Skip to main content

1 Samuel 19

Die Gees maak Saul kragteloos

In hoofstuk 19 probeer Saul nie minder nie as agt keer om Dawid dood te maak! Hy probeer selfs vir Jonatan oorreed om Dawid te vermoor. Jonatan weier egter om só ‘n sonde te doen terwyl sy vriend onskuldig is. Saul begin al hoe meer wispelturig raak, selfs toe hy belowe om Dawid nie kwaad aan te doen nie. Hy gaan ’n rukkie later terug op sy woord soos hy reeds telkemale nie gehoorsaam was aan die woord van die Here nie. Dawid moet dus einde ten laaste vlug. Hy kon by Samuel in Rama kortstondig ‘n veilige hawe vind, maar sou hierna ‘n voorvlugtige word.

Teks en konteks

Jonatan se talle pogings om vrede te maak tussen Saul en Dawid is roerend. Hy waarsku nie net vir Dawid van sy pa se moorddadige planne nie, maar hy probeer sy pa oortuig om eerder die goeie raak te sien wat Dawid doen. “Trouens, sy optrede was grootliks tot u voordeel,” sê hy. Hy beklemtoon ook die feit dat die Here deur Dawid die oorwinning vir die hele Israel bewerk het. Om Dawid sonder rede dood te maak, sou verkeerd wees in die oë van die Here.

Maar, hoewel sy pogings aanvanklik die gewenste uitwerking het, hou Saul se goeie voornemens nie lank nie. Die bose gees van die Here het weer oor Saul gekom om Dawid kwaad aan te doen sodat Dawid voor die vegspies moes vlug. Selfs Migal moet dit ontgeld toe sy Dawid help om van die gevaar van Saul te ontsnap.

Migal se lewe verloop hierna baie tragies en haar verhouding met Dawid versuur rampspoedig.

  • Saul gee haar as straf aan ‘n ander man, Palti die seun van Lajis uit Gallim (1 Sam 25:44), maar met Dawid se uiteindelike kroning ‘n paar jaar later eis Dawid haar weer terug van Palti af. Roerend word daar oor Palti se hartseer geskryf toe Isboset vir Abner gestuur het om Migal by hom weg te vat: “Hy het saam met sy vrou geloop, huil-huil agter haar aan tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: ‘Gee pad! Loop terug!’ Hy het toe maar omgedraai.” (2 Sam 3:16).
  • Migal was duidelik ook nie tevrede met dié toedrag van sake nie en vervies haar op ’n keer vir Dawid toe dié voor die ark uitgeloop en gedans het en spreek haar misnoeë daarmee uit, waarop hy haar tot haar dood vermy het. “En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Migal nie ’n kind gehad nie.” (2 Sam 6:23).

Haar houding teenoor Dawid verander dus van baie verlief (1 Sam 18:20) na ’n diep veragting (1 Kron 15:29) en hulle verhouding van een van beskerming (1 Sam 19) na een van verwydering (2 Sam 6:23). Tragies.

Dawid sou later in Psalm 59 sy ervaringe dié nag met ons deel. Ons lees daarom hierna dié Psalm.

Dawid se vlug neem hom na Samuel in Rama vanwaar Samuel hom na Najot geneem het waar ’n groot groep profete gebly het. Drie keer het Saul gesante gestuur om Dawid daar te gaan vang, maar die krag van die Gees van God het te sterk geblyk vir hulle. Einde ten laaste het Saul self gegaan, maar ook hy het in geestesvervoering geraak, soveel so dat hy heeltemal kaal en kragteloos die nag daar deurgebring het.

Let op hoe die spreekwoord van vroeër: “Is Saul ook onder die profete?” (1 Sam 10:11) nou in ’n tweede betekenis gebruik word. Tydens die eerste geleentheid was die spreekwoord gebruik om te vra of die profete geskikte geselskap vir Saul is. Hierdie keer word dit gebruik om te vra of Saul geskikte geselskap vir die profete is!

Boodskap en betekenis

Die ligpunt in die verhaal is dat die Here Dawid beskerm deur sy Gees en deur mense wat vir Dawid omgee, Jonatan en Migal. Dit beteken nie dat Dawid dit hiervandaan maklik sou hê nie. Sy pad na die koningskap sou deur baie ontberinge lei. Maar, dit is duidelik, terwyl hy die pad met God loop, gee die Here wysheid en uitkoms al is die pad na die kroon ook met dorings besaai.

Dit wys ook hoe God sy plan met Israel juis in die konflik tussen Saul en Dawid laat ontvou. Ten spyte van Saul se pogings om Dawid te vernietig, beskerm God steeds vir Dawid en brei hom deur die ontberinge om Saul as ’n veel beter koning op te volg. God se beloftes is betroubaar. Hy sal sy wil daardeur laat geskied, selfs al gebeur dit te midde van moeilike omstandighede.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar