke: die nag sal vir hulle word soos die helder middag. Die Here sal hulle lei en in al hulle behoeftes voorsien. Hulle sal vreugde en vrede vind in die Here en dit in hul eie land.

Dit is nogal ‘n belofte wat my aangryp. Sorg vir die randfigure in die samelewing – en let op dat dit nie in die eerste plek gaan oor die redes hoekom hulle in hul situasie beland het nie – en ervaar dat God ook vir jou sal sorg.

Dit is ook die belofte van Jesus in die Bergrede. Werk vir die koninkryk, en God sal jou seën – Matteus 6:33.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar